Uitstalling verbeeld skone Afrikanervrou

‘Vind in die verte’ deur Karien Wilson.
‘Vind in die verte’ deur Karien Wilson.

Veerkrag, Karien Wilson se kunsuitstalling waarin die Afrikanervrou se identiteit en aanpasbaarheid gevier word, word tot 8 Augustus in die Prag & Praal Kunskraal in die AfriForum-teater in Pretoria aangebied.

Wilson, wat aan die Open Window-kunsakademie gestudeer en 'n grafika-kunstenaar by Netwerk24 is, stal saam met haar mentor, die beeldhouer Sarel Petrus, uit.

Dit bestaan uit beeldhouwerke en olieverfskilderye en Wilson het 'n gelyknamige gedig vir die uitstalling geskryf.

Wilson beeld die Afrikanervrou uit as 'n simbool van krag en iemand wat in die geskiedenis 'n swaar las moes dra. Tog word ook haar vroulikheid besing en haar identiteit in 'n hedendaagse samelewing ten toon gestel.

Die fokus is op die Afrikanervrou se skoonheid en die trots jeens haar erfenis.

Karien Wilson
Karien Wilson

Die gedagte vir die uitstalling het onregstreeks begin toe sy by 'n standbeeld van die Voortrekker Susanna Smit (gebore Maritz) was.

"Eintlik was ons by die Voortrekkermonument (in Pretoria). Ek onthou ek het voor daardie groot murasies gestaan, met die kleurvolle skilderye van die vrouens wat oor die berge trek. Daarna het ons na 'n klomp van hierdie gedenkwaardighede in die land gaan kyk. En daarvan was die standbeeld van Susanna."

Wilson stel belang in geskiedenis en glo daar was 'n lang tydperk toe 'n mens skaam gekry het oor jou Afrikaner-geskiedenis en dit daarom vermy het.

"Gevolglik sou jy delf in al die ander mense se geskiedenis behalwe in jou eie. Ek glo ons (Afrikaners) is hier om 'n rede; jy is deel van die grond en aarde. Deel van my uitstalling is om nie meer bitter oor die verlede te wees nie, maar te onthou ons is nie slagoffers nie.

Die Afrikanervrou is aanpasbaar, ook die moderne een. Jy het nie geld nodig om jou standaarde te verbeter nie. Die uitstalling is vir my simbolies van deernis, hoop en geloof."

‘Blom in blik' deur Karien Wilson.
‘Blom in blik' deur Karien Wilson.

Wilson sluit 'n skildery, Abigale Serene, waarvoor sy 'n prys gewen het, by die uitstalling in.

Dis 'n portret van haar Malawiese huiswerker wat sy verlede jaar vir die Arti-galery se kunskompetisie ingeskryf het en 'n akkolade ontvang het vir 'n uitstaande werk wat stof tot nadenke bied.

Dis gegrond op Frida Kahlo se skildery Me and My Parrots.

‘Abigale Serene' deur Karien Wilson.
‘Abigale Serene' deur Karien Wilson.

"Die beskrywing van die kompetisie was om 'n Afrika-perspektief op een van die (kuns)meesters tussen 1800 en 1950 se werke uit te beeld.

Ek het hierdie een gekies omdat ek mal is oor Frida Kahlo se werk. Ek is mal oor die kleurvolle blomme ensomeer, maar as ek haar goed sien, en omdat 'n mens weet hoe haar lewe was, laat dit my ook teneergedruk. Ek kan net sien sy het 'n obsessie met die dood gehad.

"Wat ek gesien het, is dat sy eintlik baie gehad het om te bied, maar die verkeerde keuses gemaak het."

In plaas van papegaaie het Wilson suikerbekkies geskilder.

"Frida sit saam met haar papegaaie. Abigale se omstandighede is soveel erger as Frida s'n. Frida het geld gehad. Abigale kom al die pad van Malawi af hierheen sodat sy vir haar kinders kan sorg. Sy werk elke dag haar oor 'n mik, maar sy het nooit haar vrede verloor nie."

• Die Prag & Praal Kunskraal is weekdae van 09:00 tot 16:30 oop. Besoek www.afriforumteater.co.za vir meer inligting.

‘Ou traan' deur Karien Wilson.
‘Ou traan' deur Karien Wilson.

SPELETJIES VANDAG

CTA