
Kaapstad. - Van Woensdag gaan dit hier klop-klop met musikale klanke en die hartsnare gaan behoorlik roer met drama uit die hart van die stad se geskiedenis.
Die 13de Suidoosterfees (van Woensdag tot Sondag) bring dit en meer na elkeen se voorstoep en niemand het 'n verskoning om weg te bly nie. Selfs al het jy nie 'n sent in jou sak nie, is daar genoeg gratis vermaak op die piazza voor die Kunstekaap sodat niemand droëbek hoef te sit nie.
Jong talent is volop op die fees. In die Kunstekaap-arena is Kalahari Swaanop die planke wat handel oor 'n jong mynwerker se droom oor 'n beter lewe vir hom en sy gesin. Die produksie Nommer Tweebied 'n kombinasie van sketskomedie en skerpskerts met die hedendaagse Distrik Ses as agtergrond. Dit lot van kinders in Grassy Park kom in Natonder die loep en Adam Small se Joanie Galant-hulleroep die gedwonge verskuiwing uit Distrik Ses in herinnering.
As daar gekies moet word uit die verskillende ligte musiekprogramme, wag 'n moeilike keuse op jou. Laurika Rauch en Elvis Blue tree op, so ook David Kramer, wat die program Onder die spanspekgeel maan aanbied. Emo Adams is op die program en Hemelbesem se gewilde program Die Afrikaansvatter beloof om een van die hoogtepunte te wees. Moet ook nie Tramakassie! misloop nie. Dit word as 'n Kaaps-Maleise musiekspel met ou gunstelinge en nuwe musiek beskryf.
Op 'n ernstiger noot is daar vir drama-liefhebbers die eenpersoonstuk van Vinette Ebrahim waarin sy die lot en lewe van 'n bergie op Groentemarkplein in die stuk Invisible weergee.
Die vlagskip-produksie is Kristalvlakte, 'n opdragstuk wat geskryf is om die lewe en werk van wyle Jakes Gerwel te vier. Amy Jephta is die dramaturg. Dit speel op die Kaapse Vlakte af waar Priscilla (Ilse Klink) haar gesin probeer onderhou met onderhandse smousery midde in bendegeweld in die gebied.
Charles Fourie bring die sielkundige riller Wond na die verhoog met David Johnson en Dominique Fourie in die rolverdeling.
Met Distrik Ses vanjaar as die tema van die fees is die woongebied, sy geskiedenis en mense wat van daar af kom die tema van meer as die helfte van die produksies. Die opera La Bohéme speel hier af, daar 'n klassiekemusiekprogram opgedra aan operasangers, dansers en mense uit die vermaakbedryf wat uit Distrik Ses kom (Distrik 6 Klassique). In Hunkering na die Ses word met stem en klavier werke uit musiekspele gebring wat resoneer met die geskiedenis van die gebied. Albert Combrink begelei Lynelle Kenned en Clint Lesch op die klavier.
Daar word vanjaar vier pryse toegeken: die ATKV-lewensbydrae, die Rapport Skouerklop, die Distell Jong ster en die kykNET & Kie vir die beste akteur of aktrise. Die pryse word op Sondag 1 Mei by die ATKV-koorgala-afsluitingskonsert in die Kunstekaap-operahuis oorhandig.
Bespreek by Computicket.

















