Vir die tweede keer vanjaar vier die kunsgemeenskap die bekende Oos-Kaapse kunstenaar Derrick Erasmus se lewe.
Die eerste keer was tydens 'n hele dag se feesvieringe in September vir sy 90ste verjaardag wat by die Art on Target-kunsskool aangebied is.
Talle kunstenaars en vriende het op dié feestelike dag saam met hom en sy vrou, Christine Ross-Watt, gekuier.

Nou word sy lewe weer eens gevier met kosbare herinneringe nadat hy verlede week onverwags oorlede is.
"Derrick en ek het mekaar 29 jaar lank geken en was 22 daarvan getroud," vertel Christine. "Ek het eers op sy werk en toe op hom verlief geraak! Hy was baie lief vir die natuur en het eindelose inspirasies daaruit geput. Volgens hom was die natuur 'n nimmereindigende bron van kleur en patrone.
"Hy het talle anekdotes oor sy tyd by Pretoria Boys High en veral oor sy kunsonderwyser, Walter Battiss, te vertelle gehad."
Sy oeuvre was hoofsaaklik maskers en dié kreatiewe proses het glo begin toe hy op 'n dag besig was om 'n groen soetrissie vir aandete voor te berei.
Met die deurgesnyde soetrissie in sy hande het hy besef daar is potensiaal vir 'n masker en dit was die begin van 'n tema wat hom laat as kunstenaar laat uitstaan het.
Erasmus het oor die jare heen die tegniek om maskers op 'n plat oppervlakte dikwels met sterk kleurgebruik en interessante omlyning bemeester.
Sy werk kan as geometries beskryf word, soos baie bekende kunstenaars van die 20ste eeu, onder wie Paul Klee, Jacques Villon en Keith Haring, wat geometrie as basis vir hul kuns gebruik het.

Erasmus is in Balfour-Noord in Mpumalanga gebore en het in verskeie dorpies in Suid-Afrika gewoon met dié dat sy pa 'n bankbestuurder was.
In 1956 het hy 'n nasionale sertifikaat in kunsonderwys aan die Witwatersrand Tegniese Kollege behaal en in die 1980's 'n nasionale sowel as meestersdiploma in die skone kunste met skilder as hoofvak aan die Port Elizabeth Technikon.
Hy het onder meer in Engeland klas gegee en as kunstenaar daar gewerk.
"Sy kunswerke reflekteer sy fyn humorsin en generous soul," sê Emma O'Brien, assistentdirekteur van die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum.
"Sy manier van om die wêreld te beskou en te reflekteer daarop is dan dalk ook beïnvloed deur sy vroeër jare toe hy as kunstenaar vir die Herbarium by die Koninklike Botaniese Tuine in Kew, Engeland, gewerk het."
Later van tyd was hy ook as dosent en waarnemende hoof in verskeie departemente aan die Port Elizabeth Technikon werksaam.
"Hy was uiters geliefd onder sy studente en mededosente en -kunstenaars", sê Estelle Marais, 'n medekunstenaar, vriendin en jare lange buurvrou.

"Sy kop het deur die jare skerp gebly en hy kon heerlik onderhoudend oor musiek en kuns gesels. Selfs as ek hom gevra het om kritiek op my werk te gee, het hy dit met soveel insig en deernis gedoen. Altyd 'n ware gentleman. Die liefde tussen hom en Christine was wonderlik om te ervaar, hulle was ook mekaar se mentors.
"Ek gaan daai kort, vinnige treetjies met sy skouersak en die laphoed op sy kop so mis wanneer hy verby my huis gestap het om die koerant te gaan koop."
Hy het gedurende sy loopbaan as kunstenaar aan nasionale en internasionale kunsuitstallings nasionaal deelgeneem, en sy kunswerke is in verskeie private versamelings, museums en ander instellings wêreldwyd opgeneem.
Bretten-Anne Moolman, direkteur van die Art on Target-kunsskool, het Erasmus 20 jaar gelede deur die Oos-Kaapse kunsdoyenne wyle Tossie Theron by haar Cuylerstraat-kunsgalery ontmoet.
"Ek beskou hom as een van die beste kontemporêre kunstenaars uit die Oos-Kaap," sê sy.
"Hy was vernuftig in sy werk tot die einde toe. 'n Regte mensch, sagmoedig en gulhartig teenoor almal."
Erasmus se werk is deur die jare ook by die GFI-kunsgalery uitgestal. " 'n Besonderse mens en uitstekende kunstenaar is oorlede," sê Anna Stewart, bestuurder van dié kunsgalery.
"Sy dikwels humoristiese en prettige weergawe van maskers en gesigte sal altyd onthou word, so ook sy vriendelikheid en vrygewige gees."

















