Stealth se nuwe Cub Overlander is spesifiek gemik op mense wat nie skrik om van die teerpad af te draai om by hulle kampplek uit te kom nie. Dit is 'n klein wa wat bedoel is vir 'n paartjie, maar spog steeds met hope ruimte binne omdat die bed in sy geheel wegslaan om 'n groot kuierhoek te vorm.
Hy spog ook met 15 duim-wiele, 'n geiser en gassilinder, 220 V/12 V-kragstelsel met 'n 15 A-laaier, 100 Ah-litiumbattery en 8 l/min.-waterpomp. Van Stealth se ander moddelle mag jy met 'n gewone rybewys sleep, maar die Overlander se brutovoertuigmassa (BVM) trek die skaal op 1 500 kg, wat beteken jy moet 'n sleeprybewys hê as jy hom wil haak.
Sy dravermoë (die verskil tussen die wa se tarragewig en BVM) is 'n stewige 410 kg. Ons bekyk die wa van nader.

Kry jou staan
Die Cub Overlander het twee afswaai-hoekstutte voor en twee los stutte aan die agterkant. Om die twee agterste stutte ordentlik te laat vasskop moet jy die neuskant eers effens laat sak.

Klamp albei die agterstutte in plek en lig nou die twee voorste stutte.

Stealth verdien 'n pluimpie vir die slim neuskas. Dis bloot 'n plat rak wat oor die breedte van die wa oor die A-raam pas met twee skerms aan die kante. 'n Gassilinder en jerrykan pas agter elke skerm, maar die skerms kan soos 'n deur wegswaai, wat jou direkte toegang gee.

Dit werk soos 'n bom en is boonop sluitbaar. Die neuswiel kan losgemaak word en pas in die middel van die neusrak terwyl jy sleep. Die oopswaaistoepdak is net so 'n wenner: Dit swaai oor die hele linkerkant en stert oop.
Tussen elkeen van die stutpale is 'n ankertou vas aan die dak sodat jy dit effens grond toe kan trek om 'n geut te vorm. Dit werk uitstekend - ons het dit eerstehands ervaar toe dit dae aaneen gereën het in die KwaZulu-Natalse kus.

Elkeen van dié ankertoue vou op in 'n klein beursie by die soom waar dit aan die dak heg; daar hang dus nie oral toue wanneer jy die dak toevou nie.

Die Overlander se opwipdak lig aan die agterkant - dit is ook waar die deur is. Jy gebruik 'n los trappie om in te klim.
Spesifikasies
Vervaardiger Profibre Products
Model Cub Overlander
Slaapplek (standaard) 2
Grootte 4,511 x 2,034 x 2,265 m
Wiele 15 duim
As 1,8 t
Tarragewig 840 kg
Dravermoë 660 kg/260 kg
BVM 1 500 kg/1 100 kg
Onderstel Gegalvaniseer
Romp Geïsoleerde veselglas
Prys R395 000
Handelaarsnetwerk Die hoofkantoor is in Pinetown. Gaan kyk by stealthcaravans.co.za vir die naaste handelaar.
Kontak 031 713 8900; administration@stealthcaravans.co.za; stealthcaravans.co.za

Buitekombuis
'n Deur bo die wiel slaan op sodat jy by die kaste (van verskillende groottes) kan uitkom. Heel links bo is 'n dubbelsok (220 V), met die glase, bekers en borde wat in sponsvorms in die teenoorgestelde kas inpas. 'n Los blad (99 x 45 cm) van aluminium haak onder hierdie kas in om 'n werkblad te vorm - heel links is plek vir 'n opvoubare wasbak.
Hierdie opwas skuif na agter in die nuwe modelle, en 'n blad diékant (100 x 30 cm) - soortgelyk aan die prototipe s'n - word opsioneel.
Die kraan aan sy verlengstuk is net links van die blad by die romp, plus nog 'n 220 V-sok. Die kasdeur vorm 'n dak oor die werkblad as jy nie die tent oopslaan nie, en dan is daar ook 'n lig teen die binnekant vasgesit.

Die glyraam met die gasstoof en ys-vrieskas trek links van die werkblad uit. Die gasstoof (die gietystersoort) is op die punt van die laai, maar dis opgevou en staan op sy sy - dit lyk soos 'n klein aluminiumtrommel. In baie waens is die stoof op die werkblad gemonteer, maar hier wen jy daardie ruimte.
Eerstens slaan 'n stoofpaneel weerskante oop om 'n skerm teen die wind te vorm, en dan slaan die stoof self tussen die twee skerms plat. Jy moet een van die gassilinders nader dra en koppel.

Terwyl jy buite is, kan jy die storttent opslaan (dis opsioneel).
Die gasgeiser se bêreplek was in die prototipe aan die binnekant van die instapdeur, maar dit skuif na die ander kant toe, na binne die kasdeur. Lig die geiser uit sy bêreplek en haak dit teen die romp bo die regterwiel in.
Die twee waterpype word skuins agter die wiel in die sokke gedruk, en jy moet die gassilinder ook nader dra. Die hokkie self is in 'n sak by die stert opgevou. Maak die sak oop sodat die arms waaraan die stortseil hang, kan uitvou.
Die hokkie het 'n vloer, maar om die rand is gaas sodat die water kan afloop. Die hokkie het plek vir die kraan, wat omtrent heuphoogte agter die deksel in die romp is, en 'n lig bo.

Aan die binnekant van die instapdeur is 'n kas met sponsvorms in. Hierin pas vier lang glase en vier wynbottels.
Ry & Sleep sê Te oordeel na die verkope sedert die prototipe kan die nuwe Cub Overlander 'n gunsteling word.

Binnebed
Soos jy in die deur staan en binnetoe kyk, is die hele paneel regs 'n aaneen kas met verskeie rakke, met seildeurtjies wat toerits. Dit is meer as genoeg pakplek vir twee mense se klere - en selfs linne. Die onderste twee kaste volg die profiel van die bakwerk en is 'n gawe plek vir iets soos skoene. Teen die paneel oorkant die deur is nog 'n kas. Die boonste deel daarvan het 'n reling vir hangers. Vir 'n wa van dié grootte is die kas enorm: 49 cm diep, 86 cm lank en 99 cm hoog.
Die hele gedeelte na links is die bed - 1,96 x 1,37 cm, soos 'n ekstralengte dubbelbed. Links bo die bed is nog 'n paar kleiner kassies, maar dié word weggedoen in die nuwer modelle omdat die kombuisgrootte aangepas word om 'n 20 l-mikrogolfoond te huisves. Aan elke kant van die bed is 'n verstelbare leeslig en neersitplek. (Die neersitplek links is breër, maar dis meer as net 'n rak; dis ook 'n deur wat kan sluit.
Dit is dus 'n gawe plek om waardevolle goed uit die oog te hou as jy dalk 'n draai gaan ry.) Hier is ook USB-sokke. Aan elke kant van die bed is 'n venster wat kan oopmaak met gaas én daar's 'n blinding. Die bed is by die koppenent met 'n skarnier vas en kan dus opgeslaan word - dan is daar twee bankies regoor mekaar.

Twee mense kan baie gemaklik hier sit. 'n Los tafel (100 x 50 cm) kan ook hier inpas as jy die bure vir 'n potjie brug genooi het, maar die tafel maak die ruimte tussen die twee bankies skraps. Onder die sitgedeelte van die bankies is pakplek. Van hier af het jy toegang tot die ys-vrieskas as dit teruggestoot is in die romp.

Die kragstelsel se paneel is in die deur links. Hier kan jy onder meer die voltmeterlesing sien en hoe vol die battery gelaai is. Hier is ook sokke (soos Hella en USB) plus die skakelaars vir dinge soos die binne- en buiteligte, ys-vrieskas, pomp en geiser.

Dit kom by
Van die opsionele ekstras sluit in 'n dakbed vir nog twee mense (R25 000); die los tafel (R3 600); stort (R7 000); 270°-stoepdak (R25 000) en sypanele (R15 000); 'n seil vir die ruimte tussen die wa en die grond (R1 100); en die werkblad (R1 752).
Van die mededingers
Klein boswoonwaens vir 2 met 'n binnebed en vaste panele

UniPod XPeditionPod XL R329 500
Het 'n BVM van 1 500-2 000 kg en die romp bestaan uit dubbelgeïsoleerde aluminiumlae.

Infanta Enkulu 1 R370 000
BVM 1 900 kg en romp van aluminium.

Jaguar Sabor R379 500
BVM 1 600 kg en 'n romp van vlekvrye staal.














