Patagonia R1 Hoody

Dié top is liggewig (392 g) en kombineer sagte pluisstof met die nuutste tegnologie. En dís juis hoekom die wêreld se voorste atlete dit dra.
Dit word gemaak van herwonne materiaal en afgerond met Fair Trade-stiksel. Die Polartec Power Grid-materiaal hou hitte binne, maar die top kan goed asemhaal; dit het lugkanale en ingeboude reukbeheer. Kortom: Dit maak nie saak hoe hard jy oefen nie, daar is minder sweet en klankies.
Hierdie top is duur, en dalk nie so dik soos die ander op ons lys nie, maar dis 'n goeie ekovriendelike belegging vir harde oefening, of net buite om 'n vuur kuier.
R2 000 by Gone Outdoor
Capestorm Trailtracker

Indien die slim praatjies en tegnologie jou koud laat, kies dié eenvoudige pluisstofbaadjie met 'n vollengte ritssluiter.
Dit het 'n buitelaag van pluisstof en sagter binnelaag. Die baadjie is ruim, en die kleur is gepas vir avonture buite.
R700 by Outdoor Warehouse
K-Way Quint

Ná 'n marathonsessie in die buitelug soek 'n mens iets om in te ontspan, en jy gaan ver soek na iets beters as die Quint.
Dis effe dikker as ander pluisstofbaadjies, maar kan steeds ingespan word vir buite speel danksy die liggewig, buigsame poli-elastien en vogabsorberende afwerking. Die mou-ontwerp en kappie verskaf verdere gemak.
R700 by Cape Union Mart
Hi-Tec Raven

Pluisstof is nie net vir hard werk nie: Dis ook gepas vir ontspan en kuier. Dié baadjie is eenvoudig maar stylvol en bied genoeg warmte. Daarby pas dit knus danksy die snit en materiaal. Hierdie is 'n ekonomiese kopie vir elke seisoen en elke geleentheid.
En die bonus? Die baadjie word gemaak van herwonne poliëstervesel.
R700 by Hi-Tec.co.za

Core Merino Half-zipLong Sleeve
Goed, ons kroek effens: Hierdie is nie pluisstof nie, maar plaaslike merinowol.
Dis 'n natuurlike alternatief wat dieselfde voordele bied soos pluisstof, én 'n paar ekstras. Merinowol reguleer temperatuur, dit bied insulasie, beheer reuke en kan asemhaal. Dié top word gemaak van 'n kombinasie van merino en nylon, dis elasties, buigsaam, sag en gemaklik.
Dit werk goed vir atlete en avonturiers. Dié ritssluiteropsie is ons gunsteling.
R1 500 by coremerino.com
First Ascent Core Waistcoat

Soms beperk moue beweeglikheid en vir daai tye kort jy 'n onderbaadjie waarby jy ander klerelae kan dra.
Dié een is nie te swaar nie (408 g), pas knus en het drie ritssakkies. Dit hou jou lyf warm sonder om jou arms in te perk. Trek liefs nog 'n laag bo-oor wanneer jy sneeu gaan kyk.
R700 by Sportsmans Warehouse
K-Way Viola

Die Viola is 'n slim keuse vir vroue: Jy kan dit werk toe of op 'n avontuurnaweek saamneem. Dis 'n omgewingsvriendelike kledingstuk danksy die vermenging van herwonne poliëster en spandeks.
Dis sag, veeldoelig, buigbaar en bekostigbaar. Vir die mans het K-Way die Birch Fleece, en as jy meer warmte nodig het, is die First Ascent Eco Sherpa (hiernaas) 'n goeie kopie.
R700 by Cape Union Mart
First Ascent Eco Sherpa

Net soos die effe dunner en goedkoper K-Way Viola is hierdie top veeldoelig en gemaklik, en word gemaak van herwonne poliëstervesel.
Dié pluisstofbinnelaag bied hope warmte, én dit het 'n ligter pluisstofbuitelaag. Die slimste eienskap is die veeldoelige ritssluiter, waarmee jy nóg 'n buitelaag kan vasrits.
R1 000 by Sportsmans Warehouse
First Ascent Piranha

Dié top is sag en lig, maar bied genoeg warmte wanneer die lug dun is. Dit word gemaak van Firestorm-mikropluisstof en is First Ascent se vlagskip-mikrodeniervesel - dis goeie gehalte en die afwerking keer dat wolletjies vorm. Die top is maklik om te was en pas knus. én dis lig op die beursie.
R300 by firstascent.co.za
K-Way Clash

Hierdie is die beste maat vir drawwers en fietsryers. Die liggewig laag (290 g) bied goeie insulasie terwyl die baadjie kan asemhaal danksy die kombinasie van poliëster en spandeks.
Die Clash het 'n nuttige borssakkie vir jou sleutels en koffiegeld, en die kwart ritssluiter bied vinnige ventilasie wanneer jy 'n heuwel uithol. Dié top bied genoeg warmte sonder om bonkig te wees.
R600 by Cape Union Mart
Bly snoesig

BUFF Reversible Polar Fleece
Dié Polar Buff-weergawe word gemaak van herwonne mikrovesels en is effe dikker as 'n gewone buff. Dra dit as 'n serp, bandana of masker. Dit bied ook UV-beskerming.
R430 by Drifters Adventure Centre
Capestorm Fleece Gloves
Hierdie buigbare, duursame handskoene is 'n goeie belegging en hou jou vingers warm.
R190 by Outdoor Warehouse
K-Way Fleece Beanie
Dié mussie moet jy saamneem vir 'n kamp in die berg; die Thermalator-pluisstof werk uitstekend.
R150 by Cape Union Mart
First Ascent Fleece Earmuff
Dis 'n ligte en sagte mussie wat jou kop warm hou danksy die Firestorm-pluisstof gemaak van mikro-deniergaring. Dis ook waterwerend.
R130 by firstascent.co.za





















