Met my eie oë: Leeus vs buffel, Sabi Sand

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek en Antoinette is albei fotograwe, maar sy spits haar deesdae meer toe op video's. Ná afloop van 'n toer kies ons die beste foto's en video's en maak 'n halfuur lange hoogtepuntvideo met 'n lekker klankbaan.

Ons foto's lê nie op 'n hardeskyf en stof vergader nie - ons geniet dit weer en weer. Wanneer jy video en foto's kombineer, kry jy 'n beter waardering vir die omgewing waarin jy was.

Ons toer op ons eie, maar soms ook in 'n groep. Sedert 2008 kom ons byvoorbeeld byna elke jaar saam met ander ywerige wildlewefotograwe onder leiding van Tusk Photo by die Elephant Plains Lodge in die Sabi Sand langs die wildtuin.

In Oktober 2022 was ons een oggend teen halfses reeds op 'n wildrit van die Elephant Plains Lodge af.

Ons was 11 gaste in 2 twee wildkykvoertuie met ons Tusk-fotografiegidse Dawie Jacobs en Clint Ralph. Ons voertuig het 'n luiperdspoor gevolg terwyl die ander groep gery het in die rigting van waar leeus blykbaar 'n buffeltrop agtervolg het.

Ons het die luiperd gekry en foto's geneem tot sowat halfagt toe ons oor die radio van die ander groep hoor dat die leeus pas onder die buffels begin amok maak.

Met ons aankoms om 8.10 vm. het die groep van omtrent agt leeus reeds 'n buffelbul by 'n gronddammetjie aangeval - soos dikwels met 'n wyfie wat van agter op die buffel se rug spring en begin byt.

Die buffel se beste kans was om in die water te staan sodat die leeus halflyf in die water sou wees, en dus minder beweeglik.

Kort hierna het die wyfie hulp gekry toe twee van die ander leeus ook tot die geveg toetree.

Saam kon hulle die buffelbul in die water plattrek, maar hy was nog nie dood nie en het sy neus net-net bo die water gehou terwyl hy sy kragte herwin.

Die leeus kon nie by die buffel se keel uitkom om hom te versmoor nie - elke keer wanneer hulle naby kom, moes hulle oppas vir sy horings en laat spaander wanneer hy skielik regop kom.

Twee leeus het van agter af probeer aanval, maar die buffel het sy kop omgepluk en toe moes die leeus briek aandraai!

Dit was merkwaardig om te sien hoe sterk die leeuwyfies is. Toe die buffel op sy sy gelê het, het een wyfie hom aan sy stert probeer oewer toe sleep en 'n meter of wat gevorder voordat die buffel weer opgestaan het!

Om 8.45 vm. het die leeus die oorhand gekry, maar die buffel het steeds gelewe toe ek hierdie foto geneem het.

Dit was 'n voorreg om hierdie "strydrosse" van die Laeveld teen mekaar te sien spook. Die dam was die stadion; 'n mens kan maar sê die kolosseum waar hulle kragte gemeet het.

Ons het later die aand na die dam teruggegaan om kolligfoto's te neem en daarna het die volgende episode begin - die interaksie tussen die leeus en hiënas...

Wat 'n belewenis!

Antoinette en Freddie van Rensburg van Pretoria is al 51 jaar lank getroud. Hulle is afgetree en toer gereeld, maar niks kon hulle voorberei op dié dag in die Sabi Sand-wildreservaat nie.
Antoinette en Freddie van Rensburg van Pretoria is al 51 jaar lank getroud. Hulle is afgetree en toer gereeld, maar niks kon hulle voorberei op dié dag in die Sabi Sand-wildreservaat nie.
Antoinette en Freddie van Rensburg

SPELETJIES VANDAG

CTA