Igshaan Adams loop immer op ‘Heilige Grond’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Igshaan Adams se ‘Holy Terrain’ is tot 25 Januarie by Blank Projects in Woodstock te sien. Foto: Mario Todeschini
Igshaan Adams se ‘Holy Terrain’ is tot 25 Januarie by Blank Projects in Woodstock te sien. Foto: Mario Todeschini

‘Holy Terrain' deur Igshaan Adams by Blank Projects tot 25 Januarie.

Die stil, slim Boytjie van Bonteheuwel is terug in die Kaap met 'n nuwe uitstalling. Dis maar weer alte duidelik dat, alhoewel hy deesdae een van die wêreld se voorste tekstielkunstenaars is, sy kultuurwortels hier diep en persoonlik geanker is.

Igshaan Adams se jongste werk word by sy "tuisgalery", Blank Projects in Woodstock, onder die titel Holy Terrain aangebied. Dis sy sewende uitstalling hier en die titel dui ook op meer as die metaforiese. "Heilige gebied" is al van meet af 'n kenmerk van sy kunstenaarskap.

Kapenaars behoort besonder trots te wees. Hoofsaaklik om die draai aan die Ruth Prowse-kunsskool opgelei, groei sy internasionale statuur steeds. En tog het sy kuns 'n intieme, persoonlike en amper romantiese skoonheid.

Weerhoud, 'n ander tentoonstelling, het pas by die vername Hepworth Wakefield-kunsmuseum in Engeland groot lof van vername kunsresensente gekry. Sy groot opdragwerk Lynloop vir die Institute of Contemporary Art Boston in die VSA lok ook tans die skares.

Laura Cummings van The Guardian in Londen het byvoorbeeld daardie werke in Weerhoud beskryf as tapisserieë wat hy omskep in wolke, landskappe, ritmiese interweefsels, selfs mense. "He is the most magical and inventive of textile artists at work today."

Die intensiteit van die handwerk en vlyt gee aan die kunswerke 'n merkwaardige teenwoordigheid.

Die nuwe werk wat in die Kaap aan die mure hang, neem die tapisserie-konsep na 'n ander tekstuur-bewuste estetika van daardie "magic and invention". Nog altyd het die klem sterk geval op die materiale wat ingespan word. Vir kykers is dit verstommend hoe hy van die eenvoudigste media hierdie meesleurende impressionistiese, maar ook hoogs sensuele hangsels maak.

Die gedagte van gemeenskaplikheid loop ook al jare in sy persoonlike kunsbedryf: die span veral vroue wat weef en bind - soms tot die laaste oomblik van die installasie in die galery of museum. Die intensiteit van die handwerk en vlyt gee aan die kunswerke 'n merkwaardige teenwoordigheid. Hy hang sy kunswerke en vul sy ruimtes met 'n spirituele atmosfeer, soos 'n amperse religieuse ambiance.

‘Dimming Lustre', katoentou, polipropileen en gevlegte poliëstertou, plastiekkrale, goue ketting en drade, 223 x 305 cm, deur Igshaan Adams. Foto: Blank Projects
‘Dimming Lustre', katoentou, polipropileen en gevlegte poliëstertou, plastiekkrale, goue ketting en drade, 223 x 305 cm, deur Igshaan Adams. Foto: Blank Projects

Hierdie gevoel wat besoekers ervaar, is vanweë die hoogs persoonlike waarin identiteit, geskiedenis, herkoms en ritueel en die metafisiese voortdurend bevraagteken, ondersoek en in Adams se kuns uitgebeeld word.

Die opvallende outentieke van sy media en materiaal het 'n besondere eietydse trefkrag omdat dit ironies die algemene, alledaagse gebruik. Wat verstom, is hoe dit ons aangryp.

Dit maak jou bewus van die verskillende maniere waarop ons die wêreld bewoon.

In 'n bypassende opstel saam met hierdie uitstalling vra Thabang Monoa, 'n akademikus van die Universiteit van Kaapstad, juis waarom Adams so bekoor: Wat is die misterieuse verstaanbaarheid van hierdie soort kuns?

Sy verduidelik - en dis 'n goeie benadering om spesifiek só met Adams se kuns om te gaan - dat die werke 'n gewigtigheid dra wat vertel van sy soeke na betekenisvolle ruimte waar die liggaam en die eie doelbewus kan wandel en ervaar. Dit maak jou bewus van die verskillende maniere waarop ons die wêreld bewoon en ontsluit die individuele verbeelding op 'n merkwaardige "poëtiese" manier.

Die heilige grond behoort dus aan almal. Adams verskaf aan ons hierdie beeldskone werke, elkeen 'n bidmatjie vir elke kyker en dié se drome.

‘Pit', katoentou, gevlegte poliëstertou, gevlegte jute-tou, plastiek- en houtkrale, goue ketting, bokhaarwol en draad, 229 x 297 cm, deur Igshaan Adams. Foto: Blank Projects
‘Pit', katoentou, gevlegte poliëstertou, gevlegte jute-tou, plastiek- en houtkrale, goue ketting, bokhaarwol en draad, 229 x 297 cm, deur Igshaan Adams. Foto: Blank Projects

SPELETJIES VANDAG

CTA