Debbie Turner, dans-doyenne van Kaapstad, het aan die vooraand van die tweede dansseisoen van haar jong dansgeselskap met Laetitia Pople gesels.

Die nuwe Cape Ballet Africa-dansgeselskap bied binnekort 'n tweede reeks uitvoerings in die Kaap aan. Dit volg ná hul hoogs suksesvolle debuutseisoen, Salt, wat gehore in ekstase gehad het. Dis 'n woord wat ligtelik gebruik moet word, maar enigeen kon op die openingsaand in September sien hoe die dansgemeenskap dié jong geselskap met entoesiasme omarm.
Cape Ballet Africa, wat klassieke ballet in 'n Afrikakonteks herverbeel, is vroeër vanjaar deur Debbie Turner begin.
Sy is 'n dansdinamo wat daarna streef om 'n ballet-en-dansgeselskap te bestuur wat 'n wêreldreputasie gaan bou deur die trots van Afrika te wees. Daarom steun sy haar lewe lank sedert haar vroeë 20's sterk op gehalte-dansopleiding.
Uittreksels uit die gevierde Salt word nou van 8 tot 17 November in The Drama Factory in Somerset-Wes opgevoer. Die werke is geskep deur drie top-choreograwe, Kirsten Isenberg, Mthuthuzeli November en Michelle Reid.
Einde November is Cape Ballet Africa 'n gas van die Tribhangi-dansteater in Johannesburg in 'n dansprogram om dié klassieke Indiese dansgeselskap se 35ste bestaansjaar te vier. Die geleentheid is by die Universiteit van Johannesburg. Moving into Dance is die derde geselskap op die program.
"Dit is wonderlik om reeds in ons eerste bestaansjaar 'n klein voetspoor in 'n ander provinsie te laat. Daarby tree ons op in die groot teater as deel van 'n aktiewe en lewenskragtige kunsomgewing wat by die universiteit geskep is."

In Maart volgende jaar bied Cape Ballet Africa sy tweede seisoen in die Kunstekaap se Operahuis aan. Daar is 'n Spaanse tema aan verbonde, verklap Turner trots. Gehore kan weer 'n drieluik verwag met 'n voortsetting van die choreograaf Isenberg se Reverie, nou in ál drie dele. "Ons beplan ook om 'n uitvoering met die KFO, ten minste vir die openingsaand, aan te bied."
Voorts kan sy nie nou al uitwei oor die internasionale werk wat op die program gaan wees nie.
"Voordat die kontrakte geteken is, moet mens liefs niks sê nie. Wat ek wel kan sê, is dat die Spaanse ambassade betrokke is."
Die derde stuk is reeds in haar kop: "Ek moet 'n choreograaf vind vir dit wat ek wil hê."
Turner se hart klop Spaans. Haar beroepslewe is gewortel in onder meer Spaanse dans, 'n dansvorm wat baie sterk in die Wes-Kaap staan. "Spaanse dans is baie nou verwant aan die klassieke ballet hier. Elke kind van my generasie wat opgelei is in ballet het ook Spaanse dans by hul repertoire gevoeg. My balletonderwyser het ook Spaanse dansklasse aangebied. My mees betekenisvolle mentor was dame Mavis Becker, wat as die doyenne van Spaanse dans in Suid-Afrika beskou word."
Turner was 15 jaar in Becker se geselskap - saam met die ontslape Carolyn Holden (later van die La Rosa- Spaanse dansgeselskap), en Fahiem Stellenboom, bemarkingshoof van die Baxter.

Sy het al op drie begin dans. Daar was vir haar geen wegkomkans nie. Haar ouer suster is opgelei in die Italiaanse Cecchetti-dansstyl en het al sedert haar tienerjare haar eie balletskool bedryf. Albei susters het ook klas in ballet en Spaanse dans by Joy Shearer in Durban geneem.
"Op 16 was my suster 'n dansonderwyser. Sy het haar eie dansateljee oopgemaak en skool in gr. 11 verlaat. My ma het dit 'n balletmatriek genoem."
Destyds het baie dansers hul eie skole in motorhuise oopgemaak. "My pa het net ons motorhuis groter gemaak. Van 'n baie jong ouderdom het ek by die agterdeur van ons huis in die balletskool ingeloop. Ek kon dit nie ontsnap nie, en ek wou ook nie.
"My vroegste herinnering is van my suster se dansskool. Ek was in 'n klas, maar was te klein om deel te neem - my verbeelding het ontplof."
Haar suster het ook haar eie kostuums gemaak. Daar was naaldwerk-hopies en stapeltjies balletskoene wat deur haar ma gekleur is in verskillende kleure. "Ek het in 'n balletomgewing geleef vandat ek baie klein was."
Dit maak nie saak hoe talentvol jy is nie, jy moet elke dag oefen en dans.
Later het hulle Kaap toe getrek. "Ek het na die UK se balletskool gegaan toe ek 10 was. Ek het ook Spaanse dans by Becker gedoen. Ek was 16 toe ek al my lesse voltooi het by Becker, van 12 het ek ook kontemporêre dans gedoen en van 17 ook Latyns-Amerikaanse danse."
Ná 'n sekere ouderdom glo sy is dans baie harde werk. "Rondom 16 moet jy als in die stryd werp om te bly dans, en dit maak nie saak hoe talentvol jy is nie, jy moet elke dag oefen en dans.
"Ons is nooit huis toe ná skool nie. Ek was in die motor of op 'n trein of 'n bus op pad na 'n volgende klas. My ma het my van les na les aangery. Dit verg baie selfdissipline. As ek nou terugkyk, is ek baie dankbaar vir my opvoeding en die dissipline."
Daar was nog nie televisie en die afleidings wat daar vandag is nie, en haar ouers was streng.
"As jy iets gekies het, moes jy klaarmaak, of jy neem dit nooit weer op nie.
"Ek het talle invloede van 'n baie jong ouderdom gehad. Benewens die dansklasse wat eintlik in my skoot beland het, het ons ook na balletmusiek geluister, al die Spaanse komponiste. My pa was 'n groot liefhebber van jazzmusiek en die crooners soos Frank Sinatra, en my ouma het ons aan opera bekend gestel - dit is asof my hele lewe gerig is deur die musiek waarna ons geluister het."
Dit het 'n reuse-invloed op haar regie en sin vir choreografie gehad.
"As ek in die motor ry, sal ek dadelik wil weet watter musiek is dit wat gespeel word, of wie se weergawe dit is of wie dirigeer dit. Ek sal ook Fine Music Radio bel as Shazam niks oplewer nie."
Sy het net vir 'n kort rukkie aan die Universiteit van Kaapstad klasgedraf in sosiale antropologie voordat sy haar pa gevra het of sy kon opskop. "Ek het steeds talle dansklasse bygewoon en bedags klasse by die universiteit. Als op kampus was vir my baie deurmekaar en ek het nie genoeg tyd vir dans gehad nie. Hy het ingestem, maar op die eerste dag ná die besluit het hy gesê ek moet 'n werk gaan soek - dat ek nie net heeldag kan dans nie."
Ek kan die vonk sien in jong dansers - ek lei en help om die boompie te vorm.
Op 18 het sy by Barclays Bank in Strandstraat begin en daar gewerk totdat sy in 1985 op 21 haar eie dansskool geopen het. Sy het die Cape Academy of Performing Arts, waar honderde dansers opgelei is, 35 jaar bestuur. Sy het die deure daarvan in 2021 tydens die Covid-19-pandemie gesluit.
"Ek kan die vonk sien in jong dansers - ek lei en help om die boompie te vorm. Ons verdrink in talent in hierdie land - daar kan tientalle geselskappe wees. Ek glo ons geselskappe moet ook dapperder word in wat hulle aanbied vir gehore. Met Cape Ballet Africa wil ek op 'n diverse repertoire met gehaltewerk fokus."
Dans is religie vir my, ek het baie bewondering en respek daarvoor.
Die jong geselskap trek binnekort na hul eie ruimte.
Aan die vooraand van haar 60ste verjaardag en die sogenaamde derde hoofstuk van haar lewe het Turner geen berou oor haar keuses nie, daar was harde gesprekke met haarself. Veral ná haar betrokkenheid by die Kaapstadse Stadsballet en haar bedanking as die geselskap se artistieke direkteur. "Dit was 18 maande van ontwrigting, maar daar was ook tyd vir besinning. Dans is religie vir my, ek het baie bewondering en respek daarvoor. Ek sal altyd daarby betrokke wil wees op die een of ander manier totdat ek nie meer hier is nie."
• Salt word op 8, 9, 15 en 16 November om 19:30 opgevoer, op 9 en 16 November om 15:00 en op 10 en 17 November om 16:00. Bespreek hier of kontak 073 215 2290.















