Woorde soos Botter, Skoon, Fyn, Knip, Kraak en Goeters is nou trots die name van besighede soos bakkerye, skoonheidsprodukte, restaurante, haarkappers en geleentheidsbeplanners.
Afrikaanse name vir ondernemings word ál gewilder. Wat kan dit dan nou beter sê as Soet (koek), Skep (argitektuur en interieur) of Skapie (wolprodukte)?
Die trefkrag van Afrikaans lê dikwels in die eenvoud en egtheid, sê Michélle van Breda, SARIE-redakteur wat ook vir die handelsmerkuitbreidings SARIE WOON, SARIE TROU en SARIE KOS verantwoordelik is.
"Sonder frilletjies, what you see is what you get."

Met Afrikaans kan jy heerlik speel. Wie sal dan nie by 'n eetplek soos Spek&Bone wil eet nie? Of inloer by Botterblom om die storie agter dié dekorwinkel se naam te hoor. Daar's altyd 'n storie . . .
Mense noem hom al Johan Brood, sê Johan Lamprecht, wat saam met Susan Thirion die artisanbakkery BROOD op Onrus bedryf. Die inspirasie was Susan se ou emalje-broodblik met die woord BROOD daarop.
"Klante is mal daaroor," sê sy, "al praat die oorsese toeriste van broed!"
Vir oogkundiges Werner en Natasha Fourie het die naam Bril net sin gemaak op 'n grootliks Afrikaanse dorp soos die Paarl.
"Ons het unieke brilrame en Bril wérk. Dis catchy," sê Natasha. Daar's nou al Bril-franchises reg oor die Wes-Kaap, een in Pretoria en in Bloem.
En Mondvol-koekies se Andriette Georgiou sê prontuit oor die naam, 'n geskenk van 'n vriendin: "Ek's 'n trots Afrikaanse meisie."
Danie Marais, mede-inhoudsregisseur van die kykNET-reeks Die stories van Afrikaans, vermoed besighede kies Afrikaanse name om dieselfde redes as wat mense soos David Kramer, wie se moedertaal Engels is, Afrikaanse liedjies skryf.
"David vertel in die reeks as hy in Engels skryf, klink dit soos iets wat van oorsee gekom het. In Afrikaans klink hy inheems, kan hy die landskap beter beskryf en is die liedjie onmiskenbaar hier gewortel."
Dieselfde geld 'n besigheid met 'n Afrikaanse naam.
"Dit sê vir potensiële klante: Ek is van hier nes jy en wat ek verkoop, is iets wat jy net hiér kry."
Kry dit en brei (of hekel) dit!
Kry jou nuwe SARIE Kreatief met 44 brei- en hekelpatrone vir die hele gesin. Vanaf 20 Junie op die rak. Jy kan jou wol koop by skapie.co.za

- Vanjaar word 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal gevier.





















