Buitelewe

Teen ’n slakkepas

"Ek en my vrou, Petro, is in 1961 getroud en sedertdien kamp ons. Om te sê ons het onder begin met die kamplewe is om dit sagkens te stel, want die heel eerste keer wat ons gaan kamp het, het ons sommer onder die kar geslaap.

Ons het gaandeweg opgegradeer na 'n klein tent, gevolg deur 'n opvouwoonwa en uiteindelik 'n ordentlike Jurgens. Ek moet egter eerlik wees en sê ons het dit nie vreeslik geniet om met 'n woonwa te kamp nie. Dié ding was vir ons effe lomp en dit was altyd 'n gesukkel om hom op die regte plek te laat staan.

Ons het toe besluit om weer met 'n tent te kamp en het vir 'n ruk so aangehou en dit vreeslik geniet. Ons is vat-en-gaan-kampeerders in die ware sin van die woord.

Sowat agt jaar terug wou ons 'n bietjie wildtuin toe gaan, maar ons kon nie een van die chalets daar bekostig nie. Dis toe dat ek besluit om 'n plan te maak.

Ek was in die boubedryf en het besluit om my Isuzu in 'n abbawa te omskep. Ek het hope oorskot-vierkantpyp in my motorhuis gehad en die raam vir ons wa daarmee gebou. Ek het toe 'n laag swart plastiek oorgetrek, gevolg deur 'n laag "Think Pink" om die besigheid te isoleer en toe nog 'n laag plastiek. Só is Slakkie gebore en ons het heerlik met hom gekamp.

Later was dit tyd om op te gradeer en ek het by ons buurvrou vir hom 'n 'n seilbaadjie laat maak. Vir isolasie het ek polistireenskuim om die raamwerk gesit. Ek het aan sy kante twee ou Isuzu-skuifvensters ingesit, vir ons elkeen 'n bed gebou én daar is selfs plek vir die yskas en kampkoos.

Aan die een kant is ons kombuis met uitskuiflaaie en aan die ander kant die kragstasie wat sorg vir 220 V- én 12 V-elektrisiteit. Ek het ook rakkies vir ons klere bo die koppenent van die beddens gebou en ses rekenaarwaaiertjies (drie bo elke bed) ingebou om die lug binne te sirkuleer. Dit werk alte goed.

Ek het 'n uittrek-stoeptent aan die kant opgesit en 'n afdakkie steek die deur effens weg vir privaatheid. Ons ry ook 'n gazebo saam na die plekke waar ons gaan lank staan.

Nou kamp ons te lekker et alles wat ons nodig het.

Slakkie het die land al platgery en ons was al van die huis af na Kosibaai, toe na Alexanderbaai en die Kgalagadi en weer terug huis toe - sonder enige probleme. Ons het al in sneeu, wind en reën met hom gekamp.

En dit het my niks meer as R6 000 gekos om hom te bou nie.

Die Iszuzu KB250 is 'n dieseldonkie en 'n mens voel Slakkie se gewig en windweerstand wanneer jy ry, maar ons is mos nie haastig nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM