Buitelewe

Perfek vir reisgemak: Die A-Z van nekkussings

Uuname-reiskussing

Jy hoef nie 'n plaas se prys vir 'n goeie nekkussing te betaal nie. Daar is 'n verskeidenheid ontwerpe en kleure vir elke beursie by aanlynwinkels soos Takealot.

Een van die gewildstes is hierdie U-vormige reiskussing wat van sagte geheuespons gemaak word. Jy kan die spons saampers sodat dit maklik in sy eie reissakkie pas.

Die spons is stewig genoeg om nie net jou kop nie, maar ook jou nek enskouers te ondersteun. Danksy 'n klein ritssluiter agterlangs kan jy diebedekking afhaal en was. Dis beskikbaar in blou, grys, groen en pienk.

Prys R259 by takealot.com

Snail Travel-nekkussing

Hierdie lyk eerder na 'n luislang (as 'n slak) wat sy lyf om jou nek gewoel het, maar daar's 'n rede vir die ontwerp. Die agterkant van die kussing volg die kurwe van jou nek en skedel terwyl die kante hoog boontoe strek sodat jou nekwerwels in gelid bly terwyl jy slaap.

Die gespe voor kan gestel word sodat jy die "slak" stywer of losser om jou nek kan span soos dit vir jou gemaklik is. Die sagte sloop kan afgehaal en gewas word.

Prys R799 by takealot.com

Travelsky- opblaasbare reiskussing

'n Vriend van my wat soos Eben Etzebeth gebou is en gereeld oornagvlugte in ekonomiese klas moet haal na Europa, die Ooste en Noord-Amerika, het een aand om die braaivleisvuur vir 'n groot geskater gesorg toe hy ons met sy Travelsky-ervarings vermaak het.

Sy mede-passasiers kyk hom blykbaar met afgryse aan elke keer as hy hierdie kussing kort nadat die vliegtuig opstyg uit 'n bêresakkie haal en dit verwoed begin opblaas soos 'n reuse-ballon wat jy dan op die uitvou-skinkbord voor jou staanmaak. Jou arms word gesit deur gate aan die kante, en jou kop,bors en skouers word deur die voorste kussinggedeelte gestut.

Daar is 'n holte bolangs sodat jy met jou gesig afwaarts steeds kan asemhaal, boeklees of op jou telefoon óf tablet 'n fliek wil kyk. My vriend is nie iemand vir geselsies met vreemdelinge nie en dus reis hierdie opblaasbare kokon nou oral saam met hom. En hy belowe jy gaan daarin soos 'n klip slaap!

Prys R599 by takealot.com

Ostrich Junior-reiskussing

As iets soos die Travelsky jou te selfbewus gaan laat voel, moet jy dalk eerder by die Ostrich-reiskussing verbyhou al is dit hóé gemaklik. Maar weet jy wie gee glad nie om dat hulle soos Mannemarak lyk wanneer hulle ver moet vlieg nie? Kriewelrige kinders!

Hulle is behoorlik soos 'n volstruis met sy kop in die sand, onbewus van klanke en skerp lig. Die kop en nek word gestut deur hierdie sponserige slaapmus ongeag of die kind vorentoe, agtertoe of na die kant toe tot ruste kom.

Hierdie kussings is beskikbaar in pienk en blou en is geskik vir jong kinders ouer as ses. Die tiener in jou lewe gaan waarskynlik weier...

Prys R700 by takealot.com

Twist-rolkussing

Hierdie geheuesponskussing kan op 'n verskeidenheid maniere gevou en gevorm word om by jou behoefte aan te pas. Nie net kan jy dit om jou nek vou as jy op die vliegtuig teen die venster ingeprop word nie, maar jy kan dit op die lang pad om jou middel gebruik om jou lae rug te ondersteun.

Slaap jy saans nie lekker in jou eie bed nie? Die Twist kan maklik tussen jou bene gedraai word jou lê te kry. Die katoensloop kan afgehaal en gewas word.

Prys R497 by takealot.com

Cabeau Evolution S3

Indien jy bereid is om ietwat meer vir jou slaapgemak te betaal, kan jy hierdie eersteklaskussing vir jou toeristeklasvlug bestel.

Die geheuespons is ferm en gemaklik, en die bedekking (wat apart gewas kan word) bly koel en voel nooit sweterig of klewerig nie. Daar is 'n sakkie vir jou oorfone en oorpluisies aan die kant, en 'n gespe aan die voorkant sodat jy die kussing om jou nek kan verstel.

Wat die Cabeau verder van sy mededingers onderskei, is die gordelstelsel aan die agterkant wat om jou vliegtuigsitplek se kopkussing pas. Dit keer dat jou kop vorentoe of na die kant toe val wanneer jy aan die slaap raak. Selfs die sakkie waarin jy dit opvou, en wat jy aan jou rugsak of tas kan gespe terwyl jy wag vir jou paspoort om gestempel te word, lyk stylvol!

Prys R1 796 by ikuraexpress.co.za