O om net te kon vlieg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Gripen-vegvliegtuig van die Lugmag swiep laatmiddag tydens ’n lugvertoning verby. Foto’s: Sam J. Basch
’n Gripen-vegvliegtuig van die Lugmag swiep laatmiddag tydens ’n lugvertoning verby. Foto’s: Sam J. Basch

Ken jy 'n aërofiel? Dis 'n liefhebber van vliegtuie. Hulle toer oraloor om die opwinding van lugvertonings te beleef, vertel Sam J Basch.

Dink net: lugvaart, soos ons dit ken, is slegs 120 jaar oud. Dit het by die broers Orville en Wilbur Wright begin. Hul Wright Flyer kon gedurende sy eerste probeerslag in 1903 slegs 12 sekondes in die lug bly!

Sedertdien is die klankgrens deurbreek en vlieg ons veilig oor die aardbol heen. Selfs op die maan het ruimtevaarders hul voetspore gelaat.

Nazariy Danylyshyn, 'n vlieënier in Philadelphia, VSA, skryf: "To be free from the embrace of gravity, even for a moment, is an exhilarating experience."

Tog bly dit vir vele mense, klein en groot, ook grysaards, 'n belewenis om na vliegtuie te kyk. Die mens het, vanaf die vroegste tye, gedroom om soos voëls in die lug te sweef.

Nazariy Danylyshyn, 'n vlieënier in Philadelphia, VSA, skryf: "To be free from the embrace of gravity, even for a moment, is an exhilarating experience."

Tienduisende mense trotseer heeldag die son wanneer die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum by Swartkops, Pretoria, sy jaarlikse lugskou in Mei hou. Die toeskouers bring hul kinders, veldstoele, koelbokse en kameras saam. (In September woon hulle die tweejaarlikse lugskou by die Waterkloof-lugmagbasis by.)

Vir entoesiaste met lang lense lewer dié lugvertonings uitstekende fotogeleenthede. Benewens die museum se eie historiese vliegtuie en helikopters, laat die vinnige vegvliegtuie soos Gripen en Hawk toeskouers na hul asem snak. Private eienaars wys ook hul veteraanvliegtuie soos die Mustang en selfs die ouer Tiger Moth. Honderde Suid-Afrikaanse lugmagvlieëniers het hul vliegvaardigheid aan die ikoniese Harvard te danke.

Met gereelde tussenposes trek kunsvlieëniers (aërobate) rookstrepe in die blou lug terwyl hulle in akkurate formasie vlieg.

Oral is stalletjies met worsbroodjies, hamburgers, pannekoek en koeldrank, asook aandenkings en boeke. Gaan ondersteun gerus die Vriende van die Lugmagmuseum. Hul Spitfire-herbouprojek (https://spitfire-restoration.co.za/) is 'n poging om 'n spesifieke Spitfire-vegvliegtuig, nommer DB-H 5518, tot sy oorspronklike vlieënde toestand te herstel.

Toeskouers neem selfoonfoto's by die Kaap St. Francis-lugskou.
Toeskouers neem selfoonfoto's by die Kaap St. Francis-lugskou.

Statiese uitstallings

Wat besoekers dalk nie besef nie, is dat sommige van die ou vliegtuigloodse op Swartkops van die 1920's dagteken. Dié is deur Brittanje geskenk toe die Suid­Afrikaanse Lugmag deur genl. Jan Smuts gestig is. Dis die tweede oudste lugmag naas die Britse Royal Air Force (RAF).

Binne is lugvaarttoebehore en historiese vliegtuie, 'n Buccaneer, 'n Mirage, 'n Sikorsky-helikopter en selfs 'n replika van die Paterson-vliegtuig uit 1911. 'n Snarsie jonger as die Amerikaners se Wright Flyer is dié ook van hout, seil en draad aanmekaar geflans.

Hoewel die Ditsong- nasionale museum van militêre geskiedenis in Johannesburg (https://ditsong.org.za/en/our-museums/museum-of-military-history/) hoofsaaklik op voertuie, tenks en ander toerusting fokus, is daar enkele interessante vliegtuie. Een hiervan is 'n Duitse Messerschmitt Me-262, die wêreld se eerste operasionele straalvegvliegtuig met sy voorkoms wat herinner aan 'n haai.

Hierdie model is 'n tweesitplek nagvegter (Nachtjäger) - enig in sy soort ter wêreld wat nog bestaan. Duitsland het ons al baie miljoene rande vir dié vliegtuig aangebied.

'n Treffende uitstalling is die wrak van 'n Messerschmitt Me-109, vermoedelik in die Tweede Wêreldoorlog neergeskiet. Dit was 'n formidabele teenstander vir Geallieerde vlieëniers soos Suid-Afrika se eie majoor Adolph (‘Sailor') Malan wat hier op 'n foto pryk.

Burgerlugvaart

Dis tyd om 'n rukkie die militêre vir burgerlugvaart te verruil.

By die Randse Lughawe in Germiston is die Suid-Afrikaanse Lugdiensmuseum. Dis hier waar 'n mens binne in die SAL se uitgediende passasiersvliegtuie rondstap. Al lyk hulle effens "primitief", was hulle eens tegnologies gevorderd. Só onderneem die Lockheed Starliner Constellation die eerste ononderbroke Transatlantiese vlug deur 'n Suid-Afrikaanse passasiersvliegtuig in 1966.

Met sy kenmerkende drie stertvinne het dié vliegtuig in die Trek Lugdiens se kleure lank by die ATKV-Klein-Kariba-oord naby Warmbad (Bela-Bela) gestaan voordat die museum dit bekom het.

Skoolgroepe klouter in die reusagtige Boeing 747-motore van die Lebombo. Hierdie einste vliegtuig het in 1995 geskiedenis gemaak. Die Lebombo het dakhoogte oor die Ellispark-stadion gevlieg en die woorde "Good Luck, Bokke" verkondig om die Springbok-span in die Wêreldbeker-eindstryd te inspireer!

Die Outeniqua is 'n DC-4 uit 1946 wat destyds by die lugmag se 44 Eskader in diens was totdat die SAL dit in 1995 gekoop het. Sy kamoefleerkleure is in die 1960's met die SAL se "oranje-stert"-kleurskema vervang. Die Outeniqua het in 2015 'n rol in die gewilde Britse televisiereeks The Crown losgeslaan; daarvoor is hy in die silwer-en-blou­kleure van die British Overseas Airways Corporation geverf. Nog 'n museumvliegtuig wat in die Tweede Wêreld­oorlog gebruik is, is die "Andries Preto­rius", 'n Lockheed Lodestar, uit die 1940's, die oudste bestaande SAL-vliegtuig.

Aangesien jy geen versnaperinge aan boord van enige SAL-museumvliegtuig kry nie, kies koers na die Harvard Cafe by die Randse Lughawe. Wat my dadelik opval, is die Art Deco-eindpuntgebou, veral die beheertoring wat dagteken van die 1930's. Dit stem ooreen met argieffoto's van die lughawe waar Union Airways (die voorganger van die SAL) se vliegtuie van hier af oor die land heen gevlieg het.

Terwyl die kinders op die speelraam klouter, bestel pizzas of burgers, of smul aan die geregte in die Mediterreense styl, soos Kleftiko en souvlakia. Of 'n Portugese trinchado, saam met 'n koue bier.

Dis nou wel meer aards as eksotiese kaviaar met sjampanje wat glansmense en ons politici in 'n Airbus A380 geniet. Maar vir ons gewones is dit tog opwindend om selfs 'n beskeie Cessna-vlieg­tuigie reg voor jou te sien opstyg. Dis ongelooflik om te dink kapt. Dennis Spence het die yslike Boeing 747 Lebombo in 2004 op dié kort aanloopbaan geland om 'n museumvliegtuig te word!

'n Voormalige vlugbeheerder en vlieënier het eens gesê: "People love aviation because they are fascinated by it . . . Flying is the safest mode of transportation compared to all of the other means of transport ever invented."

Werd om te weet

  • Die Africa Aerospace and Defence-lugskou by die Waterkloof-lugmagbasis vind van 20 September plaas. Die Lugmagmuseum in Pretoria het takke by die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad en in Gqeberha.

SPELETJIES VANDAG

CTA