Motors

Citroën bou vakansiebus!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sedert Citroën se stigting in 1919 is die maatskappy bekend vir sy ietwat ongewone voertuie. Ons dink hier byvoorbeeld aan die DS, die ikoniese 2CV, die meer onlangse C4 Cactus en nou die Type Holiday.

Die vervaardiger het sy jongste ryhuis by die onlangse Düsseldorf-woonwaskou in Duitsland bekend gestel. Die Type Holiday is eintlik 'n omgeboude Citroën SpaceTourer - in Suid-Afrika bekend as 'n Opel Zafira - en hy herinner sterk aan die jare veertig se Citroën H-paneelwa met sy sinkplaatagtige romp.

Sover ons kennis strek, is die H-paneelwa nooit amptelik na Suid-Afrika gebring nie, maar jy sal die bussie dalk herken as jy in die jare tagtig op Maandagaande meegevoer is deur Die meisie van Avignon op die ou TV1.

Die H-paneelwa se stilering is geïnspireer deur die Duitse Junkers Ju 52-vragvliegtuig van die jare dertig, en die Italiaanse koetsbouer Caselani het die taak gekry om ook die Junkers Ju 52 as muse te gebruik vir die Type Holiday.

Jy hoef nie 'n aanhanger van Citroën te wees om te erken dié handelsmerk ontwikkel praktiese, vernuftige en bekostigbare rygoed nie. Die maatskappy is die naasgrootste verskaffer van motorhuisgebaseerde voertuie in Europa.

Citroën wou met die Type Holiday wys hy het respek vir sy erfenis én die kampgemeenskap waarvan ons deel is. Die maatskappy sê ook hy wil deel wees van die groeiende "Van Life"-beweging waarin vrygeeste in omgeboude paneelwaens vakansie hou. Dié kultuur is veral gewild in Amerika, waar die behuisingskrisis van die vorige dekade verskeie mense gedwing het om voltyds in paneelwaens te woon.

Dié bekostigbare leefstyl het ook byval gevind by 'n bepaalde groep jong mense wat na hulleself verwys as digital nomads - of dan digitale swerwers, mense wat van enige plek ter wêreld kan werk mits daar wifi of 4G-selfoonsein is.

Citroën sê 'n verstommende 90 000 nuwe kompakte ryhuise soos omgeboude paneelwaens word jaarliks in Europa verkoop - dit is meer as die helfte van alle verkope van ontspanningsvoertuie. Die Citroën Type Holiday bied al die voordele van die Citroën SpaceTourer (of Opel Zafira): ruimheid, gerief, twee skuifdeure vir maklike toegang en ventilasie, en 'n luik agter wat boontoe oopswaai.

Die binneruim is ontwerp deur die Sloweense ryhuisspesialis Bravia Mobil. Die ombouing sluit in 'n opwipdak wat jou in staat stel om regop te staan in die leefruimte. Die opwipdak dien ook as 'n daktent met 'n dubbelbed. Die agterste passasiersitplekke slaan plat en vorm 'n tweede dubbelbed - daar is dus slaapplek vir altesame vier mense.

Die voorste kapteinstoele kan omdraai na die leefgedeelte toe en die hele gesin kan dan aansit by 'n opvoutafel tussen die twee rye sitplekke. Die kombuis het 'n stoof, wasbak, ys-vrieskas en talle kassies en laaie om jou besittings in te bêre. Warm water word verskaf deur 'n Webasto-verhittingstelsel.

Dis te vroeg om te sê of die Type Holiday Suid-Afrika toe kom, maar dis beslis moontlik as die aanvraag groot genoeg is.

Kontak jou naaste Citroën-handelaar of gaan na citroen.co.za.

Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM