SA komponis sterf op 83

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Suid-Afrikaanse komponis Graham Newcater. Foto: Aryan Kaganof
Die Suid-Afrikaanse komponis Graham Newcater. Foto: Aryan Kaganof

Die Suid-Afrikaanse komponis Graham Newcater is Dinsdagaand in sy huis in Kenilworth, Johannesburg, oorlede. Hy was 83 jaar oud.

Newcater is veral bekend om sy musikale bydrae tot die 1967-ballet Raka en was Suid-Afrika se grootste voorstander van die 12-toon-komposisietegniek.

Newcater het 'n graad in meganiese ingenieurswese in Natal voltooi terwyl hy onderrig by die komponis Arnold van Wyk ontvang het. In 1962 vertrek hy danksy 'n studiebeurs van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) na Londen vir sy eerste formele studietydperk in musiek. Ná 'n kort tydperk in Suid-Afrika is hy in 1965 terug na Londen om by die bekende 12-toon-komponis Humphrey Searle te studeer.

Newcater het vroeg sukses behaal met sy Simfonie no. 1 wat hy in Londen begin en in Suid-Afrika voltooi het. Hierdie sukses het gelei tot 'n opdrag van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) om die musiek te skryf vir Raka, 'n balletproduksie gegrond op NP van Wyk Louw se gelyknamige epos. Die ballet was dadelik 'n sukses en is kort ná die première in 1967 verfilm en deur Twentieth Century Fox versprei. Verskeie orkeswerke en werke vir strykkwartette het gevolg, met uitvoerings in Suid-Afrika, asook in die buiteland. Anton Hartmann, eertydse hoof van musiek by die SAUK, was 'n ondersteuner van Newcater se musiek en het verskeie uitvoerings van sy werke geprogrammeer en gedirigeer.

Die 12-toon-komposisietegniek is 'n metode vir komposisie wat in die 20ste eeu in Europa ontstaan het. Dit is oorspronklik deur Arnold Schönberg ontwikkel. Die tegniek verlang dat die komponis die 12 note van die toonleer in 'n reeks rangskik en dan daardie reeks gebruik as die grondslag van 'n musikale werk (eerder as 'n melodie of akkoordprogressie, byvoorbeeld).

Die tegniek het komposisie in Europa vir 'n groot deel van die 20ste eeu oorheers, veral in die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog. In Suid-Afrika is hierdie tegniek egter selde gebruik en Newcater is die enigste Suid-Afrikaner wat homself uitsluitlik op die 12-toon-komposisie toegespits het. Dis moontlik om hierdie rede dat Newcater nooit die bekendheid verwerf het wat hy verdien het nie - sy musiek was minder toeganklik as die oeuvres van sy tydgenote en te modernisties vir sekere gehore.

In 2011 het hy weer 'n opdrag van Samro ontvang: Hy is gevra om 'n klavierwerk vir die 2012-Unisa- Internasionale Klavierkompetisie te skryf. Die Toccata vir klavier wat hy gekomponeer het, was die begin van 'n nuwe tydperk van kreatiwiteit vir Newcater - sedert daardie werk het die komponis hom op werke vir klavier toegespits en teen sy afsterwe het hy nagenoeg 20 nuwe komposisies vir soloklavier die lig laat sien. Drie van hierdie werke het hul wêreldpremière-uitvoerings in 2018 in Stellenbosch gehad, met ondersteuning van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus), waar Newcater se argief bewaar word.

Met Newcater se afsterwe verloor Suid-Afrika 'n groot gees: 'n unieke skepper, 'n mens wat ondanks die wêreld se vergetelheid nooit ophou werk het nie, nooit ophou skep het nie. Sy nalatenskap is 'n skatkis van wonderwêreldse klaviermusiek wat wag op die gelukkige pianis wat dit nog sal ontdek en verklank.

• Stolp is 'n pianis en musiekonderwyser by Pretoria Boys High School. Sy het die wêreldprèmiere van verskeie van Newcater se werke uitgevoer en het ook akademiese werk oor die komponis gepubliseer.

Mareli Stolp

SPELETJIES VANDAG

CTA