Is dit 'n skildery?
'n Foto kan 'n tweede betekenis kry as jy vooraf die foto doelbewus anders neem, soos John Christie van Pietermaritzburg gedoen het.
"Hierdie foto lyk na 'n swart-en-wit foto, maar is in der waarheid 'n kleurfoto sonder enige veranderings nadat ek dit geneem het. Ek het wel besluit om die foto te onderbelig voor ek dit geneem het. Die blou lug heel regs en die kleurgedeeltes in die flikkerringe wat die son in die lens veroorsaak, verklap dat dit nie net 'n swart-en-wit foto is nie. Ek het die foto op Herm Island in die Engelse Kanaal geneem - nie te ver van die Franse kus af nie."
Van bloot net 'n foto met twee mense op die strand verander John sy foto in 'n kunswerk deur die foto "verder" te onderbelig.
Omdat John reeds teen die son in neem (met die son in die foto), dwing hy die kamera om vir die helder son te kompenseer deur te onderbelig. Deur dan verder te onderbelig raak hy ontslae van die meeste detail in die skaduwees - dit word dan oorwegend swart. Die helder dele staan dus nóg meer uit teen die swart. En in die regterkantste hoek sien jy gewone detail in die blou.
Buiten die tegniese benadering het John homself só agter die figure geposisioneer dat hulle presies in die wit waterweerkaatsing staan. Dis dus ooglopend die fokuspunt van die foto, maar meer as net iets wat 'n mens in jou familiealbum sal sit. Dit lyk omtrent soos 'n kunswerk en herinner 'n mens aan die ikoniese Britse fotograaf Bill Brandt wat dramatiese swart-en-wit foto's op klipstrande geneem het.
Die flikkerringe sal 'n mens normaalweg pla, maar in dié geval gee dit die foto 'n verdere mistieke gevoel.
Tot doer op die horison...

Dié twee foto's van die Pretorianers Marietjie van der Merwe en Ronel van Wyk lyk dalk anders, maar eintlik vertel dit dieselfde storie.
"Ek en my man, Carel, het met ons tentjie deur Namibië gaan toer. Tussen Swakopmund en Hentiesbaai het ons afgetrek om die omgewing te bewonder. Die stilte op die foto spreek vir my boekdele." - Marietjie (eerste foto)
"Ek het onlangs aan die Sterrewag Enduro-staptoer - waar jy 192 km oor tien dae stap - voltooi. Op pad soontoe het ons by 'n gasteplaas net buite Carnarvon oorgebly, en dis hier waar ek die sonsondergang met die treinspoor afgeneem het. Ek het pas Weg se fotokursus voltooi en eksperimenteer 'n bietjie." -Ronel
'n Mens kan albei foto's geraam teen 'n muur in jou huis sien. Elkeen van die landskappe het 'n unieke bekoring en gebruik dieselfde komposisie-beginsels: Die horison lê op 'n derdelyn, met die diagonale element wat 'n mens se oog tot op die horison trek: Op Marietjie se foto is dit die paaltjies, en op Ronel se foto die spoorlyn.
Maar kyk weer na die foto's; nie een het werklik 'n fokuspunt nie. Die paaltjies en die spoor trek jou aandag, maar lei nie tot by 'n spesifieke punt wat jou oog vir 'n oomblik vashou nie.
Jy moet dus terugstaan en die foto's in die geheel geniet.
Skeertuig met vlerke

Wanneer 'n mens voëls afneem, moet jy wakker slaap. Dit is presies wat Charmaine Venter van Kaapstad gedoen het toe sy hier die knoppie gedruk het.
"Ek het hierdie foto van 'n kormorant een oggend vroeg in Kaapstad geneem. Dis by die Intaka-eiland, by 'n skuiling wat ek gereeld oor naweke besoek. Dis een van die plekke waar ek met my kamera gelukkig voel."
Om voëls af te neem is 'n kuns op sy eie, en 'n mooi foto bly 'n mooi foto. Charmaine vries op dié foto die voël in sy vlug, en dis iets wat 'n mens nie met die blote oog kan waarneem nie.
Jy kyk dadelik na die visvreter se bek, en jy sien hy het iets soos 'n takkie in sy bek. Verder lyk dit of die voël se linkervlerk net-net aan die water raak, en boonop laat die rimpeling op die water die voël se weerkaatsing opbreek sodat jy net die twee vlerke herken.
Die lae lig sorg vir 'n goeie foto, maar dit sou tog beter gewees het as die voël na jou toe vlieg - nie dat 'n mens enige beheer hieroor het nie! Verder kan 'n mens die raampie nader aan die voël en sy weerkaatsing trek sodat daar minder negatiewe ruimte is.
Stuur jou foto vir ons...
Ons soek nie die tradisionele "kompetisiewenners" nie; net doodgewone foto's wat vir jou mooi is. Van 'n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met 'n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie. Stuur jou foto's na leon.botha@media24.com











