John Bird, die komediant en akteur wat veral in die 1960's een van die sterre in die bloeitydperk van satire op Britse televisie was, is op 24 Desember dood. Hy was 86 jaar oud.
Volgens 'n verklaring is hy in die Pendean-versorgingsoord dood. Hy sal begrawe word nadat sy familie eers sy lewe gevier het.
Bird het dikwels opgetree saam met sy universiteitsvriend John Fortune, wat nege jaar gelede op 74 jaar dood is. Rory Bremner, die derde lid van die Channel 4-reeks Bremner, Bird and Fortune, sê "Bird het 'n briljante aanvoeling vir absurditeite gehad en 'n besonder skerp verstand".
"Tog was hy so beskeie en dit vir iemand wat dikwels selfverheerlikte karakters vertolk het."
Bremner, Bird and Fortune het 16 reekse opgelewer wat van 1999 tot 2008 uitgesaai is en vir verskeie Bafta-TV-pryse benoem is.

In een van Bird en Fortune se bekende sketse, The Long Johns, het een van die twee Johns 'n senior openbare figuur vertolk en die ander John het 'n onderhoud met hom gevoer.
Die fiktiewe sakeman, staatskonsultant of onbeholpe politikus, altyd met die naam George Parr, was aan die ontvangkant van belaglike, maar ook vlymskerp vrae deur die ergerlike onderhoudvoerder.
Fortune het in 2004 op Desert Island Discs gesê "dit was ongelooflik moeilik om nie uit te bars van die lag in sy en Bird se hoofsaaklik geïmproviseerde tweespel nie".
Bremner sê in sy verklaring die hoogtepunt van sy lewe was om Bird en Fortune in hul gesamentlike optredes dop te hou. "Ek het my verkneukel aan die genialiteit van hul spel."
"Die hemel weet, satire het hulle die laaste dekade gemis en nou is die gemis permanent," sê Bremner. - Saamgestel deur Elretha Britz uit bronne skynews.com; bbc.com; theguardian.com.




















