Buitelewe

Leserfoto’s: Swartkopreier ‘hengel’ by Kij Kij-watergat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ek het van Twee Rivieren se kant in die Nossob-rivierbedding opgery. ’n Hele paar voertuie het by die Kij Kij-watergat gestaan, maar toe ek naby kom en net ’n swartkopreier daar sien sit, het ek gewonder wat dan nou so spesiaal is.

Maar toe sien ek waarmee die reier besig is!

Hy het in die water gestaan waar al die klein voëltjies móés kom water drink. Wanneer een dit te na aan hom gewaag het, het hy hom skielik gevang en ingekatrol, asof hy vir voëltjies hengel.

Hierdie reier was 'n meester. Hy sou sta-a-adig nader aan 'n voëltjie beweeg, met sy oë die ene fokus en konsentrasie.

Soms sou sy kop effens van kant tot kant kantel, asof hy sy aanvalshoek mooi uitwerk.

Sodra hy binne reikafstand was, het hy met verbysterende spoed toegeslaan. Hy sou sy slagoffer aan enige deel van die lyf gryp, solank hy hom hét.

Wanneer hy ’n goeie greep gehad het, sou hy die voëltjie in die water “doop”.

Ek was nie seker hoekom nie. Wou hy sy prooi verdrink? Of was dit makliker om ’n bedremmelde nat voëltjie ingesluk te kry?

Hy sou dan sy prooi gou in posisie kry in sy snawel en dit met twee of drie slukke afkry.

Maar dit was nie al nie! ’n Edelvalk het eenkant in ’n boom gesit en sake dophou.

Die valk het sy kans afgewag en tydens een van die reier se “hengelpogings” afgeswiep en die reier se vangs uit sy snawel probeer steel! Maar die reier was te slinks, en het die valk gefnuik.

Die aksie was vrék vinnig en moeilik om af te neem. My ouerige Nikon D850 kan net sewe raampies per sekonde neem – stadig in vergelyking met meer moderne kameras.

Maar ek kon tog één infokusfoto van die edelvalk neem.

’n Mens moet eenvoudig altyd gereed wees vir ongewone tonele soos dié.

En onthou om die oomblik te geniet – dit gaan nie alles oor foto’s nie.

Het jy iets interessants in die natuur gesien?

Stuur jou reeks foto’s en ’n kort beskrywing van die gebeure na toast@weg.co.za.

Hennie Blignaut

CTA