Vragte admin wag ná Innibos

John-Anthony Boerma, kunskurator en Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.
John-Anthony Boerma, kunskurator en Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. (Peter-Hugh Burrell)

Byna net soveel logistieke beplanning gaan daarin om die feesterrein af te slaan as wat dit geverg het om Innibos 2017 aan te bied.

Die jaarlikse kunstefees wat in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aangebied word, het Saterdag amptelik ten einde geloop met 'n gospelkonsert, Loof Hom Innibos, wat Sondagaand gratis aangebied is.

Maandag het die groot afslaan begin.

"Ons het 1,5 km tuisgemaakte vlaggies wat ons moet oprol en 22 000 stukke materiaal waarmee die feesstalletjies versier was," sê Alison Linde, stalletjiebestuurder van Innibos.

Sy sê die 160 uitstallers, wat alles van kos tot skilderye insluit, het in die algemeen positiewe terugvoering gegee. "Met die ekonomie wat druk, het party beter gevaar as ander, maar ons is baie dankbaar vir elke uitstaller wat die fees bygewoon het en elke feesganger wat hulle besoek het. Van die uitstallers kom so ver as Kaapstad."

Die amptelike bywoningsyfer vir vanjaar moet nog geoudit word, maar dit lyk of Saterdag in die besonder goed bygewoon is met 1 000 meer besoekers as in 2016.

Bobby van Jaarsveld was een van die 34 vermaaklikheidskunstenaars op Innibos se hoofverhoog.
Bobby van Jaarsveld was een van die 34 vermaaklikheidskunstenaars op Innibos se hoofverhoog.

"Ons geraamde bywoningsyfer vir die vier feesdae is 101 600 besoekers," sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.

"Ons hou Dinsdagoggend 'n nabetragtingsvergadering en dan begin die werk aan Innibos 2018."

Volgens Jacobs was 2017 'n uitsonderlike "maklike" jaar ondanks die logistiek om tientalle toneel-, musiek- en vermaakproduksies op die planke te kry.

"Dit was baie voorspoedig. Ek moet sê hierdie jaar het ons die minste klagtes of negatiewe kommentaar nóg gekry. Daar is altyd 'n paar goedjies wat agter die skerms dalk nie reg loop nie, maar wat die oog nie sien nie, sal die hart nie van weet nie."

Die nuwighede wat by vanjaar se fees aangebied is, het groot aftrek gekry.

"Ons het baie goeie terugvoering gekry oor onder meer die kinderboeke-crawl, die township-crawl en boerdery-crawl en sal daarop voortbou. Die handwerkkompetisie, wat vanjaar 700 inskrywings van oor die land getrek het, sal beslis ook weer aangebied word," sê Jacobs.

Die fees hou groot geldelike voordeel in vir Mbombela.

Refentse was een van die sangers by Loof Hom Innibos Sondag.
Refentse was een van die sangers by Loof Hom Innibos Sondag.

"Volgens die Tourism Research in Economic Environs and Society (Trees) van die Noordwes-Universiteit kan die totale ekonomiese inset in die gemeenskap in 2016 bereken word op sowat R85 miljoen. Dit sluit in geld wat in onder meer die kleinhandelbedryf, op brandstof, by restaurante en aan verblyf bestee word," sê Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos.

Hy sê in 'n verklaring die fees skep ook talle werkgeleenthede. "Tydens die fees word sowat 800 regstreekse werkgeleenthede geskep. Dit sluit tegnici soos klank- en beligtingsmense uit, sowel as diegene wat bykomend in diens geneem word by sakeondernemings in die dorp om tydens die besige feestyd dienste te lewer. Voorkeur word ook gegee aan plaaslike diensverskaffers en bykomende klank- en beligting, byvoorbeeld, word slegs van elders gekry indien die vraag die aanbod oorskry."

Die feesdatums vir Innibos 2018 is reeds bekend gemaak. Dit word van 27 tot 30 Junie gehou en val saam met die skoolvakansie.

Alet Joubert

SPELETJIES VANDAG

CTA