Op galop tussen die golwe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Om op ’n perd se rug op ’n oop strand met golwe langs jou te ry, is beslis ’n belewenis wat die avontuurlustige nooit sal vergeet nie. Foto’s: Pearly Beach Horse Trails
Om op ’n perd se rug op ’n oop strand met golwe langs jou te ry, is beslis ’n belewenis wat die avontuurlustige nooit sal vergeet nie. Foto’s: Pearly Beach Horse Trails

Om op die strand perd te ry, en dan soos 'n ware Wolraad Woltemade die branders in te vaar, sit seker nie in elke middel­jarige joernalis se broek nie, maar Maretta Bellingan het dit gedoen, én oorleef

Die uitdrukking liewer bang Jan as dooie Jan is nou spesifiek van toepassing op 'n ietwat bejaarde joernalis wat besluit het om letterlik 'n wilde perd op te saal. Ek het besluit dit klink dalk lekker om op 'n perd in die see te swem, ongeag die gevolge . . .

Maar onderweg na Pearly Beach Horse Trails ryg ek die gebede uit. Ek sal nooit weer dit nie, ek sal nooit weer dat nie. Moet net nie dat ek my nek breek of versuip wanneer my perd besluit hy wil liewer sy vrag in die middel van die oseaan afskud nie.

Die Suidooster waai 'n hond uit 'n bos, maar die jong Duitser Karina wat tydelik op die perdeplaas werk, sê in haar mooi aksent, "Ag nee wat, hulle is gewoond daaraan". Die kans vir omdraai raak al hoe skraler.

Sowat ses jaar gelede het Sarah, 'n skraal blondine wat duidelik in die saal gebore is, en haar man, Kos Coronaios, 'n Suid-Afrikaans-gebore Griek, hul onderneming begin. Tripadvisor gee dit vyf sterre en volgens Sarah beskou Trip­advisor dit as een van die top tien persent buitemuurse aktiwiteite wêreldwyd.

Dit gee my ongelukkig weinig gemoedsrus wanneer ek op die vrywaringsvorm lees: perdry is 'n gevaarlike aktiwiteit, dit kan lewensverlies, 'n besering of gestremdheid veroorsaak.

Ontspan en raak rustig

Om met 'n perd in die see te swem, is 'n onbeskryflike ervaring.
Om met 'n perd in die see te swem, is 'n onbeskryflike ervaring.
Hierdie perderit-ervaring is 'n gewilde aktiwiteit en lok gereeld besoekers.
Hierdie perderit-ervaring is 'n gewilde aktiwiteit en lok gereeld besoekers.

"Julle kan ontspan," troos Kos, "ons perde is almal baie goed afgerig, liefdevol en geensins wild nie."

Die lede van ons groep vandag is die Britte Steffie en haar dogter, Emma, albei relatief ervare ruiters, die uwe en die Skot Caron, albei relatief ónervare ruiters.

Ons stap rustig deur die veld, en stadig maar seker leer ek en my blinkvosperd Frisco mekaar beter ken. Dit gee ook groot gemoedsrus dat Sarah deurentyd met al die ruiters gesels en seker maak dat hulle gemaklik voel. Net duskant die duine beduie Sarah na 'n stuk veld met 'n groot hoeveelheid gedroogde kelp. "Die kelp word in die son uitgedroog waarna 'n nuwe produk, agar-agar, herwin word. Die jellieagtige agar-agar is soortgelyk aan gelatien en het verskeie gesondheidsvoordele."

Op die strand kry die ervare ruiters die geleentheid om voet in die hoek, of liewer stiebeuel te sit, terwyl Sarah om die beurt langs ons ander twee draf. Die uwe het selfs 'n keer of wat galop en net vir 'n oomblik of wat haar inner cowboy vrye teuels gegee.

Dis moeilik om te beskryf hoe dit voel om alleen op 'n reuse- oop strand met die branders langs jou en die wilde wind in jou hare, 'n dier so volkome in jou vertroue te neem. Maar dis juis hoekom Sarah, wat op 'n plaas in die Broederstroom-omgewing grootgeword het, sê 'n perd is haar gunsteling-dier.

"Dis 'n dier wat ongelooflik giving is, en hulle beskik oor groot empatie. Ek het dit veral ervaar toe ek in Limpopo, waar ons gewoon het, gereeld kleuterskole met perde besoek het."

Sarah het ook lank met mishandelde perde gewerk, en sê wanneer jy só 'n dier se vertroue wen, vorm jy 'n onbreekbare band.

"Moet my net nie 'n horse whisperer noem nie," lag sy, "ek verpes die woord, want dan gaan dit meer oor jou as oor die dier."

Op 'n perd die see in

Nadat ons afgesaal en versnaperings geniet het, breek die oomblik aan waarna almal uitgesien het.

Skielik lyk die see besonder koud en nat, maar wanneer Sarah jou op 'n perd die see inlei en die branders oor jou spoel, is die ongemak gou vergete.

Die perderitte word juis beplan rondom die seegetye, en daarom verskil die tyd dikwels.

"Ons doen feitlik elke dag 'n rit, sewe dae per week. Die meeste van ons gaste is toeriste, maar gedurende die Kerstyd en Paasfees het ons baie Suid-Afrikaanse besoekers. Ons het oorsese gaste wat gereeld terugkom omdat hulle dit so geniet," vertel Kos, wat vandag die videokamera beman. Elke gas kry 'n video van die dag se avontuur.

Geniet 'n perderit deur die fynbos-koninkryk van die Wes-Kaap.
Geniet 'n perderit deur die fynbos-koninkryk van die Wes-Kaap.

Terwyl die uwe en Caron die Skot 'n rustige wandeling op die strand geniet, ons albei nou meer ontspanne in die saal en selfs dapper genoeg om op ons eie te draf, gaan ry die ander 'n wyle in die duine. Op 'n afstand lyk dit soos 'n toneel uit 'n rolprent.

Vir sowel Sarah as Kos is perde 'n leefstyl, beslis nie 'n stokperdjie nie. Dié ouers­ van twee seuns het voorheen onder meer 'n safari-maatskappy bedryf, asook 'n restaurant, maar is redelik seker dat hulle, hul 21 perde, hul donkie, Donkie, parkiet, Noddy, en vyf honde, hier is om te bly.

"Ek het die beste werk in die wêreld," sê Sarah oor haar skouer terwyl die groep rustig huis toe stap.

"Dit is nogal stresvol, want ek neem die veiligheid van my gaste baie ernstig op, maar dis in my bloed. My ma het verlede jaar op 89 haaihokduik, valskermspring en die perdryrit gedoen. Ek kry seker maar my sin vir avontuur by haar."

Sarah en Kos het die grootste deel van hul lewens in die bos deurgebring, maar erken die see het hul harte gesteel.

"Dis net 'n wonderwêreld en ek het intussen ook my duik-kwalifikasie gekry," vertel Sarah wat ook betrokke is by 'n reddingsinisiatief om seeskilpaaie in die omgewing te red.

Die baba-boerboel Leo wag ons met swaaiende stert in, die donkie kom al balkend aangedraf en die twee poksies ('n mopshond- en foksterriër-mengsel) kou al te lustig aan perdemis.

Na 'n paar ure in die saal, sit ons weer voet op moeder aarde.

Ek gee Frisco 'n vet soen en stuur 'n dankie sê-gebedjie op. Dit was voorwaar 'n unieke belewenis.

Pure perde plesier

Pearly Beach is 'n klein stranddorpie op die kus ongeveer 15 minute van Gansbaai af. Swem saam met die perde, geniet 'n rit deur die fynbos-koninkryk van die Wes-Kaap of doen mee aan 'n sonsondergangrit met vonkelwyn op die strand. Pearly Beach Horse Trails bied 'n verskeidenheid opsies vir hul gaste.

Kontak hulle per e-pos by info@pbhorsetrails.co.za. Vir meer inligting besoek www.pbhorsetrails.co.za

SPELETJIES VANDAG

CTA