Met 80 kleurryke somers agter die blad - waarvan meer as 60 jaar in die woonwabedryf - kan 'n mens nie anders as om jou hoed af te haal vir Robbie Kerkhof nie. Saam met sy jongste seun, Reinhart, besit Robbie Skipper Tent Trailers in Park Rynie in die KwaZulu-Natalse Suidkus. Hulle fokus is op ligte kampwaens.

In die beginjare het Skipper aan Robbie en sy broer, Tom, behoort, totdat dit in 1975 ten einde geloop het. Robbie het die vervaardiging van Gazelle-woonwaens by André du Plooy oorgeneem en selfs 'n model met drie dubbelasse gebou - 'n eerste en enigste.
In 1989 sit Robbie Gazelle van die hand en trek twee jaar later van die Rand af Pennington toe. Robbie besluit om weer nuwe lewe in Skipper te blaas en neem ook vir Reinhart aan boord as vennoot. In 2006 sien die eerste model die lig: 'n Skipper Cruiser.
Jenny, Robbie se vrou van 55 jaar, maak die wa se tente self, en die eerste Model T maak in 2007 sy verskyning. Robbie het agter sy nuwe handewerk gaan staan en opgemerk die sikspens lyk net soos 'n T as jy na die wiele en romp kyk. Die res is geskiedenis.
Die laaste Model T's was in twee variante beskikbaar: Die standaardweergawe en die LT. Eersgenoemde het 13 duim-wiele en die LT, 'n effens swaarder wa, 14 duim-wiele. Intussen het die Model T se wiele spreekwoordelik gedraai.

Twee word drie
Die plaasvervanger vir die Model T is die Shor ‘T', wat ooreenstem met sy voorgangers wat betref die wiele en gewigte. Die grootste verskil is die neuskas wat weggedoen is en 'n ekstra bed. Waar die neuskas voorheen op die A-raam gestaan het, is nou 'n kasdeur in die voorpaneel van die romp.

Dit wat jy in die neuskas sou pak - dinge soos die noodwiel, gassilinder, pale, tentpenne, rubberhamer en die tent met sy bokant en sypanele - pas nou van buite af onder die enkelbed in. Dit beteken niks hoef meer op die vloer gepak te word nie. Jy klim steeds by die agterkant in, en die deksel wat 180° na links oopslaan om die bed te vorm bly ook dieselfde. Die Shor ‘T' se bed is wel effens groter: 1,60 x 1,78 m teenoor 1,35 x 1,78 m.

As jy by die agterdeur staan, is die enkelbed dwars voor jou teen die neuspaneel. Dié is 0,60 x 1,60 m groot met die voetenent wat onder die klerekas insteek. Die kas is effens kleiner as in die ouer modelle. Die standaardmodel van die Shor ‘T' kom met 13 duim-wiele en die Shor ‘T' LT het 14 duim-wiele.
Die nuwelinge is effens swaarder as hulle voorgangers. Die standaard-Model T het 'n tarragewig van 320 kg gehad en die LT 380 kg. Dit is nou onderskeidelik 360 kg en 380 kg, en op die derde variant, die Shor ‘T' Max is dit 450 kg.

Die Max is 'n volledig toegeruste LT en sluit die volgende standaardtoerusting in wat op die LT opsioneel is: 'n Uitslaankombuis; kas met breekware; opvoutafel wat kan verstel; 12 V- en 220 V-kragstelsel met 'n binne- en buitelig; 'n noodwiel; wasgoedlyn; tentpenkas met al die penne; die hele tent met al vier mure plus 'n bykomende venster in die romp se tent; 'n 3,5 x 4 m-grondseil; 'n hangmat bo die kas; 'n kussing vir die bankie; 'n sak vir die eetgerei, braaitange; allooiwielvellings; en 'n rubberbeskermingslaag aan die voorkant van die romp.
Die volgende is standaard op al die modelle: Die stoeptent; 'n 10 m- elektriese koord; neuswiel, 130 l-yskas (220 V); matras; en uitslaantrap.
Spesifikasies
Model Shor ‘T' / LT / Max
Slaapplek 2 volwassenes en 'n kind
Grootte 3,18 x 1,8 x 1,47 m (LT en Max 1,51 m)
Tarra 360 kg/ 380 kg/ 450 kg
Dravermoë 140 kg/ 220 kg/150 kg
BVM 500 kg/ 600 kg/ 600 kg
As 750 kg
Wielgrootte 13 duim / 14 duim / 14 duim
Onderstel Gegalvaniseer
Romp Tussenvoegpanele met laaghout en 'n aluminiumbuitelaag
Prys R129 900 / R131 900 / R172 500
Handelaarsnetwerk Die fabriek is in Park Rynie en verkope is direk aan die publiek.
Kontak 039 976 0500; info@skippertenttrailers.co.za; https://skippertenttrailers.co.za/skippertenttrailers.co.za
Van die mededingers
Waens in dieselfde prysklas* as die Shor ‘T' Max (Skipper se waens is uniek en het geen direkte mededingers nie)

Sherpa Tiny Lite R165 000
Het 'n BVM van 750 kg en die romp is van veselglas.

Lebusha Overlander R165 000
Het 'n BVM van 1 500 kg en die romp is van staal en aluminium.

Moremi Max R185 000
Het 'n BVM van 750 kg en die romp is van aluminium.
* Die prys is vir 'n standaardwa - tot hoe 'n mate elke model toegerus word, verskil van vervaardiger tot vervaardiger.














