"Soos die meeste kampeerders het ek 'n standaard-skottelgoedstaander met 'n wasskottel en droograk. Dit waai egter gereeld om en elke keer verloor ek borde, koppies en glase," vertel Alma Muller van Vaal Reef.
"My man het toe vir ons 'n stabiele opwastafel gemaak. Nou het ek meer plek vir die skottelgoed en die tafel pas maklik onder die woonwa se bed of selfs in die kar se bagasiebak in."
Inkopielys
- plastiektafel van sowat 1,8 m x 1 m (die doodgewone soort met die verwyderbare bene, wat dikwels op mense se stoep staan)
- plastiekopwasskottel
- plastiekafdroograk
Gereedskap
- kokipen
- figuursaag
- 1 plat aluminium-dwarsstrook, so lank soos die breedte van jou tafel, omtrent 50 mm breed en 3 mm dik
- 3-4 boute

Só maak jy
1. Trek die buitelyne van die rak en skottel op die tafel met die kokipen.
2. Sny die gate uit met die figuursaag.
3. Bout die aluminiumstrook in die middel van die tafel vas, dwars oor die blad en tussen die 2 gate.
4. Sit die rak en skottel in die gate en laat waai.
Ry & Sleep sê
Die aluminiumstrook maak jou tafelblad stewiger.




















