Buitelewe

Die kan wat kán

Jy ken waarskynlik al die breë trekke van die jerrykan se geskiedenis: Dit is die Duitsers wat dié bekende brandstofkan en ou langpadstaatmaker tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgevind het, en "jerry" was Britse sleng vir Duitse troepe.

Maar die volle verhaal is selfs nóg interessanter... Vroeër jare is olie en brandstof uitsluitlik in vierkantige blikkanne aan die publiek verkoop, iets wat koöperasies en grootmaatsupermarkte vandag nog gebruik vir kookolie en paraffien. Maar met die Spaanse Burgeroorlog in 1936, wat deur Nazi-Duitsland ondersteun is, is ontdek die gesoldeerde nate van dié kanne bars té maklik as dit hardhandig hanteer word.

'n Ander soort metaalkan, een wat soos 'n driehoekige aktetas gelyk het en in 1928 deur Vinzenz Grünvogel ontwerp is vir die Duitse ingenieursfirma Eisenwerk Müller & Co. AG in Schwelm, Westphalia, het aansienlik beter presteer as die gewone blikkanne.

Die Duitse weermag was beïndruk met Grünvogel se ontwerp, maar ná die terugvoer van soldate wat in die Spaanse Burgeroorlog geveg het, was dit duidelik die weermag verkies 'n reghoekige brandstofkan wat op mekaar gestapel kan word.

Die Duitse weermag se ander vereiste was dat een soldaat een vol kan in elke hand moes kon dra óf vier leë kanne - twee in elke hand. Die gevolg was die Wehrmacht-einheitskanister, oftewel die 20 l-jerrykan.

Ná die Spaanse Burgeroorlog het die Duitse leër derduisende jerrykanne opgegaar ter voorbereiding van die dreigende blitsoorlog teen hulle Europese bure. Intussen het die Amerikaner Paul Pleis in 1939, blykbaar salig onbewus van Adolf Hitler se sluwe planne, saam met 'n onbekende Duitse ingenieursvriend op 'n padlangse toer van Duitsland af tot in Indië vertrek. Pleis se vriend het vir hulle uitdagende reis 'n paar jerrykanne vasgelê omdat dit soos goeie waterkanne gelyk het. Dié kanne was by die Berlynse lughawe versteek.

Kort daarna breek die oorlog uit en die twee vriende moet hulle roadtrip kortknip. Die Duitse ingenieur is na sy vaderland herroep en Pleis is terug Amerika toe waar hy die merkwaardige Duitse brandstofkan aan die Amerikaanse weermag voorgelê het. Die Yanks het 'n halfhartige poging aangewend om iets soortgelyks te bou, maar die Amerikaanse leër het volstaan met skroefproppe eerder as die jerrykan se skarnierprop, en tradisionele gesoldeerde rolnate op die boom pleks van die versonke sweisnate van die jerrykan.

Toe Brittanje en Amerika die wapen opneem teen Duitsland, is ontdek dat nóg die stokou Britse blikkanne wat hoe lank al in gebruik was nóg die ondergeskikte Amerikaanse namaaksels opgewasse is teen oorlogtoestande. Die Geallieerdes het gou hulle fout besef en dadelik kopieë van die Duitse jerrykanne gemaak wat aansienlik meer betroubaar was as hulle lekkende blikke.

Vandag, 80 jaar later, is die jerrykan die standaardbrandstofkan vir Navo én van veldryentoesiaste reg oor die wêreld.

Só dra jy 'n jerrykan

Die Duitse weermag wou hê die sogenaamde Blitzkrieg moes momentum behou en daarom het hulle vereis dat elke troep vier leë jerrykanne moes kon dra - twee in elke hand. Die oplossing was die trippelhandvatsel: een handvatsel links, een in die middel en een regs.

As die kan vol brandstof is, dra jy hom aan die middelste handvatsel; as hy leeg is, dra jy hom aan die regterkantste handvatsel en gryp met dieselfde hand 'n tweede leë kan aan die linkerkantse handvatsel.

As 'n Duitse soldaat etlike kilometers van die brandstofdepot af moes loop tot waar sy Truppenluftschützenpanzerwagen sonder brandstof gaan staan het, kon hy 'n kameraad vra om te help. Dan kon hulle twee-twee dra deur elkeen aan 'n buitenste handvatsel vas te hou.

Plastiek of metaal?

Hoewel die jerrykan sedert 1939 feitlik 100% onveranderd gebly het, kan jy deesdae ook brandstofkanne uit poliëtileenplastiek koop.

Plastiekkanne is effens goedkoper as jerrykanne - gewoonlik rondom R450 vir 'n 25 l-plastiekkan teenoor R650 vir 'n goeie 20 l-jerrykan. Boonop bevat poliëtileen geen bisphenol-A (BPA) wat jou sal vergiftig as jy hom vir water gebruik nie. 'n Ander voordeel is natuurlik dat poliëtileen minder weeg as metaal - jy gaan dus nie so swaar hoef te dra as jy sonder brandstof gaan staan en na 'n vulstasie toe moet stap nie.

Maar dit is hier waar die voordele van 'n plastiekkan eindig.

Jerrykanne is sterker as plastiekkanne en jy kan hardhandiger met hulle werk. As 'n plastiekkan lek, moet jy hom weggooi (hoewel 'n klein gaatjie toegesmelt kan word) terwyl jy 'n gat in 'n jerrykan met staalgom kan lap. 'n Jerrykan se skarnierprop sal nie wegraak nie, terwyl die skroefprop van 'n plastiekkan maklik voete kry.

Jerrykanne is sterker as plastiekkanne en jy kan hardhandiger met hulle werk. As 'n plastiekkan lek, moet jy hom weggooi.

Petrol kan verby 'n plastiekprop se skroefdraad lek nadat die prop in sand geval het, iets wat nie met 'n jerrykan sal gebeur nie. Jy kan 'n jerrykan binne jou voertuig vervoer (wanneer jy byvoorbeeld hoë sandduine ry en die gewig laag wil hou) terwyl poliëtileen poreus is en petroldampe binne die kajuit gaan vrylaat.

Weens dieselfde rede moet jy ook nie brandstof vir lang tye in plastiekkanne berg nie, want die poliëtileen laat lug na binne deur wat brandstof se oktaanvlak verlaag sodat dit ná 'n paar maande nie meer in jou trokkie se enjin wil ontvlam nie.

Jerrykanne wat vir watergebruik voorberei is, sal nie roes nie, en jy kan hulle vir jare begrawe sonder dat die water daarin aangetas word. Plastiekkanne laat verdamping toe en sal mettertyd leër raak ten spyte daarvan dat die prop styf toegedraai is.

Poliëtileen word ook deur die son verweer, en ná 'n paar jaar sal plastiekkanne verbrokkel.

Watter kleur vir watter vloeistof?

Suid-Afrika het geen bepalings en voorwaardes oor watter kleur 'n jerrykan moet wees nie. Selfs die Europeërs, wat gewoonlik behep is met regulasies, verlang slegs dat 'n jerrykan aan ADR-standaarde voldoen (dit staan vir Accord Européen relatif au transport international des marchandises Dangereuses par Route).

In kort kom dit daarop neer dat brandstof nie uit 'n jerrykan mag lek wanneer dit vervoer word nie. Geen melding word gemaak van 'n spesifieke kleur nie.

Die enigste plek ter wêreld waar jerrykanne vir verskillende stowwe verskillende kleure moet hê, is die Amerikaanse staat Kalifornië - iets wat nie-amptelik deur die res van die wêreld aangeneem is.

Kalifornië se ATM F852-regulasie bepaal dat rooi jerrykanne uitsluitlik vir petrol (of gasoline) gebruik moet word en middelgeel vir diesel. Middelblou is slegs vir die vervoer van keroseen (plaaslik bekend as paraffien).

Die gier om jerrykanne in verskillende kleure te verf het posgevat onder vervaardigers buite Kalifornië, en in Suid-Afrika aanvaar ons oor die algemeen rooi jerrykanne is bedoel vir petrol, geel vir diesel en ligblou vir water.

Maar hoe gemaak met die swart en die groen jerrykanne? Die groenes is vir Land Rovers en die swartes vir Land Cruisers, natuurlik!

Maar alle grappies eers op 'n stokkie: Die waarheid is dat Suid-Afrika geen regulasies het oor watter kleur 'n jerrykan moet wees nie; dit word oorgelaat aan die vervaardiger en verbruiker.

Wat plastiekkanne betref, gebruik ons die rooies vir petrol en geles meermale vir diesel, net soos die Kaliforniërs dit wil hê, maar ons tap eerder drinkwater in die blou kanne omdat die deursnee-Suid-Afrikaner nie weet wat om met soveel paraffien te maak nie.

Terloops, as die blou plastiekkan jou drinkwater na plastiek laat smaak, kan jy die volgende probeer: Tap die kan driekwart vol vuurwarm kraanwater (nie kookwater uit die ketel nie) en voeg een eetlepel koeksoda per liter water by. Los die water om af te koel (minstens 'n uur) en spoel die kan uit met koue kraanwater. Herhaal die proses as die plastieksmaak ná 'n paar maande terugkeer.

Toerusting
Toerusting

Oppas vir namaaksels

Vroeër het ons gesê 'n jerrykan is beter as een van plastiek, maar dit geld slegs vir jerrykanne wat volgens die Navo-standaard vervaardig word. Hier is 10 eienskappe van 'n goeie jerrykan:

1. 'n Jerrykan bestaan uit twee panne wat in die lengte aan mekaar vasgesweis word. Die sweisnaat is versonke (dus laer as die romp) sodat die naat nie teen iets skuur wanneer die jerrykan vervoer word nie. 'n Goedkoop jerrykan se naat is verhewe bo die romp en kan maklik beskadig word.

2. Die trippelhandvatsel toon goeie sweiswerk wat die hele breedte van die handvatsel aan die jerrykan heg. Goedkoop namaaksels gebruik minderwaardige kolsweiswerk (spot welding).

3. Die tuit is effens breër na onder as na bo en die luginlaat is breed om genoeg lug deur te laat sodat brandstof vrylik kan uitvloei sonder om te sluk. Goedkoop namaaksels het dikwels 'n onvoldoende dunnerige lugpypie wat kop uitsteek.

4. Die klepskarnier is uit een stuk metaal wat die ore insluit waardeur die prop se tande steek. Namaaksels het papperige lussies waardeur die prop se tande steek, en hulle breek mettertyd af.

5. Die verflaag is bestand teen jou motorsleutels as jy liggies daaraan krap. Indien nie, is die kan beslis nie duursaam genoeg vir veldrytoestande nie.

6. As jy die prop oopmaak en brandstof uittap, bly die prop oop. 'n Namaaksel s'n val toe.

7. Die rubberseël binne die prop val nie uit wanneer jy die jerrykan hanteer nie. 'n Goedkoop jerrykan se seël val maklik uit wanneer jy die kan skud.

8. Die trippelhandvatsel is gerond en gemaklik genoeg dat jy etlike kilometer ver met die kan in jou hand kan loop sonder dat die handvatsel in jou vlees insny.

9. Wanneer jy by die kan inloer, sal jy 'n rooibruin verflaag sien. Dit is 'n beskermende laag wat keer dat brandstof met die metaal reageer en dit beskadig. Goedkoop namaaksels het dikwels onbehandelde metaal wat mettertyd gaan roes.

10. 'n Navo-jerrykan is swaar, want die metaal is dik en duursaam. Namaaksels is pure blik en jy kan 'n duik in hom moker met jou vuis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM