Die grootskaalse voorgestelde projek deur die V&A Waterfront om 'n deel van die see droog te lê by Granger Bay, en daardeur die kuslyn te verander, sluit twee nuwe seemure in om 'n heel nuwe baai te vorm.
Die publiek het nou vir die eerste keer die geleentheid om die planne van nader te beskou nadat 'n konsepverslag oor die omvang van die projek beskikbaar gestel is vir 'n proses van openbare deelname.
3,2 ha nuwe grond
Volgens die konsepverslag wat deur Infinity Environmental saamgestel is, word daar beplan om die see droog te lê om 3,2 ha nuwe grondgebied te kan skep. Hiervoor is 'n nuwe permanente laag rots nodig, asook twee seemure waarvan die een 90 m in Tafelbaai ingaan en die ander sowat 140 m. Die nuwe rotsformasie wat die twee seemure sal verbind, sal sowat 540 m lank wees.
Die konstruksiewerk hieraan sal sowat drie jaar neem.
Hiermee wil die V&A Waterfront 'n nuwe baai skep waar die publiek kan boot ry, swem of roei.
Die konsepplan vir die openbare geriewe op die nuutgevormde aangrensende land sluit 'n sleephelling vir bote, promenade, getypoele, wandelpaaie en oop gebiede in.
Die nuwe stuk grond wat drooggelê sal word, sal volgens die konsepplan binne 100 m van die huidige hoogwatermerk wees.
Hier word 'n verskeidenheid ontwikkelings beplan, onder meer residensiële eiendom, 'n hotel en ontspanningsgeriewe, asook kommersiële eiendom.

Minister en parlement moet goedkeur
In die konsepverslag oor die omvang van die projek word uitgewys dat daar ministeriële en parlementêre goedkeuring nodig sal wees omdat die plan is om 'n deel van die see droog te lê. 'n Aansoek vir voorafgoedkeuring vir die drooglegging is reeds by die minister van bosbou, visserye en omgewing ingedien.
Infinity Environmental het in die konsepverslag uitgewys die perseel en direkte omgewing het 'n ryk geskiedenis van historiese waarde wat strek tot voor die 1600's wat in ag geneem moet word.

Dolfyne, kreef en galjoen kom hier voor
Daar is ook twee mariene ekosisteme wat Kaapse kelp en die kusgebied insluit waarop die drooglegging en konstruksiewerk 'n impak sal hê. Verder kan daar 'n impak wees op dolfyne, kreef en galjoen wat hier voorkom.
In die konsepverslag word genoem dat 'n sleuteldeel van 'n omgewingsimpakstudie is of daar 'n behoefte is aan die ontwikkeling wat voorgestel word en of dit aanvaarbaar is in ag genome die breër behoefte van die gemeenskap, asook openbare belang.
Wat die voorgestelde Granger Bay-ontwikkeling betref, kan die negatiewe impak op die omgewing volgens die konsepverslag versag word. Die ontwikkeling sal daartoe lei dat die publiek 'n groter toegang tot die spesifieke kuslyn verkry wat in dié stadium deur infrastruktuur gekeer word, dit sal werksgeleenthede skep en is binne verskeie vlakke van wetgewing, ontwikkelingsraamwerke en beleidsdokumente, volgens die konsepverslag deur Infinity Environmental.
Opedag op 13 Augustus
Meer inligting oor die projek sal op 13 Augustus by 'n opedag beskikbaar wees. Mense wat belang stel kan van 15:00 tot 19:00 met die projekspan gaan gesels by die Breakwater-parkeerarea langs die Groot Wiel by die V&A Waterfront. Die publiek word ook daaraan herinner dat die tydperk vir die proses van openbare deelname op 1 September eindig. Kry meer inligting by www.infinityenv.co.za. Gaan na die afdeling "Have Your Say" en klik op die balkie vir die voorgestelde ontwikkeling van Granger Bay.
















