Baie van ons het al op die harde manier geleer 'n kampbed kan die verskil beteken tussen 'n ongemaklike gerondrol in die middernagtelike ure en 'n goeie nagrus. Die kampbed het sy oorsprong op die slagveld en het intussen dermate ontwikkel dat hulle klein genoeg kan opvou sodat 'n stapper hom in sy rugsak kan dra.
Vandag is dit 'n belangrike toevoeging tot enige kampeerder se inpaklys. Ons kyk na 'n klompie keuses wat nou in die mark beskikbaar is.

Oztrail Easy Fold (koningingrootte)
Mamma, ko's gaan lê
As jy en jou ander helfte daarvan hou om styf teen mekaar te lê terwyl die leeus in die verte brul, het die Australiese vervaardiger Oztrail net die kampbed vir julle.
Soos jy kan verwag, is dit 'n taai meneer: Hy het 'n raamwerk van staal wat met poeierverf behandel is, en 600 D- sagte materiaal bo-oor sodat jy snoesig kan inkruip wanneer jy gaan slaap. Die vervaardiger waarborg die bed vir 12 maande.
Afmetings: 2 000 x 1 440 x 420 mm
Dragewig: 200 kg
Prys: R2 495 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Die bande op die hoeke is om jou matras op sy plek te hou as jy verkies om een bo-op die kampbed te sit.

Coleman Queen Airbed
Luuks, man, luuks
As 'n kampbed 'n mesmoertang was, het hy só gelyk. Dié outjie het 'n ingeboude opblaasmatras, 'n vasgestikte oortreksel om die matras op sy plek te hou, twee sytafeltjies wat tussen die matras en raam uitgly, én koppiehouers in die tafeltjies.
Hy het ook 'n dubbele lugklep om te keer dat jou opblaasmatras 'n afblaasmatras word. Hy is hoog genoeg bo die grond en jy sukkel nie om in en uit die kooi te klim nie.
Afmetings: 1 981 x 1 499 x 559 mm
Dragewig: 272 kg
Prys: R3 080 by Ubuy.
Ry & Sleep sê
Jy het heelwat plek nodig wanneer jy hom inpak, en daarby weeg hy 'n stewige 20 kg.

Natural Instincts-staalkampbed
Middelmannetjie
Hierdie intreevlak-kampbed van Outdoor Warehouse se eie handelsnaam is aan die meer bekostigbare kant.
Daar skort egter niks met die 600 D-poliëstermateriaal waarvan hy gemaak word nie, en die bêresakkie langs die bed is 'n gawe plek vir jou beursie en sleutels as jy gaan inkruip.
Afmetings: 1 930 x 780 x 420 mm
Dragewig: 120 kg
Prys: PR900 by Outdoor Warehouse.
Ry & Sleep sê
Hy het dwarsbalke aan sy koppenent én voetenent. Maak dus seker jy's nie te lank vir hierdie bed nie.

Camp Master Deluxe- gestoffeerde kampbed
'n Sagte lêplek
Camp Master se wye reeks buitelewe- en kamptoerusting kos oor die algemeen nie 'n plaas se prys nie, maar dié kampbed met sy puik kenmerke lê aan die hoër punt van die skaal.
Daar is 'n isolasielaag van skuimrubber tussen twee 600 D-poliësterlae én bykomende stoffering vir jou kop. Die raam is van 22 mm-staalvierkantpyp wat met poeierverf behandel is, en die kampbed word vir een jaar gewaarborg.
Afmetings: 2 160 x 820 x 360 mm
Dragewig: 150 kg
Prys: R2 000 by Makro.
Ry & Sleep sê
Die bed se pote is verstelbaar - jy kan dus waterpas slaap selfs al is jou staanplek ietwat ongelyk.

Bushtec Meerkat Hunters Rest
Sterk derduiwel
As jy so moeg is soos 'n jagter wat die heeldag in die veld agter sy prooi aangestap het, kan jy vanaand jou nagrus op dié bed uit Bushtec se spesiale Meerkat-reeks geniet.
Die 600 D-poliëstermateriaal is gestoffeer en daar is 'n spesiale kunsrubberkussing waarop jy jou kop neerlê.
Afmetings: 2 100 x 830 x 380 mm
Dragewig: 200 kg
Prys: R2 000 by Loot.
Ry & Sleep sê
Jy kan hierdie bed se pote só stel dat jy hom in 'n leunstoel omskep wanneer jy onder die boom met jou boek ontspan.

Therm-a-Rest Ultralite
Liggewig kampioen
Die Ierse handelsnaam Therm-A-Rest is deur 'n ywerige stapper begin, en daarom is dit geen verrassing nie dat dié kampbed kleiner opvou as jou deursneekampstoel.
Hy is wel smaller as 'n gemiddelde kampbed en jy moet ook korter as 1,8 m wees om gemaklik te slaap. Sy spesiale weerkaatsende poliëstermateriaal hou die hitte binne.
Afmetings: 1 830 x 610 x 110 mm
Dragewig: 148 kg
Prys: R3 600 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
Die hele bed vou op in 'n bondeltjie wat net 1,2 kg weeg.

Oztrail Double Bunk Deluxe
Die kleintjies kruip in
Enigiemand met kinders weet as een kind iets kry, moet die ander ook. Met dié stapelbed van Oztrail gaan jy egter vredemaker moet speel wanneer die kinders mekaar invlieg oor wie bo en wie onder slaap.
Dit is van dieselfde staalraam en 600 D-poliëstermateriaal gemaak as die ander Oztrail-bed op hierdie blaaie, maar die boonste bed kan 20 kg minder dra as die onderste een. Die boonste bed het wel veiligheidsrelings sodat Boeta nie afrol nie.
Afmetings: 1 800 x 720 x 850 mm
Dragewig: 100 kg (bo) en 120 kg (onder)
Prys: R1 695 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
As jou tent groot genoeg is, kan jy dit ook as twee aparte beddens opslaan.

Natural Instincts Platinum-swaardienskampbed
Grootmeneer
Hierdie is Natural Instincts se duurste kampbed, want hy word gemaak van skeurvrye en swaardiens-1 200 D-materiaal wat met PVC versterk is, en 'n staalraam met 'n poeierverf van hoë gehalte. Dié een is vir die voorrymanne onder ons.
Afmetings: 2 000 x 800 x 420 mm
Dragewig: 200 kg
Prys: R1 500 by Outdoor Warehouse.
Ry & Sleep sê
Hierdie een weeg 'n stewige 9,4 kg.

Kaufmann-opvoukampbed
Waarde vir geld
Kaufmann is 'n bekende handelsnaam onder die plaaslike kampgemeenskap en dié kampbed van hierdie vervaardiger kom net in een kleur: houtskool.
Die raamwerk is versterk en gebruik 'n kombinasie van staal en aluminium wat met poeierverf behandel is. Vir jou gemoedsrus word hy ook vir 'n jaar gewaarborg.
Afmetings: 2 100 x 800 x 470 mm
Dragewig: 150 kg
Prys: R1 200 by Takealot.
Ry & Sleep sê
Soos die meeste ander beddens in dié artikel kom die Kaufmann ook met sy eie drasakkie.

Tentco- basiese groot kampbed
Die lekker ‘local'
Tentco is bekend vir sy reeks seilprodukte wat oor 'n wye reeks kamptoerusting strek, en dié vervaardiger maak ook twee kampbeddens waarop jy tot rus kan kom.
Hierdie is die groter een van die twee, en volgens Tentco is hy net reg vir mense wat langer in hulle sokkies staan en dalk effens breër om die heupe is. Die bed het 'n staalraam met 600 D-oxford-nylonmateriaal bo-oor.
Afmetings: 2 100 x 750 x 470 mm
Dragewig: 130 kg
Prys: R850 by Camp & Climb.
Ry & Sleep sê
As hierdie een 'n bietjie te groot is vir jou, is sy kleinboetie beskikbaar teen R700 by Camp & Climb.

Camp MasteR- klassieke kampbed
Goedkoop dog gaaf
Hierdie doodeenvoudige kampbed gebruik 'n klassieke X-vormige staalraam en sy blou materiaal is verfrissend anders as die gebruiklike groen, bruin en kakie waarvoor vervaardigers so lief is.
Die dragewig van dié Camp Master-produk tel onder die ligstes op hierdie blaaie, maar as jy nie daaroor bekommerd is nie, is dit 'n heel aanvaarbare keuse.
Afmetings: 1 900 x 650 x 386 mm
Dragewig: 114 kg
Prys: R600 by Makro.
Ry & Sleep sê
Die bed is nommerpas as vir mense wat hulle sente moet omdraai.

Bushtec-opvoubed
Die waarde van eenvoud
Hierdie intreevlak-kampbed van Bushtec het nie 'n dwarsbalk by die kop nie en sorg dus vir meer gemak. Hy word gemaak van 25 mm-staalvierkantpyp en 'n dubbellaag-300 D-materiaal, en weeg 'n aks meer as 7 kg.
Afmetings: 1 920 x 660 x 450 mm
Dragewig: 120 kg
Prys: R713 by Loot.
Ry & Sleep sê
Ondanks sy lae prys word hy vir 'n volle twee jaar gewaarborg.
Inligting
- Camp & Climb campandclimb.co.za
- Loot loot.co.za
- Makro makro.co.za
- Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za
- Ubuy ubuy.za.com























