Ek was in 2022 in Januarie in die Kgalagadi-oorgrenspark met die Auob-pad van Twee Rivieren af noordwaarts onderweg. By die Batulama-watergat sien ek toe twee motors en die insittendes se kameras is op iets by die water gemik.
Ek het stadig nadergery en toe gewaar ek hom: 'n Luiperd wat kom suip het! Ná 'n kort rukkie het die kat weggeloop en oor die duine verdwyn en ek het nog ewe gedink: Jinne, ons klompie was darem maar gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees!
Min het ek geweet hoe my oggend sou uitdraai...
Ek ry toe sowat 3 km verder noord en kort duskant die Montrose-watergat staan 'n paar motors in die pad. 'n Troppie springbokke het daar naby in die rivierbedding gewei.
Mark en Lucia, twee vriende wat ek tydens 'n vorige Kgalagadi-besoek ontmoet het, was in een van die string motors en ek vra hulle wat aangaan. Hulle sê toe dat 'n jagluiperdwyfie en haar drie welpies sowat 150 m hoër op in die rivierbedding agter afgebrande bome wegkruip.
En die katte het duidelik die springbokkies in die oog. Ek besluit om saam die ander mense te wag om te sien of hier dalk iets gaan gebeur.
My Canon EOS 7D Mk. II met 'n Canon 100-400 mm-lens was byderhand en dit was nie lank nie, toe begin die wyfie die trop bokke stadig bekruip. Ek het eers gedink dat sy in dié onbeskutte terrein eers heelwat nader sou sluip voordat sy 'n aanval loods, maar die kat was nog 'n goeie 80 m weg toe sy skielik storm.
Sy't op 'n springboklam wat in die paniek van die trop weggebreek het, gefokus en hom skaars 30 m van waar my motor gestaan het, platgetrek.

Dis nie lank nie, toe's die bok bokveld toe en die welpies kon naderkom. Daar's eers 'n bietjie oor die bok tougetrek voordat die jongelinge die karkas na 'n koeltekol toe gesleep het waar die hele gesinnetjie toe lekker saam kon smul.

Dit was maar net nog 'n (ongelooflike!) dag in die Kgalagadi!
Geraldo Allais, George

Ek het die Kgalagadi die eerste keer in 2019 op aanbeveling van 'n vriend besoek en was dadelik dol op die plek. Ek probeer twee keer per jaar daar uitkom.
Die Urikaruus-wilderniskamp is my gunsteling, maar ek is nie kieskeurig nie - solank ek iewers in die Kgalagadi kan wees, is ek gelukkig! Soms besluit ek om op die nippertjie soontoe te gaan en moet dan maar buite die park verblyf bespreek.
Dan oornag ek graag by die Kgalagadi Lifestyle Lodge, skaars vyf minute se ry van die Twee Rivieren-hek af. Ek is 'n kranige natuurlewe-fotograaf en die Kgalagadi se oop rivierbeddings en duine verskaf oorgenoeg geleenthede om uitmuntende foto's te neem.






