Die Overberg bied hope puik bergfietsroetes, al die pad van die Langeberg se pieke tot teenaan die Groot Blou van die see by De Hoop.

Min dele kan spog met die natuurskoon en oorvloed van die Overberg. Die propperse landbou-wêreld tussen Caledon en Swellendam is my gunsteling-MTB-roetes, veral in die lente wanneer die kanolavelde hul mooiste gewaad aantrek. Hier is ook weggesteekte, ongerepte bestemmings waarna jy kan ontsnap en wat jou trapvermoëns sal beproef.
Wanneer ek met die N2 langs koers kies, moet ek myself keer om nie af te draai en die dikwiel op te saal vir 'n volgende avontuur nie.
Hier is drie roetes waar jy lekker vars dikwielspore kan gaan gooi.
Kry jou ry in Greyton . . .
Greyton is net die plek om met jou "trap-toer" te laat waai. Mense wat in die pragtige vallei woon, spog dat dié ougat dorpie meer kilometers bergfiets-enkelspoorroetes as paaie het en dit smaak my dis nogal waar. Hul amptelike bergfietsklub se roetes gooi esse deur berge en dale, en verdien beslis 'n dubbele duim in die lug.
Betaal jou tydelike permit (R75 per dag of R130 vir twee dae) by Greyton Toerisme of bespreek aanlyn op hul puik webwerf, en daar gaat jy. Kies die Groen-, Blou- of Rooi-roete - Groen is 'n maklike trap (en boonop gratis) en perfek indien jy met die familie wil ry. Blou is meer steil en met tegniese terrein, terwyl jy 'n hardebaard moet wees indien jy die Rooi-roete sou wou pak. Maak reg vir 'n stywe klim bo-oor Bakenskop, met puik uitsigte en 'n witkneukel-afdraande terug tot in die vallei. Besoek www.greytonmtb.co.za.
Bly hier: Kootjie en Isa Viljoen se plaas, Oewerzicht, sowat 9 km buite Greyton, is die perfekte plek om as jou bergfiets-basis te gebruik, sou jy hierheen mik. Die 23 km-roete op die plaas is oorwegend enkelspoor met houtbruggies oor die drade, lekker kruisings oor riviere en lang, kwing-kwang-draaie deur die garsvelde. Jy kan ook visvang, stap, voëlkyk, skape aanjaag of lekker in jou tent ontspan.
Oewerzicht is 9 km buite Greyton op die Riviersonderend-pad. Ander verblyfopsies sluit 'n kampeerterrein, safari-tente, chalets asook 'n gastehuis op die dorpie self in. Toegang tot die Oewerzicht-roete is gratis vir gaste. Bel 028 254 9831 of besoek www.oewerzicht.co.za vir meer inligting.

Gaan groot in GVB . . .
Grootvadersbosch in die Langeberg-omgewing is een van my gunsteling-wegsteekplekkies in die Wes-Kaap. Min mense weet van dié lushof naby Heidelberg. Dis 'n paradys vir enige natuurliefhebber, met kopskoonmaakruimtes waar jy een van Suid-Afrika se mees boomryke inheemse woude kan verken. Daar is selfs Kaliforniese rooihoutbome in die reservaat.
Die lekkerste lekker van Grootvadersbosch is al die nuwe roetes in die plaaslike bewarea. Die Table Mountain Fund (www.tablemountainfund.org.za) het Aileen Anderson, bestuurder en navorser by Grootvadersbosch, gehelp om 'n nuwe netwerk van uitgebreide bergfietsroetes te skep.
Dit bly vir my een van die Kaap se mees opwindende roetes, met alles van lang gruispaaie, esse deur die omliggende plase se vlaktes, tot tegniese terrein deur dongas en oor klipperige rante. Toegangspermitte is beskikbaar by www.gvbconservancy.co.za of van die ander gastehuise in die omgewing. Dit kos R40 per persoon per dag, of jy kan vir die hele jaar ry vir 'n skamele R400.
Die vinnigste manier om hier te kom, is deur die sendingdorpie Suurbraak. Kyk uit vir die afdraai 12 km oos van Swellendam op die N2, en volg dan die padtekens verder.

Bly hier: Daar is verskeie blyplekke in en rondom die bewarea, van kampeerplekke tot luukse tentsuites. Strawberry Hill Lodge is 'n prima selfsorgbestemming reg by die beginpunt van die bergfietsroetenetwerk en net 'n skamele 4 km van die Grootvadersbosch-natuurreservaat af. Kies uit 'n groot plaashuis wat tot nege mense kan huisves, of kyk vir kleiner groepe na die Forest Lodge of Jenny's Cottage op hul webwerf.
Besoek www.strawberryhillfarm.co.za of stuur 'n WhatsApp na 079 335 0269
'n Handvol De Hoop
Raak rustig, haal asem en drink die stilte rondom jou in. Daar is min ander reservate in die land wat die verskeidenheid van De Hoop bied. Die reservaat beslaan 'n allemintige 34 000 ha en bied 'n natuurervaring soos min. Myle en myle ongerepte fynbosvlaktes wag op jou, maar net so indrukwekkend is die 5 km breë strook van die Atlantiese Oseaan wat tot 'n mariene reservaat verklaar is. Terra firma spog met sowat 80 km se roetes om met fiets of te voet te verken, met die beroemde Walvisstaproete wat van Potberg tot by Koppie Alleen strek.
Deesdae is dit gewild by die bergfietsbrigades wat nie genoeg van De Hoop kan kry nie. Al hoe meer berg- en gruisfiets-geesdriftiges kom trap hier op die eindelose grondpaaie, of verken die vlaktes op soek na bontebok, eland, bergkwagga en ander troppe wild. Dis ook 'n paradys vir voëlkykers, met alles van pelikane en pikkewyne tot wipsterte en suikervoëls. Die reservaat is een van die min plekke in SA waar jy op dieselfde dag walvisse en elande uit die saal sal kan aanskou, en dan die sweet in die see kan afspoel.

Bly hier:Besoekers by De Hoop kan kies en keur uit verblyf - van kampeer tot luukse villas.
Die De Hoop Collection het boonop talle spesiale aanbiedings vir die komende winter wat tot 40% afslag op verblyf bied - besoek www.dehoopcollection.com vir meer inligting, bepalings en voorwaardes.
Daar is 'n uitstekende kaart beskikbaar wat al die roetes aandui by De Hoop Collection se ontvangs.
Die De Hoop Vlei MTB Experience, een van Suid-Afrika se voorste bergfietsgeleenthede, vind ook einde Mei plaas, van 26 tot 28 Mei.
'n CapeNature-permit van R40 per persoon geld vir gaste wat oornag of R50 per persoon vir dagbesoekers. Jy kan natuurlik ook jou Wild Card gebruik. Besoek www.dehoopcollection.com of www.capenature.co.za vir meer inligting.

















