Herman Mashaba, leier van ActionSA, gaan ook deelneem aan die aktualiteitsreeks van Aardklop en Beeld,Die Pad na 2024.
Barnard Beukman, redakteur van Beeld, voer op Vrydag 7 Oktober om 15:00 in Linden, Johannesburg, 'n onderhoud met Mashaba oor die onderwerp. Feesgangers wat dit bywoon, sal ook vrae kan stel.
Die twee ander deelnemers aan die reeks is Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad (Donderdag 6 Oktober om 15:00), en dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier (Saterdag 8 Oktober om 15:00). Al drie gesprekke is in die tuin van die restaurant Paputzis.
"Uit hul briewe en SMS'e aan ons blyk dit lesers sien die ANC wankel. Maar hulle is bekommerd oor of die opposisie 'n haalbare alternatief in plek kry. Kom ons vra die vrae," het Beukman gesê. - Beeld-redaksie





















