Drie foto's van Stellenbosch

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dié Kaapse enkelspoorparadys bied ook wêreldklas-wyn, puik koffie en kos vir die fynproewer, so waarvoor wag jy?

Ou maat, daai pieke darem . . .

Wanneer 'n mens uit Stellenbosch se strate boontoe kyk, verrys hulle breed en bonkig sover die oog kan sien. Ek tjek hulle al dekades lank uit en elke nou en dan kry ek kans om vars spore in dié heuwels fantasties te gooi.

Verlede naweek was ek weer daar, maar agter die lens, en saam met van Suid-Afrika se voorste fietsryers. Fourie Kotze en Hannele Steyn is bekend in plaaslike en internasionale bergfietskringe, en hulle het 'n brigade trappers saamgebring.

Steyn is die enigste vrou wat al 19 wedrenne van die Cape Epic sedert 2002 voltooi het en mik vanjaar na haar 20ste. Haar splinternuwe Core Carbon-ysterperd is een van Stellenbosch se suksesstories en is oor die afgelope drie jaar noukeurig deur Fourie ontwerp.

Dekades se ondervinding as 'n Suid-Afrikaanse kampioen in verskeie fietsry-dissiplines, sowel as ongeëwenaarde navorsing, ontwikkeling en produksieprosesse, beteken hierdie reeks koolstof­rame en -wiele hoef nie 'n millimeter vir enige fietsmaatskappy terug te staan nie.

Daar is dosyne bergfietsroetes om Stellenbosch om van te kies, soos die STF-bane by Coetzenburg en ikoniese roetes by Boschendal, Dwarsriviervallei, die Banhoek Bewarea, Muratie en Dornier.

Maak seker jou kuite, longe en liggaam is gereed, want daar klim 'n mens vir 'n vale.

Die roetes beslaan sowat 300 km en dek die hele spektrum van wat jy op 'n berg- of gruisfiets kan ervaar. Wingerde en boorde en fynbos en renosterveld swiep verby, met bostonnels deur rooikrans-woude en propperse klipspringerpaadjies tot reg teenaan daardie verruklike pieke op die horison.

Ons het vroegoggend die heuwels ingevaar, met die eerste sonstrale wat Coetzenburg se hange in skakerings van amber en goud belig het.

• Die Core Carbon-span was spiekeries uitgevat in hul nuwe uniform. Die lig op die enkelspoor was net reg en die uitsig oor die sluimerende dorpie was poskaartmooi - alles waarvoor 'n fotograaf kon wens.Marais is 'n avontuurskrywer en bekroonde fotograaf van Kaapstad.

Stellenbosch is minder as 'n uur se ry van Kaapstad. Die Wynlandstreek is regdeur die jaar pragtig, maar die somers raak rooiwarm. Beplan dus om vroegdag te gaan ry of wag vir die winter en pak jou warmste windjekker!

Helde en heldinne

Groepfoto's van sportmense is altyd 'n uitdagende storie en ek is bevrees dit gaan hier net so baie oor kamerategniek as om reg te poseer.

Dis 'n kwessie van "maag in, bors uit, skouers terug, maak jou rugstring lank en oefen daardie yster-kyk". Soms werk dit, soms nie. Die beste is om 'n dosyn of wat foto's te neem vir geval iemand se oë dalk toe is. Deesdae is die gebruik van 'n eksterne kameraflits in die meeste gevalle onnodig omdat sensors se dinamiese omvang so goed is dat 'n mens die skaduwees maklik in Lightroom of soortgelyke programme kan aanpas. Kunsmatige intelligensie (KI) in fotografie raak al hoe meer deel van die proses en 'n mens kan byvoorbeeld net jou agtergrond of fokale punt kies en dit dan aanpas om die wolke effens meer kleur te gee.

Fotodata:

• Kamera: Sony a7r4

• Sluiterspoed: 1/640 sek.

• Lensopening: f1.8

• ISO: 250

• Lens: Sony G-Master 135 mm

Fietsryers in aksie:

Beweging. Fokus. Kontras. Emosie. Dis 'n paar van die elemente wat drama aan 'n foto kan verleen. Wat ek hier wou illustreer is al keer op keer gedoen, maar dit bly werk. Wat jy doen is om 'n stadige sluiterspoed te kies en dan jou lens teen dieselfde spoed as die ryers te beweeg om sodoende 'n vervaging te skep. Die onderwerp bly in fokus, terwyl die agtergrond dromerige strepies trek. Maak jou sluiterspoed byvoorbeeld die omgekeerde van jou fokale lens se lengte: Sou jy met 'n 50 mm-lens skiet wil jy teen minder as 1/50 sek. skiet.

Fotodata:

• Kamera: Sony a7r3

• Sluiterspoed: 1/15 sek.

• Lensopening: f16

• ISO: 50

• Lens: Sony G-Master 14 mm

Wye landskap:

"Gevoel van plek" is wat die groot foto-kokkedore hierdie soort kiekies noem. Die idee is om jou ryers binne die landskap te wys, met die natuur sentraal tot die visuele aspek. Daar is nie werklik reëls nie, maar my gevoel is dat dit 'n 20/80-verhouding is . . .

Jy wil eers die groot prentjie sien, en dan trek jou oog na die mense toe wat daar êrens hul ding doen. Die hoër hoek waaruit ek skiet verleen meer drama, en so ook die feit dat ek die reëls verbreek deur teen die opkomende son te skiet.

Fotodata:

• Kamera: Sony a7r4

• Sluiterspoed: 1/3 200 sek.

• Lensopening: f1.8

• ISO: 50

• Lens: Sony G-Master 14 mm

SPELETJIES VANDAG

CTA