RESENSIE | Jong stemme styg uit in ‘bose’ opera

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nica Reinke as Mrs. Grose, Karabo Rabaloi as Miss Jessel en Onalenna Maelane as Miles in Benjamin Britten se “The Turn of the Screw”. Foto: Jaco Marais
Nica Reinke as Mrs. Grose, Karabo Rabaloi as Miss Jessel en Onalenna Maelane as Miles in Benjamin Britten se “The Turn of the Screw”. Foto: Jaco Marais

Opera: ‘The Turn of the Screw'. Met studente van Opera UCT. Baxter-teater, Rondebosch. Speelvak verby.

Dit is selde dat 'n mens jou in 'n opera so donker soos Benjamin Britten se kameropera The Turn of the Screw bevind. Mozart laat duiwels sy titelkarakter, Don Giovanni, na die onderwêreld sleep, en soms ontaard Verdi se politieke operas in dramatiese tragedies. Maar selfs dít klink lig teenoor The Turn of the Screw.

Die afgelope Woensdag tot Saterdag kon Kaapstadse gehore Opera UCT se nuwe produksie van dié opera beleef. Twee verskillende rolverdelings van jong operastudente het gewys hulle het die musikale vernuf om hierdie moeilike 20ste-eeuse opera aan te durf.

Britten (1913-1976) ontleen die verhaalgegewe uit 'n spookstorie deur Henry James en verklank dit in musiek wat deurgaans óf onheilspellend óf smalend boos oorkom. Deurentyd wakker die musiek jou vrese vir spoke en die onverklaarbare aan.

'n Jong kinderoppasser word aangestel om na twee kinders, Miles en Flora, om te sien. Maar gou besef sy alles is nie pluis nie - daar is meer as bloot geraamtes in die kas. Buite die huis sien sy 'n man dwaal, en die huishoudster, Mrs. Grose, vertel haar dit is oorlede Peter Quint, wat die twee kinders onheil aangedoen het. Die bleek spoke van Quint en Miss Jessel kruip telkens uit die kinders se kaste en probeer om hul siele te verswelg.

Jy begin wonder oor wat waar is en wat nie, wat werklik gebeur het en wat versinsels is, en wie kan nou eintlik die gedrogte uit die kaste sien en wie nie. Uiteindelik - soos dit 'n spookstorie betaam - lei alles tot 'n onafwendbare tragedie.

Harriet Taylor, 'n jong Amerikaanse regisseur, se inkleding bring die jukstaposisie van lig en donker na vore, maar hier is die bose in spierwit omhul terwyl die skynbaar onskuldiges in donker grys en swart leef.

Vuyisa Xipu verskyn agter as die bose Quint in ‘The Turn of the Screw'. Foto: Jaco Marais
Vuyisa Xipu verskyn agter as die bose Quint in ‘The Turn of the Screw'. Foto: Jaco Marais

Die stel, met 'n glasdammetjie in die middel, is eenvoudig en bly deurgaans staties, maar die wyse waarop die karakters dit bewoon, maak die inkleding dinamies. Die voorstelling van die twee spookkarakters laat 'n mens wonder of dit nie net 'n verbeeldingstog is nie.

Albei rolverdelings se sangers het hulle goed van hul taak gekwyt, maar Molly Dzangare as Governess (die kinderoppasser) het uitgestaan, asook Karabo Rabaloi en Setsoane Ntseki, wat op alternatiewe aande die rol van Miss Jessel vertolk het.

Ook moet die twee jong seuns uitgesonder word wat alternatiewelik die rol van Miles vertolk het, Onalenna Maelane en Alex Breslin. Hulle het die moeilike musiek met hul seunsopraanstemme innemend gesing en die gekwelde Miles puik vertolk.

Onder Jeremy Silver se leiding het die kamerorkes (met een speler per instrument) se spel bygedra om die onheilspellende verhaal nog killer te maak.

Britten is bekend om operas wat die swaarkry van die lewe na die verhoog bring, maar met The Turn of the Screw delf hy in donker dieptes - die psige van getraumatiseerde kinders (of is dit die oppasser wat getraumatiseerd is?) - om 'n opera te skep wat jou nie onaangeraak laat nie. Boonop is jy dalk net verlig oor die verlossing wat die tragedie aan die einde bring.

Wayne Muller

SPELETJIES VANDAG

CTA