Die lange wintervakansie is hier en ouers soek naarstiglik na interessante en leersame aktiwiteite om hul krose mee doenig te hou tydens hierdie tyd.
Netwerk24 het 'n lys van vakansie-doendinge saamgestel in Kaapstad sowel as Johannesburg en Pretoria.
Kaapstad
• Pampoenpit se groen gevoel asook die Engelse weergawe daarvan, Pumpkin Finds Her Kindness, is by die Drama Factory in Somerset-Wes op die planke.
Die kinderteaterstuk is gebaseer op die bekroonde kinderboek Pumpkin Finds Her Kindness, en dit is 'n mini-musiekblyspel vir die hele gesin.
Regie deur die skrywer en akteur Bianca Flanders en die rolverdeling sluit in Anzio September, Margo Kotze en Miché van Wyk.
Pumpkin Finds Her Kindness word opgevoer van 20 tot 22 Junie terwyl Pampoenpit se groen gevoel op 21 en 22 Junie opgevoer word.
Kaartjiebesprekings kan gemaak word by www.thedramafactory.co.za of kontak 073 215 2290.
• Die oorspronklike kort animasiefliek The Whimsical Beanstalk is nou aangepas tot 'n vollengte toneelstuk vir die hele gesin.
Die produksie, wat poppe en akteurs insluit, is van 20 tot 29 Junie by Kunstekaap op die planke.

• Die avonture van The Little Mermaid word van 15 tot 7 Julie in die Canal Walk-teater na die verhoog gebring.
In die klassieke verhaal deur Hans Christian Andersen droom 'n 18-jarige meermin daarvan om op land te woon. Sy trotseer haar pa, die Seekoning, waag dit na die oppervlak, sien 'n skip met 'n aantreklike prins en raak op 'n afstand verlief op hom. 'n Groot storm breek uit, en sy red die prins. Sy gaan 'n gewaagde ooreenkoms aan met die seeheks, Ursula, om drie dae lank 'n mens te word. Wanneer sy in 'n penarie beland, moet die Seekoning die uiteindelike opoffering vir sy dogter maak.
Kaartjies kos R110 elk en is beskikbaar by Webtickets.
• The Garfield Movie wys ook tans in fliekteaters.

Die hele gesin kan op 29 Junie, ook by Canal Walk, die snaakse duo Gru & Kevin van Despicable Me ontmoet en 'n kiekie neem. Hulle sal om 15:30 en om 18:00 op die boonste vlak oorkant die Freedom Adventure-area wees.
Despicable Me 4 sal ook op 28 Junie in fliekteaters draai.
• As jou kinders kunstig is, kan jy hulle op 29 Junie van 10:00 tot 12:00 na PNA in Canal Walk neem waar hulle kan skets en verf.
Die sessie kos R200 en besprekings kan gemaak word by 078 901 7452.
• 'n Reeks interessante kunsslypskole vir kinders word in die skoolvakansie by die Zeitz MOCAA Centre for Art Education aangebied.
Die vakansieprogram is ontwerp as 'n oop ateljee waar kinders 'n keuse van allerlei aktiwiteite in dieselfde ruimte gebied word. Slypskole is oop vir alle kinders van ses tot 16 jaar oud. Die werkswinkel begin elke dag om 10:15 en duur ononderbroke tot 13:00.
Kinders kan bly so lank as wat hulle wil en dit is gratis as hulle deur 'n volwassene vergesel word.

Die koster vir volwassenes is R250 per inskrywing of gratis met lidmaatskap (R390 per persoon). Jy moet 'n geldige lidmaatskapkaart saambring om deel te neem aan die werkswinkel. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets.
• Kunstekaap het 'n reeks produksies wat daarna streef om die diverse stemme en talente van Suid-Afrikaanse jeug te vier en versterk.
Die Youth Jazz-reeks, wat vanjaar mondig word, word op 20 en 21 Junie aangebied. Kaartjies kos tussen R50 en R90.
The Little Giants is vanaf 14 tot 15 Junie in aksie en hulle gaan 'n boeiende jazz-program aanbied.
Cape Town's Most Wanted gaan teatergangers vermaak met hul beste hip-hop-danspassies. Hulle is van 27 tot 29 Junie in aksie.
Die Khayelitsha-modeweek keer op 29 Junie terug met talentvolle jong ontwerpers uit voorheenbenadeelde gemeenskappe en die breër Kaapse Vlakte.
Die Unbelievable Magic Show word op 8 en 9 Junie gehou.
Die Jeugmaand-kunsuitstalling duur van 11 Junie tot 5 Julie en stel die werk van jong talent van oor die Wes-Kaap heen in 'n reeks mediums soos fotografie, tekstielkuns, uitvoeringskuns en skilderkuns ten toon.
Kaartjies vir die verskeie Jeugmaandproduksies is beskikbaar by Webtickets.
Johannesburg
• Kinders kan 'n klomp interessante dinge by Magonjatjie leer in Magonjatjie en die Dinosourusse wanneer dit op 26 Junie om 10:00 by die Pierneef-teater op die planke is.
Kaartjies kos R95 vir volwassenes en R85 vir kinders.
Besprekings kan gemaak word by info@pierneefteater.co.za of op WhatsApp by 072 460 5568.
• Die geliefde houtpop Pinocchio kom kuier van 14 Junie tot 6 Julie by die Pierneef-teater. Die komediant en akteur Soli Philander is in die toneelstuk te sien. Kaartjies kos R130 vir volwassenes en R110 vir kinders. Kinders onder twee word gratis toegelaat.
Besprekings kan gemaak word by info@pierneefteater.co.za of op WhatsApp by 072 460 5568.

• Liewe Heksie, aangebied deur Lefra Produksies, is op 21 Junie by die Afriforum-teater met twee vertonings om 09:30 en 12:30.
Kaartjies is beskikbaar by.https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1548122871.
Skoonlief en die Ondier is op 6 Julie in die Afriforum-teater op die planke, met twee vertonings om 10:30 en 14:30.
Kaartjies is beskikbaar by. https://afriforumteater.co.za/event-details?event=skoonlief-en-die-ondier
• Disney se Winnie The Pooh sal van 11 Junie tot 28 Julie in die Peoples Theatre op die planke wees.
Kaartjies is beskikbaar by.https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1547411749.
•Die Iziko: Nasionale Kunsmuseum en die Nasionale Museum in die Kompanjietuin in Kaapstad bied 'n winterskoolprogram aan wat van 24 Junie tot 27 Julie duur elke dag van 10:00 tot 13:00. Navrae: Wardah Harris per epos bookings@iziko.org.za of skakel021 481 3823


















