Aucamp kan ook smeul

Die groep Mr Cat & the Jackal maak musiek wat jou tone laat krul. Hulle tower prentjies op wat jou nuut na selfs die antieke laat kyk.

Op die Suidoosterfees was hulle betrokke by die produksies Die vlammende fez en Aucamp!

Van links is JC Visser, Gertjie Besselsen en Jacques du Plessis van Mr Cat & the Jackal.Foto: Vetman van der Naam
Van links is JC Visser, Gertjie Besselsen en Jacques du Plessis van Mr Cat & the Jackal.Foto: Vetman van der Naam

In eersgenoemde het hulle die woorde van I.D. du Plessis laat rock en bons; aan ou vergete gedigte nuwe lewe gegee. En die gedig oor die juiste vlammende fez met drama en intensiteit laat gloei.

In die program Aucamp! het hulle eweneens die woorde van Hennie Aucamp opnuut laat smeul. En as 'n mens jou nie misgis nie, was daar selfs 'n paar metal-agtige klanke te hoor.

Daar was die meer bekendes soos "Net 'n bietjie liefde", "Mamma ek wil 'n man hê" en "Klaaglied van 'n moeder".

Sommige was minder bekend, maar steeds ewe aangrypend.

Moenie dink Aucamp het ou en vergete kwessies getakel nie. Hier is duidelik nog die temas van geweld, seksuele emansipasie en gemeenskaplike probleme wat nie met die tyd gewyk het nie. Dis reg en goed dat hulle op 'n nuwe manier in die kollig geplaas word.

Hierdie produksie verdien 'n wyer kringloop en groter gehore. Die Suidoosterfees is hopelik net die begin van nog optredes, maar ook 'n program wat met vrug langer kan wees.

Mariana Malan

SPELETJIES VANDAG

CTA