1. Evalueer die hindernis
Inspekteer die hindernis en kyk watter soort modder dit is. Dit kan 'n harde, growwe oppervlak hê wat veilig lyk, maar waarin jy gaan vassit sodra jou bande die boonste laag deurgedring het. Sagte modder het weer soms 'n harder basis 'n entjie dieper.
Trap in jou spoor. Dit help om in die spore van vorige voertuie te ry, want die ou se wiele het moontlik reeds die modder kompak gemaak.
Onthou, water is beter as modder. As die hindernis 'n water- én 'n modderkant het, is die water dalk 'n beter keuse. Die grondoppervlak is moontlik op daardie plek te hard om die water te absorbeer, wat goeie vastrapplek vir jou ryding behoort te bied.
2. Kies die regte banddruk
Smal, harde bande vaar gewoonlik beter as breë bande waarvan die banddruk verminder is. Modder het meestal 'n stewiger basis onder, en jou bande moet deur die modder sny om 'n vastrapplek op die basis te kry. As jy egter mooi kyk en sien die hindernis het 'n kors en 'n diep poel modder onder die kors, verlaag jou banddruk om die kontakdruk te verminder en jou voertuig oor die modder te laat "dryf".
Kies nou die regte rat - gewoonlik die tweede rat in laestrek, en skakel oor na vierwielaandrywing. Moenie jou agterste ewenaarslot aanskakel nie, want dit mag dit moeiliker maak om te stuur as die oppervlak glibberig is.
As jy dink jy gaan dalk vassit, maak 'n tou aan die voertuig vas voordat jy deur die hindernis ry. Dit kan dalk voorkom dat jy later in die modder moet rondkruip om die herwinning voor te berei.
3. Behou momentum
In die meeste gevalle het jy momentum nodig om deur modder te ry. Behou die hele tyd momentum, maar ry stadig - jy kan gly en beheer verloor of omslaan as jy jaag. As jy nie eers deur die hindernis geloop het nie, kan jy 'n gat of rots in die modder tref en so jou ryding of sy bande beskadig.
Moenie die stuurwiel te styf vashou en die ryding in 'n rigting dwing nie. Voel die terugvoer van die wiele op jou stuurwiel en volg die weg van die minste weerstand. Jou wiele moet tol om jou deur die hindernis te kry, maar ook nie te veel nie, want dan het jy nie genoeg vastrapplek nie. Veral modderbande het 'n vinnige tol-aksie nodig sodat die modder uit die groewe gegooi kan word.
As die wiele te vinnig begin tol, verminder jou krag sodat die wiele weer vastrapplek kan kry. Jy kan ook die stuurwiel baie liggies van links na regs beweeg om die greep van die knoppe en groewe op die band se rand en sywande te benut. Dit werk die beste met 'n aggressiewe bandpatroon soos dié van modderbande.
4. Gebruik jou trurat
As jy vassit, probeer terugry in jou eie spore. Dit help dalk ook om jou ryding rustig vorentoe en agtertoe te laat beweeg. As dit nie werk nie, moenie jouself verder begrawe nie.
Begin eerder met die herwinning. Gebruik sandlere, takke, gras of hout om 'n bietjie vastrapplek onder die wiele te kry. Jy kan ook jouself probeer uitgrawe, maar as jy goed vasgeval het, gebruik 'n kinetiese tou of 'n wen-as.
Diep modder "suig" soms jou ryding vas, daarom help dit ook om hom met 'n hooglig-domkrag op te tel. Maar bogenoemde dinge het 'n element van gevaar, daarom is dit raadsaam om modder eerder met 'n ompad te vermy, waar moontlik.
5. Spoel jou ryding af
Modder kan in seëls, remdromme en ewenaarslotte beland, en daarom moet jou ryding agterna sou gou as moontlik skoongemaak word. Sommige soorte modder het 'n hoë sout- en suurinhoud, wat jou bakwerk kan vlek en roes kan veroorsaak.
Hierdieartikel het oorspronklik in Augustus 2016 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.



















