Jy sal verbaas wees hoeveel jy 'n tafel mis wanneer jy die buitelewe verken en nié een byderhand het nie. Ons het hierdie lys van verskillende soorte saamgestel sodat jy die beste een spesifiek vir jou behoeftes kan kies.
Oztent-aluminiumopvoutafel
Drie maal drie

Dit is 'n innoverende ontwerp deur die Australiese vervaardiger Oztent. Hierdie meneer vou nie in die helfte op soos sommige van sy mededingers nie, maar in drie dele, wat beteken jy kan hom soos 'n aktetas rondra. Nietemin is hy 'n volle 1 200 mm lank en 600 mm breed wanneer hy opgeslaan is. Die afwerking in donkergrys en swart is ook sag op die oog.
Prys: R1 399 by 4x4 Mega World.
Ry & Sleep sê
Sy raam word van stewige vlekvrye staal gemaak, maar omdat die blad van aluminium is, weeg die tafel maar 9,5 kg. Wanneer hy opgevou is, is hy 650 mm lank, 460 mm breed en 140 mm hoog.
Leisure Quip- verstelbare opvoupiekniektafel
Kleintjie

Hierdie piekniektafel se blad word van hoëdigtheidpoliëtileen gemaak en is duursaam én maklik om skoon te maak. Onder die tafel is 'n reeks verstellings vir die vlekvryestaaltafelpote om die hoogte van die tafelblad tot tussen 560 mm en 730 mm te stel.
Prys: R300 by Outdoor Warehouse.
Ry & Sleep sê
Die tafel is 750 mm lank en 500 mm breed en is die ideale plek vir die skaakbord as jy en jou ander helfte laatmiddag 'n potjie skaak wil speel.
Alu-Cab Alu-Table
Weltergewig

Alu-Cab is die vervaardiger van toebehore soos daktente en bakkiekappies, maar hulle maak ook dié tafel, wat so te sê geheel en al van aluminium gemaak word. Dit beteken die tafel weeg maar 7,5 kg, hoewel hy 1 175 mm lank en 750 mm breed is. Die aluminiumtafelblad is onbuigsaam en ook bestand teen krapmerke.
Prys: R3 028 by 4x4 Mega World.
Ry & Sleep sê
Die tafelpote slaan met die hulp van gasstutte uit en daarom slaan jy dié outjie moeiteloos op.
AfriTrail- vierkantige aluminiumtafel
Vlootblou

Hierdie tafel is effens anders ontwerp as die res. én hy spog met 'n aantreklike vlootblou afwerking wat die oog tref. Sy blad is vierkantig met sye van 700 x 700 mm en hy staan net effens hoër in sy sokkies teen 710 mm. Die vervaardiger sê hy kan 'n gewig van tot 25 kg dra.
Prys: R595 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Die staalraam is met poeierverf behandel en behoort lank te hou. Dis egter nie 'n tafel waarop 'n mens kan sit nie.
Oztrail-leefstyltafel
Sagte blad

Hier is 'n interessante ontwerp vir 'n kamptafel: Die blad is van versterkte poliëster en die pote herinner sterk aan die ontwerp van 'n spinnekopstoel. In die blad is houers vir julle glase, maar hy staan net 480 mm hoog, wat beteken hy hoort eintlik tussen jou en Liefie se kamptstoele terwyl julle kyk hoe die son sak.
Prys: R430 by Mega Warehouse.
Ry & Sleep sê
Dit is die enigste tafel op dié bladsye met sy eie drasakkie.
Front Runner-opvou-agterdeurtafel
Dubbeldoor deur

Hierdie is nie 'n tafel waarom jy en die gesin vir middagete aansit nie, maar eerder die soort waarop jy die frikkadelle en kookeiers sit wanneer julle stilhou vir padkos. Hy is pasgemaak vir 'n Jeep Wrangler se agterdeur: Die tafelblad is 648 mm lank en 331 mm breed. Jy kan die tafel egter tot 445 mm rek as jy die verlengstuk aan die kant uittrek. Daar's 'n rubbervoering wat keer dat hy rondstamp en raas terwyl jy ry.
Prys: R1 574 by Front Runner.
Ry & Sleep sê
Jy kan hom ook in ander bakkies of sportnutse laat aanbring, maar dit verg 'n behoorlike installasie en genoeg plek om gate te boor.
Oztrail-piekniektafel
Tafel vir vier

Hierdie een is nommerpas vir 'n klein gesin wat saam in die buitelewe kuier. Elke sitplek weerskante van die tafelblad kan tot 100 kg dra; dus is dit nie net vir klein outjies bedoel nie. Die tafel vou ook klein en netjies op en dis nie 'n straf om hom heen en weer te dra nie. Die tafelblad is van melamien en het 'n rand van aluminium. Die staalraam is met poeierverf behandel en dus duursaam.
Prys: R2 454 by Campcraft.
Ry & Sleep sê
Dit is 'n sterk en stewige tafel, maar hy weeg skaars 11 kg.
Leisure Quip-opvoupiekniektafel
Maklik om te pak

Hierdie tafel is uniek omdat sy tafelpote nie net uitswaai nie, maar ook oor mekaar invou. Dit beteken die tafel slaan platter op as die meeste ander modelle en hy neem nie baie plek in jou bagasieruim of wa op nie.
Prys: R450 by Takealot.
Ry & Sleep sê
Hierdie tafel is ewe tuis langs die viswaters en het plek vir al jou visgerei én die ietsie wat jy saamneem om jou dors te les.
AfriTrail Anywhere-opvoutafel
Doodeenvoudig

Hier is een vir jou as jy op soek is na 'n groot tafel wat in twee opvou. Sy staalraam is sterk en hy het rubberpootjies sodat hy stewig staan waar jy hom ook al neerplak. Hy is 1 800 mm lank en 720 mm breed - jy het dus meer as genoeg plek sodat die gesin kan kom aansit.
Prys: R580 by Takealot.
Ry & Sleep sê
Die tafel kan 'n gewig van tot 120 kg dra.
Tentco-piekniektafel en -bankies
Dis etenstyd!

Dié meneer is geskik vir 'n gesin van vier, maar die tafel en bankies van Tentco is los items wat 'n mens as 'n stel kan aanskaf. Die tafelblad en bankies se sitplekke word van hoëdigtheidpoliëtileen gemaak en die staalrame word met poeierverf behandel.
Prys: R1 250 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Die stel kom nie met 'n drasak nie, maar jy kan een by Tentco bestel vir R330.
Tentco-skottelgoedtafel
Alles-in-een

Hierdie produk is nommerpas vir mense wat hulle skottelgoed sommer daar by die staanplek wil skoonkry. Die skottelgoedtafel van Tentco het twee skottels vir was en afspoel, 'n droograk en 'n tafelblad waarop jy die skottelgoed kan pak. Die hele lotjie weeg 5,2 kg.
Prys: R895 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Jy kan die blad onder die wasbakke verwyder en bo-oor plaas om die skottelgoedtafel in 'n gewone tafel te omskep.
Lifetime-opvoutafel
Soos by die kerkbasaar

Dié tafel is sonder tierlantyntjies. Maar teen 1 830 mm lank en 760 mm breed is dit die grootste een van die lot. Die blad word van 42 mm- hoëdigtheidpoliëtileen gemaak en die raamwerk van 25 mm-staal wat met poeierverf behandel is. Die tafel word boonop vir twee jaar gewaarborg.
Prys: R1 000 by Outdoor Warehouse.
Ry & Sleep sê
Die tafel kom nie met bankies nie, maar jy kan 'n bypassende opvoubankie by Outdoor Warehouse aanskaf vir R1 000.
Oztrail-opvoutafel met pakplek
Tuis in die kombuis

Hierdie een herinner sterk aan die een wat Ouma in haar kombuis gehad het. Die kas onder die melamienblad is 'n sak van poliëster, maar die storie is stewig genoeg sodat jy al jou kookgerei daarin kan bêre wanneer julle kamp. Die blad is 1 200 mm lank, 820 mm breed en staan 600 mm hoog.
Prys: R1 495 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Sy raam is van aluminium en die tafel weeg net 7,5 kg.
Front Runner-vlekvryestaalsytafel
Langs die kant

As jy nie regtig gate in jou ryding wil boor nie (toemaar, Land Rover Defender-eienaars, ons verstaan...) is hierdie die tafel vir jou. Hy werk op dieselfde beginsel as 'n boswa se opslaantafel in die buitekombuis en word teen die bakwerk aangebring met 'n enkele tafelpoot as anker.
Prys: R2 495 by Front Runner.
Ry & Sleep sê
Die tafel is groter as wat jy dink - 1 150 mm lank en 550 mm breed.
Front Runner Pro-vlekvryestaalkamptafel
Dakrak se pasmaat

As jy reeds met 'n Front Runner-dakrak op jou ryding spog, maak dit sin om hierdie tafel vir jou toertrokkie aan te skaf. Die Pro-kamptafel pas knus onder die dakrak.
Prys: R3 838 by Front Runner.
Ry & Sleep sê
Ja, dit is 'n klomp geld vir 'n kamptafel, maar hy word gebou om te hou met aluminiumpote (wat met poeierverf behandel is) en 'n blad van vlekvrye staal
Handelaarsnetwerk
4x4 Mega World 4x4megaworldonline.com
Campcraft campcraft.co.za
Camp & Climb campandclimb.co.za
Front Runner frontrunneroutfitters.com
Mega Warehouse megawarehouse.co.za
Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za
Takealot takealot.com























