Buitelewe

Duur toerusting? Nee, dankie! Dís wat jy als met ’n houtplank kan doen!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jy dink dalk die professor slaan sy eie naam met 'n plank, maar dit is sy beskeie mening dat die houtplank 'n wonderlike ding is! In hierdie artikel noem ons 12 gebruike, maar natuurlik kan jy nog baie meer met hom doen.

Vastrapper

Fênsie herwinningsplanke is gegrond op doodgewone houtplanke. Pleks daarvan dat jy R6 000 uitgee op 'n stel Maxtrax, kan jy bloot 'n stuk hout onder 'n wiel druk vir beter vastrap. Ons gee toe sandplanke van plastiek gee beter vastrap, maar as jy weet hoe om jou houtplank reg te gebruik, het jy niks méér nodig nie.

Fondament

Die achilleshiel van enige domkrag, hetsy dit die skêr-, bottel- of hoogligsoort is, is sand en modder. Jy't 'n plank as 'n voetstuk nodig om te keer dat die domkrag wegsak. As jy 'n lugsak gebruik om jou bakkie te lig, kan jy die houtplank tussen die sak en jou onderstel plaas om die sak teen skerp onderdele te beskerm.

Strandloper

Die rede waarom jy jou bande op sand afblaas, is om die loopvlak te verleng eerder as om dit te verbreed. Maar om gewig oor 'n breër gebied te versprei help ook, veral as jy nie die rollende weerstand gaan verhoog nie. Strop twee planke in die breedte op 'n buiteband vas sodat jou wiel bo-op die sand klim eerder as om te grawe.

Sitplek

Net kinders en boemelaars sit platboud op die grond. Gebruik jou planke om 'n stoeltjie te bou sodat jy gemaklik kan sit terwyl jy wielboute losdraai. Vertel met oorgawe dit is hoe jy áltyd sit en moenie verklap dat jy eintlik jou kampstoel by die huis vergeet het nie.

Jy sit op eie risiko só met 'n glas brannas langs die kampvuur...

Spanranddrukker

Dit is onmoontlik om die spanrand (of dan bead) van 'n buiteband met jou hande van 'n velling af te druk. Plaas een punt van jou plank op die band se sywand en die ander punt op die grond.

Ry met jou bakkie teen die plank uit en die gewig sal die spanrand losdruk. Waarom? As jou tubeless band se wand 'n sny het, moet jy 'n binneband insit.

Grawe

Het jy jou graaf by die huis vergeet of maak jy staat op 'n goedkoop opvougrafie wat nou sy alie gesien het? Jou houtplank kom hier tot die redding.

Onthou net om handskoene te dra, want jy wil nie met 'n hand vol splinters sit nie! En nes 'n graaf kan jy ook jou plank gebruik om die warm kole van jou kampvuur rond te krap.

Tjok en blok

Om op 'n handrem te vertrou om te keer dat jou bakkie van die domkrag afrol, is soos om 'n pistool skoon te maak en te vertrou hy's veilig omdat jy die magasyn uitgetrek het. Die duiwel laai 'n koeël in die loop...

Gebruik 'n stuk hout as 'n tjok om seker te maak jou bakkie staan stil terwyl jy onder hom inkruip om te werk.

Roeispaan

'n Band se loopvlak wat met modder gevul word, verloor greep. Strop 'n plank wat effens langer is as die deursnee van jou buiteband aan die speke van jou wiel vas. Die plank se punte wat verbysteek, sal jou wiel uit die modder laat "loop".

Let wel As die plank loskom, kan die bakwerk beskadig word - hou dit dus maar vir 'n laaste uitweg.

Loodreg

As 'n kampplek se grond skuins is en jy beplan om vanaand in jou daktent te slaap, gaan dit nie saak maak hoé jy jou bakkie trek nie. óf jy rol na 'n kant toe óf jou voete is hoër as jou kop óf andersom.

Stapel jou planke op mekaar en ry teen hulle uit totdat jou bakkie - en jou daktent - waterpas staan vir 'n goeie nagrus.

Helpende voet

'n Maklike manier om jou bosbakkie se remligte self te toets is om die rempedaal plat te trap en hom daar te hou deur jou staatmakerplank in te wig.

Met die plank daar stap jy agtertoe om te sien of die ligte rooi gloei. Maak net seker dis nie die versnellerpedaal wat jy so vaswig nie...

Papiergewig

Daar is steeds geen beter manier om 'n roete uit te pluis as om 'n papierkaart op jou enjinkap oop te vou nie. Die wind kan egter lastig wees en 'n papierkaart summier wegwaai.

Dit is hier waar jou plank - en 'n koffiefles - help om 'n kaart vas te lê sodat jy kan besluit of dit beter is om oor Nata of Gweta na Kubu-eiland te ry.

Skoottafel

Jy kan seker 'n skinkbord gebruik, maar daai houtplank wat jou vroeër vandag uit 'n verknorsing gehelp het, werk ewe goed.

Sit die plank op jou skoot en sny lengtes rubberpyp daarop. óf kerf biltong. En as jy vleis en pap met 'n lekker souserige sheba uit 'n papierbord eet, gaan hy ook werk. Mans het glo nie 'n skoot nie...

Cyril Klopper (teks en foto’s)