Kalfiefees vier 25 jaar met propvol program

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rocco de Villiers en Coenie de Villiers se musiekvertoning ‘88’ is vanjaar te sien op die Kalfiefees in Hermanus.  Foto: Jaco Marais
Rocco de Villiers en Coenie de Villiers se musiekvertoning ‘88’ is vanjaar te sien op die Kalfiefees in Hermanus. Foto: Jaco Marais

Die Kalfiefees in Hermanus het Sondag sy 25ste feesprogram bekend gestel, en met die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal op die horison is daar geen beter tyd om die rykdom van Afrikaanse kuns en kultuur te vier nie.

Vanjaar se program sluit 'n verskeidenheid van kunsvorme in, van musiek tot visuele kunste en teater, en die bekendstelling van die fees se program is met 'n spesiale Die Vyftigers-konsert gevier.

Vir hierdie konsert het vier ikone van die Afrikaanse musiekbedryf saamgewerk - Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal, wat almal in 2025 hul 50ste verjaardag vier. Saam op die verhoog as Die Vyftigers, het hulle 'n unieke geleentheid gebied om die afgelope 25, 50 en 100 jaar van Afrikaanse kultuur te dekonstrueer, te vier en te beleef.

Vanjaar word dié fees van 1 tot 10 Augustus in die skilderagtige Hermanus gehou.

Hester Finberg, die feesdirekteur, skryf in die voorwoord dat die Kalfiefees oor die jare van krag tot krag gegaan het, en sy bydrae tot die kunste in die algemeen en Afrikaans in die besonder aanhou toeneem. Verlede jaar het die Kalfiefees byna drie keer soveel kaartjies verkoop as in 2023, en die getal optredes het van 36 tot 59 toegeneem.

"Benewens gevestigde kunstenaars - wat vanjaar groot name soos Pieter-Dirk Uys, Sandra Prinsloo, Marion Holm, Nataniël, Amanda Strydom, Antoinette Kellermann en Frank Opperman insluit - werk ons ook hard aan die ontwikkeling en ondersteuning van plaaslike talent. Ons skep 'n ruimte vir jong kunstenaars en akteurs om hul vaardighede te ontwikkel, en bied ook 'n ruimte vir plaaslike leerlinge en die jeug om in professionele produksies op te tree. Verder maak ons 'n beduidende bydrae tot plaaslike ontwikkelingsprojekte deur van ons wins terug te ploeg in die ondersteuning van uitgesoekte projekte."

Vereer ikone

Die Kalfiefees is vanjaar 25 jaar oud en om dit te vier, vereer hulle 25 ikone in die kunstenaarsbedryf.

Die 25 ikone wat vereer word, is Breyten Breytenbach, Katinka Heyns, Chris Barnard, Marius Weyers, Evette Weyers, Jan Rabie, Marjorie Wallace, Uys Krige, Gregoire Boonzaaier, Ingrid Jonker, Etienne le Roux, Pieter Cilliers, Philip de Vos, Kerneels Breytenbach, Pierre van Pletzen, Anton Goosen, Petrovna Metelerkamp, Trix Pienaar, Hennie Niemann, Carel Trichardt, Petru Wessels, Wilna Snyman, Cobus Rossouw, Sandra Kotzé en Marco van der Colff.

Die 25ste Kalfiefees spog met 'n propvol program wat musiek, boeke, teater, kinderteater en kabaret-vertonings insluit.

Stephanie Baartman Foto: Argief
Stephanie Baartman Foto: Argief

Musiek

Nataniël bring sy nuutste stories en musiek na Hermanus met die vertoning Nataniël in Concert. Marcel Dednam sal hom op die klavier begelei.

Pinotage en die klank van Afrikaans met Jak de Priester, Churchil Naudé en Die Wasgoedlyn met Naudé en Riku Lätti, en Hartsbriewe met Coenraad Rall en Hannes van Wyk is van die musiekvertonings waarna mense kan uitsien.

Hoort met Stephanie Baartman, en 88 met Rocco de Villiers en Coenie de Villiers, wat pas by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 'n draai gemaak het, is ook by die Kalfiefees te sien.

Op die musiekspyskaart is onder meer Vrou, Vrouer, Vrouste met Petronel Baard en Lidi de Waal, Rooidag met Leon Gropp en Marcel Dednam op die klavier, Swerwersongs met Pietman Geldenhuys en Anna Davel, asook Afrikaans my Hart met Minette du Toit, Niel Rademan, Elna van der Merwe, Zanta Hofmeyr, Jeanne-Louise Moolman en Suzette Mouton.

Boeke

Van die boeke wat op die Kalfiefees bespreek gaan word, is Julian Jansen se Deveney Nel, Antjie Krog se Binnerym van Bloed, Bettina Wyngaard se Knal, Dana Snyman se Seun en Die dood van Rachel April deur P.P. Fourie.

Teater

Kyk ‘Hans bars die Bioborrel' met Tiaan Slabbert op die Kalfiefees. Foto: Argief
Kyk ‘Hans bars die Bioborrel' met Tiaan Slabbert op die Kalfiefees. Foto: Argief

Op die planke is Pieter-Dirk Uys met sy vertoning Evita, Kry vir jou 'n tux, Thomas met Marion Holm en Dean Smith, Forte met Rika Sennett en Jacques Adriaanse, I can buy myself flowers met Erika Breytenbach, Kameras, konserte en kleedkamerstories met Lizz Meiring, Seun met Dana Snyman en Hans bars die Bioborrel met Tiaan Slabbert. Meiring is ook te sien in die vertoning Afrikaans 100.

Die toneelstuk Hortjies Dig: Die storie van Peter Blum met Chris van Niekerk en Joanie Combrink sal ná sy Suidoosterfees-speelvlak na die Kalfiefees verskuif. Amore Bekker is ook te sien in Bacchus tot Bekker.

Die eenvrouvertoning Marion Monroe met Marion Holm sal ook by die fees op die planke wees.

Vir die kinders sal die gewilde toneelstuk Liewe Heksie en die Wals met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl vermaak bied.

Kuns

Drie uiteenlopende kunstenaars, Therese Rink, Hennie Niemann sr. en Lidi de Waal, gee van 2 tot 9 Augustus tydens die Kalfiefees hul kreatiewe wêrelde lewe met 'n unieke uitstalling.

‘Liewe Heksie en die Wals'met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl is ook by die Kalfiefees op die planke. Foto: Argief
‘Liewe Heksie en die Wals'met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl is ook by die Kalfiefees op die planke. Foto: Argief

SPELETJIES VANDAG

CTA