Buitelewe

Koebaai, kampeer, hallo, glampeer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Glanskampering, oftewel glampering, is luukser as gewone kampering, maar jy kan steeds die ervaring van kamp geniet en die natuur beleef.                                                                    Foto: ISTOCK
Glanskampering, oftewel glampering, is luukser as gewone kampering, maar jy kan steeds die ervaring van kamp geniet en die natuur beleef. Foto: ISTOCK

Om tent op te slaan is so te sê iets van die verlede, want om te glampeer het die laaste paar jaar begin gewild geword. As jy daarvan hou om in die natuur te wees, maar sonder die ongerief wat kampeer meebring, is glampeer net die ding om te probeer. Met die wintervakansie wat aangebreek het en Kaapstad wat sommer lekker nat kan raak, is dit dalk die beste opsie vir jou!

Abigail Brown het in 2022 vir 'n naweekwegbreek by Otium Oasis Glamping & Camping in Tesselaarsdal buite Caledon gaan glampeer.

"Dit was my eerste keer. Ek is nie regtig 'n kampmeisie nie. Ek verkies die luuksheid van 'n goeie gemaklike bed, geen stof nie en die alledaagse benodigdhede waaraan ek gewoond is, soos lopende water, 'n lekker bad of stort, en elektrisiteit. Die vooruitsig om dié geriewe te geniet, maar steeds in die buitelug te wees, was dus ideaal."

So het die kamer gelyk in die tent waar Abigail glampeer het.           Foto: Abigail Brown
So het die kamer gelyk in die tent waar Abigail glampeer het. Foto: Abigail Brown

Abigail en haar mense het in 'n ruim tent hoog bo grondvlak (waarskynlik om spinnekoppe weg te hou) gebly. "Die tent self was opgedeel in vier dele - kombuis, twee slaapkamers en 'n badkamer. Dit was ruim genoeg en nie te klein vir 'n groep van vier nie. Een slaapkamer het 'n koningingroottebed en die ander kamer twee enkelbeddens. Daar is 'n netjiese badkamer met 'n groot bad, 'n wasbak en 'n toilet - alles met moderne afwerkings.

"Die kombuis is toegerus met basiese toebehore, soos 'n yskas, mikrogolfoond, wasbak en 'n induksieplaat vir kook, en natuurlik borde, potte, en so meer.

"Die dek bied 'n ruim sitgedeelte vir oggendontbyt en dit gee jou 'n mooi uitsig op die kampeerterrein onder pragtige groot dennebome. Terwyl jy buite sit, kan jy wild soos springbokke en sebras sien wat op die plaas loop en eet.

"Buite die tent is daar 'n toegeboude privaat braaigedeelte met 'n bankie en tafel vir sitplek, asook 'n privaat borrelbad. 'n Absolute juweel vir die koeler dae en aande."

Sy sê die kamp het 'n paar van hierdie tente en twee tipi-tente met gemeenskaplike kookgeriewe. " 'n Gemeenskaplike swembad en speelpark vir kinders is ook beskikbaar. Ons was absoluut mal daaroor om die diere op die plaas te kon voer - varke, hoenders, eende en alpakkas - asook om te kyk hoe die sebras en springbokke die plaas vol hardloop."

Abigail vertel 'n lekker oggendstappie na Tesselaarsdal, deur die appelplaasboorde en bergagtige gebied, was vir haar 'n hoogtepunt, want só kon sy ook bietjie oefening kry terwyl sy die dorp verken het.

"Om in die natuur te wees, met 'n bietjie luuksheid, was natuurlik die algehele hoogtepunt - om wakker te word met die geluid van tjirpende voëls en met die son wat teen dagbreek deur die tentvensters skyn! En het ek genoem dat ek luilekker in die hangmat en in die warmbad kon lê terwyl ek aan vonkelwyn teug?"

Volgens Abigail sal sy beslis weer glampeer wanneer sy die kans kry. "In wese was ek absoluut mal daaroor en sal dit beslis weer doen, want die gevoel van in die natuur wees met 'n titseltjie luukse is my soort vibe."

Courtney Cupido in die deur van die tent waar hulle by Constantianek oornag het. Elke tent het 'n unieke naam en nommer.  Foto: Verskaf deur Courtney Cupido
Courtney Cupido in die deur van die tent waar hulle by Constantianek oornag het. Elke tent het 'n unieke naam en nommer. Foto: Verskaf deur Courtney Cupido (SYSTEM)

Courtney Cupido was gelukkig om al by twee geleenthede te gaan glampeer. "Ek het al by Sanparke Smitswinkel by Kaappunt en ook by Constantianek glampeer."

Albei geleenthede was 'n spanbousessie vir werk. "My eerste keer was by Smitswinkel en ons het die Vrydagmiddag vertrek en oornag. My tweede keer was by Constantianek en daar het ons ook een nag oorgebly."

Courtney sê hoewel sy haar bedenkinge gehad het, was die eerste keer wat sy glampeer het verbasend lekker. "Ek is nie iemand wat hou van tente en kampeer nie, maar hierdie plek was lekker ingerig en alles was so mooi. Ek vereenselwig kampeer met byvoorbeeld muskiete, en ek hou van geriewe, stort en skoon voel voordat ek gaan slaap, en gemaklik voel.

"Albei plekke het braaigedeeltes gehad. By Smitswinkel het ons die aand gebraai en om die vuur gekuier, asook 'n paar speletjies gespeel in die deel waar jy weg van die tente kan kuier, amper soos 'n onthaalruimte op die perseel, baie lekker ingerig met alles."

Sy sê by Constantianek was hulle in groepe verdeel vir 'n potjiekos-kompetisie die middag. "So daar was toegeruste braaigeriewe met 'n gedeelte waar jy al jou kosvoorbereiding kon tref - baie gerieflik."

Courtney verduidelik dat sy aangenaam verras en baie beïndruk was met die uitleg van die tente en alles wat so geredelik beskikbaar is. "Ons was twee in 'n tent met twee enkelbeddens en 'n badkamer per tent. By Smitswinkel het ek aan my kollegas gesê dis regtig kamp in styl. By Constantianek was daar 'n gemeenskaplike stort wat baie lekker ingerig was, maar ek verkies Smitswinkel en sal enige tyd teruggaan asook dié soort glampering vir ander aanbeveel.

"Die geriewe was perfek, om dit só te stel - ek kon niks fout vind nie. In die ontspanningsgedeelte het niks tekortgeskiet nie. Van 'n gasstoof tot glase, mooi breekware tot 'n yskas. By Smitswinkel was daar handdoeke uitgesit in die tent. Die badkamer is so goed ingerig vir 'n tent, ek was regtig uit die veld geslaan. Die tente is gerieflik en warm en dit lyk soos 'n gewone tent van buite, maar van binne soos 'n kamer waar jy net kan gaan lê en rus en rustig wees."

Met aangename medekampeerders is die ervaring volmaak afgerond en het sy nou 'n heel ander idee van kampeer. "Ek verkies glamping. Jy het alles wat nodig is. Dis 'n kans om in die natuur te wees sonder om te bekommer oor koud kry. Albei geleenthede was in Augustusmaand, wanneer dit steeds koud is in die Kaap en ek kry nogal vinnig koud. Die tente was uitstekend ingerig hiervoor."

Op die vraag of sy weer sal glampeer, antwoord sy: "Ja beslis! Dit was 'n lekker ervaring om die mooi Wes-Kaap se natuur te ervaar. Die lug was so vars as jy uitstap uit jou tent ná 'n heerlike nagrus."

Oorweeg beslis glampeer by hierdie glanskampe in die Kaap dié winter

• Klop aan by !Khwa Ttu tussen Yzerfontein en Darling. Hulle bied die Bush Lodge en Bush Camp. Die Bush Lodge kan agt mense in vier luukse tente huisves. Die tente het 'n koninggroottebed met 'n badkamer en suite, sitkamergedeelte en toegeruste kombuisie. Die Bush Camp kan 10 mense in vyf tente huisves. Die tente het twee enkelbeddens. Die gemeenskaplike geriewe sluit in twee buitebadkamers met storte en toilette, 'n sentrale kombuis en boma met 'n vuurput.

Vir meer inligting, besoek webwerf.

• Camp Canoe is op 'n besonders pragtige piek van die Boschendal-wynlandgoed geleë. Daar is sewe luukse tente wat toegerus is om kampeerders 'n ervaring van die buitelewe te gee. Elke tent is heeltemal afgesonder met al die gereedskap wat jy sal benodig. Alle tente het hul eie houtvuurbad, 'n pragtige dek met ongelooflike uitsigte, 'n knus kaggel, 'n volledige kombuisie en 'n Weber-braai op die dek.

Vir meer inligting, besoek hul webwerf.

• In die Hemel-en-Aarde-vallei is Canvas Collective Africa. Hul luukse tente is geheel en al van seil gemaak en bied luukse blyplek vir die oordeelkundige avontuurlustige - 'n plek vir natuurentoesiaste wat daarvan hou om die buitelewe te geniet, maar huiwerig is om hul gerief ontneem te word. Die intieme leefvertrek is ruim, en daar is 'n koninggroottebed en handgemaakte meubels, matte en vrystaande lampe. Dit is knus met net die regte hoeveelheid weelde.

Vir meer inligting, besoek hul webwerf.

• Old Mac Daddy in die Elgin-vallei bied drie tentkampe elk met hul eie unieke bekoring. Daddy's Hideaway en Daddy's Den het slaapplek vir twee volwassenes en twee kinders. Big Daddy's Den kan tot ses mense in drie tente huisves ('n vierde tent kan bygevoeg word teen 'n ekstra fooi). Al drie glampeer-plekke bied 'n mini-kroeg, koffiestasie, 'n badkamer met 'n stort, 'n bad, handdoeke en eko-vriendelike badkamergeriewe, 'n koningin-/koninggroottebed met wit katoenlinne, ontbyt ingesluit en daagliks bedien in The Barn Restaurant. Geen selfsorg is nodig nie en daar is geen bykomende koste vir kinders nie.

Vir meer inligting, besoek hul webwerf.

• AfriCamps bied verskeie luukse glanskampgeriewe oor die hele land, waarvan ses in die Kaap en omstreke is. Dit sluit in Wellington, die Cederberg, Hexvallei, Stanford, Robertson en Swellendam. Lees vandag in Die Burger se Wintervakansie-bylae oor hul verblyf, asook oor die spesiale afslag wat hulle eksklusief aan Die Burger se lesers bied. Besoek gerus hul webwerf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM