1 Ons is almal uniek

As jy al ooit 'n begeleide 4x4-toer meegemaak het, sal jy dalk onthou hoe die toerleier almal opdrag gee om hulle bande se lugdruk tot 'n sekere syfer te verminder.
óf hy het "nul punt agt!" uitbasuin óf hy is die soort ou wat elkeen in die groep se voertuig deurkyk en 'n unieke lugdruksyfer voorstel wat by elke ryding pas.
Laasgenoemde is 'n teken van 'n toerkaptein wat sy werk ken en behoorlik doen.
Nie alle bande gebruik dieselfde lugdruk nie, en selfs al het elke toerlid dieselfde BF Goodrich-veelterreinbande op sy trokkie, verskil die BVM van elke ryding aansienlik - dit gaan daaroor hoe swaar die voertuig gelaai is en hoeveel ondervinding die bestuurder het.
Ons gaan nie die heel beste banddruk vir 'n gegewe soort oppervlak aanbeveel nie, want ons glo dit kan rampspoedige raad wees.
Daar is doodeenvoudig té veel faktore wat jy in ag moet neem - insluitende of jy met oggend- of middagtemperature te doen het.
Ry jou trokkie oor 'n aantal maande en verander die banddruk tot jy die regte syfer kry wat vir jou werk.
"Nul punt agt!" is nie deur die bank die beste banddruk vir almal nie.
2 Hoe groter, hoe vinniger

As jy groter bande op jou trokkie laat aanbring, gaan die spoedleser onakkuraat raak.
Elke duim wat jy groter gaan, veroorsaak dat jou spoedleser 3-4 km/h stadiger lees as die spoed wat jy eintlik ry.
Kyk na die voorbeeld van 'n 2021-model Jeep Wrangler Rubicon: Dié voertuig kom uit met 32"-BF Goodrich-modderbande op 17"-wielvellings (245/75 R17).
As jy hulle byvoorbeeld met 33"-Maxxis MT772-bande vervang, gaan jou spoedleser met slegs 4 km/h uit wees, wat nie die einde van die wêreld gaan beteken nie.
Maar as jy 'n stel 35"-Maxxis Bighorns laat aanbring, gaan jou spoedleser 11,6 km/h uit wees, wat beteken jy dínk jy ry 120 km/h, maar eintlik is jou GPS-spoed 131,6 km/h.
Wetstoepassers gee gewoonlik 'n grasie van 10 km/h oor die spoedgrens, maar dit sou binne 'n venynige spietkop se reg wees om jou te beboet vir daardie ekstra onwettige 1,6 km/h.
Die spoedleser van 'n Toyota Land Cruiser 200 is gekalibreer vir sy 285/65R17-bande met 'n wielgrootte van 31,6 duim, maar as jy die vering met 4 duim lig en 'n stel 37 duim-Goodyear Wrangler MTR's maak pas, gaan die spoedleser met 20 km/h uitgegooi word.
3 Pampoene op die dak

Jou voertuig se eienaarshandleiding behoort te noem hoeveel statiese gewig (vir 'n stilstaande voertuig) en dinamiese gewig (vir 'n bewegende voertuig) jy bo-op die kar se dak mag vasmaak.
Dié gewig, veral die dinamiese gewig, is gewoonlik betreklik min omdat motorvervaardigers weet gewig op die dak kan die hantering en veiligheid van enige voertuig dramaties beïnvloed.
Die gewigsbepalings soos vasgestel deur die vervaardiger is egter gegrond op normale padtoestande en nié veldrytoestande nie.
'n Toyota Fortuner se maksimum- toelaatbare dinamiese gewig op die dakstawe is 80 kg (vir sommige jaarmodelle is dit 75 kg) en heelparty eienaars neem aan 'n dakrak sal die vragvermoë verhoog.
Front Runner se Slimline II-dakrak kan inderdaad meer as 80 kg dra, maar dié maatskappy het opgehou om die dravermoë van hulle dakrakke te noem aangesien mense gereeld die voertuigvervaardiger se toelaatbare vragvermoë oorskry.
'n Slimline-dakrak vir 'n Fortuner weeg 33 kg, wat jou laat met 47 kg vir vrag - dit is genoeg vir 'n daktent (43 kg), maar te min vir drie 20 l-jerrykanne.
'n Suzuki Jimny se maksimum- toelaatbare dinamiese gewig op die dak is slegs 30 kg en sý Front Runner-dakrak weeg 22 kg, wat jou met 'n skamele 8 kg laat.
Ons wil dit duidelik stel dat 'n Fortuner én Jimny meer kan dra as wat deur die eienaarshandleiding bepaal word, maar as jy omslaan en jou versekeringsmaatskappy vind uit oor die gewigsbepalings, kan hulle jou eis afkeur.
4 Puntenerig oor herwinning

Dit is verstommend hoeveel mense steeds hulle viertrekvoertuig aan die bol van die sleepstang herwin. Hulle redenasie is aangesien die bol sterk genoeg is om 'n bos- of woonwa te trek, dan is hy sekerlik stewig genoeg vir herwinning. Maar dit is glad nie die geval nie.
Die sleephaak is nie ontwerp om binne 'n breukdeel van 'n sekonde 'n enorme hoeveelheid energie te ontvang nie.
Daar is duisende stories van 'n bol wat afbreek en soos 'n kanonkoeël deur die lug vlieg - van dié voorvalle het al gelei tot mense se dood.
Die metaalhoepel links voor onder jou ryding se buffer is ook nie 'n herwinningspunt nie.
Hoewel die hoepel inderdaad daar is om 'n voertuig te sleep, is hy nie ontwerp vir 'n energieke pluk nie en sal buig - en dalk selfs afbreek - as jy 'n swaargelaaide bostrok uit 'n moddergat probeer pluk met 'n kinetiese strop.
Vir 4x4-herwinning stel ons voor jy gebruik eerder die voertuig se onderstel (waar dit nie ander komponente sal beskadig nie), vaste asse of die doelgemaakte herwinningspunte op 'n bosbreker.
5 Die laaste strooi op die kameel se rug

Dubbelkajuitbakkies sit met 'n probleem dat die gros van die vraggewig ágter die as lê eerder as bó dit, soos met enkelkajuitbakkies - wat soms daartoe lei dat die onderstel tussen die kajuit en laaibak knak.
Bakkievervaardigers is deeglik bewus van die moontlike gevare, en buiten dat die onderstel gewoonlik aangepas is vir 'n ongebalanseerde vrag, waarsku vervaardigers dat 'n dubbelkajuitbakkie minder gewig in die laaibak mag dra as 'n enkelkajuit.
'n Mens is maar mens, en soms maak ons die fout om ligte kampgoed teenaan die kajuit te pak met swaarder items agter teenaan die klap.
Elke keer as jy versnel, rem trap en grondpad ry, word die onderstel bietjies-bietjies deur die oneweredige vrag gebuig, totdat dit uiteindelik meegee en knak.
Indien jou bosbakkie gelaai is met kampgoed en daar's 'n boswa op die haak - én jy't boonop twee noodwiele op die agterbuffer - moet jy nie verbaas wees as die onderstel in die duine van die Setraal-Kalahari knak nie.



















