Gaan groot! Die Suidoosterfees word 20 en dit moet behoorlik gevier word.
Dié gedagte kom by 'n mens op wanneer jy die musiekaanbod op die fees se program bekyk.

'n Koorkonsert met 100 sangers op die verhoog is 'n voorbeeld van dink groot en gaan groot.
Ander aanbiedinge wat nie daarvoor terugstaan nie, is die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes met 'n mengelmoes-kardoes-konsert en meer.
Die Suidoosterfees vind van 26 April tot 1 Mei in die Kunstekaap plaas en begin met 'n spesiale openingsgeleentheid ter viering van dié mylpaal. In die gees van die fees word jonk en oud, ontluikend en gevestig, aspirant en legendaries, bymekaargebring, wat duidelik in die konserte weerspieël word.
Hier volg hoogtepunte op die musiekprogram. Al die vertonings is in die Kunstekaap-operahuis. Kaartjies kos
R140 en R100 en besprekings is by Computicket.
Afskopkonsert met die KFJO
Die soliste wat saam met die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes optree, is Marc Lottering, Elandré, Brittany Smith, Edith Plaatjies, Anslin Gysman, Sunday Kelechi (tjello), Donné de Kock (viool) en die wenners van die Nasionale Jeugmusiek-kompetisie, Esihle Mthethwa (fluit), Qden Blaauw en Mike Wang, albei pianiste.
• 26 April om 20:00
Suidooster Stormsterk 2
Verlede jaar se Stormsterkkonsert was sterk genoeg om vanjaar 'n opvolg binne te waai. Bekende sepiesterre wat weer danspassies en sang uit hul repertorium gaan haal, is Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer, Simone Biscombe, Irshaad Ally en studente van The Stage Performing Arts Studio.
Yolande Rabe is die regisseur en Braeden Buys die choreograaf.
• 29 April om 17:00
Koorgala
Die ATKV-koorgala bring die wenkore in die ATKV se Suidoosterfeeskompetisie en instrumentaliste saam op die verhoog.
Niël Rademan, die man aan die stuur van die produksie, sê die idee is om amateurkore uit die Wes-Kaap saam met professionele musici te laat optree. Van die bekendstes is die pianiste Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins, Piet de Beer (violis) en die sangers Zanne Stapelberg (sopraan), Brittany Smith (sopraan) en Conroy Scott (bariton).
Daar is ook drie massakooritems wat Kurt Haupt sal dirigeer.
• 30 April 17:00

Konsert van hoop
'n Skouspel van ligte musiek, klassieke nommers, opera-uittreksels en dans is geskep om Vryheidsdag te vier. Die sangers, almal wonderlik veelsydig, is Vicky Sampson, Brandon October, Louis Loock, Anna Davel en Zimbini Ndiyehlela, asook die Talentsoektog-finaliste Bilqees du Plessis en Caitlyn White.
Dansers van SboNdaba en Dance for All sal onder die kreatiewe oog van die choreograaf Elvis Sibeko die verhoog vol dans met die instrumentaliste Schalk Joubert (baskitaar), Blake Hellaby (klavier), Kevin Gibson (tromme), Frank Freeman (kitaar) en Anjulie Vos (tjello) wat die musiek verskaf.
• 27 April om 13:00
Soomloos
Sowat 50 musici van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en 'n handvol sangers herdenk een van die fees se stigterslede, Jakes Gerwel, wie se woorde steeds gestand gedoen word. Hy het gesê: "Soomloos - om in Afrikaans saam te kuier met almal wat saam met ons wil kuier."
Die bekendstes onder die Afrikaanse sangers tree op - Amanda Strydom, Tarryn Lamb, Lynelle Kenned, Francois van Coke, Emo Adams, Craig Lucas, Early B, Dean Balie en Thandolwethu Longo.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US-Woordfees, het die teks geskryf, die regisseur is Nico Scheepers en die
musiekregisseur is Stefan Lombard.
• 1 Mei om 16:30
20 Musical Moments
André Schwartz, weer die nagtegaal Lynelle Kenned, Emo Adams en 'n vokale ensemble met afgestudeerde studente van Northlink Kollege se dramadepartement sing 20 van die mooiste treffers uit musiekspele, waaronder Phantom of the Opera, Les Misérables, Hair, Sound of Music en ook Once on This Island.
'n Orkes en twee klaviere met Niël Rademan die een pianis staan die sangers by. Rademan is ook die regisseur.
• 27 April om 16:00

The Big Bash Theory
Vir musiek, dans en komedie hoef jy nie verder te soek as die mengelmoeskardoes-vertoning met Emo Adams, Loukmaan Adams, Jarrad Ricketts, Berry, Quintin Manuels, Tracey Lange en Donvino Prins nie.
Trevino Isaacs is die regisseur.
• 27 April om 20:00
House of Rhythm
Jazz is altyd gewild op die Suidoosterfees en vanjaar is die US Jazzband op die verhoog met die soliste Timothy Moloi, Danie Reënwolf, Marcus Wyatt en Louis Mhlanga. Bianca Flanders is die storieverteller en Melissa van der Spuy die musiekregisseur.
• 30 April om 20:00
L'inganno felice
Dié eenbedryf-opera van Gioachino Rossini word opgevoer met studente van die Universiteit van Kaapstad se Operaskool.
Soos die meeste operastorielyne gaan hierdie een ook oor liefde, verraad en verdagmakery. Die hoofkarakters is Ormondo, vertroueling van graaf Bertrando, en sy vrou Isabella, op wie Ormondo heimlik 'n ogie het.
Sy word ontvoer, 'n mynwerker red haar en daarna begin die poppe dans.
Christine Crous is die regisseur.
* 28 April om 20:00
Stellenbosch Universiteitskoor
Dié koor beklee sedert 2012 die eerste plek op die Interkultur-ranglys van 1 000 kore. Saam met hul dirigent, André van der Merwe, beloof hulle om weer 'n uithaler-vertoning te lewer.
• 1 Mei om 20:30












