Chris se ryhuisplanne was klaar nog lank voor hy die regte voertuig daarvoor kon opspoor.
Uiteindelik het hy 'n tweedehandse Peugeot Boxer aangeskaf, en hy en sy vrou, Elsa, het hulle droomryhuis binne net 3 weke gebou en ingerig. 'n Mens kan maar sê hulle het hulle 30 jaar kampervaring in die Boxer ingebou. Chris vertel:
Selfdoen is die antwoord...
Die beplanning was lekker, want ons kon ons jare lange kampervaring gebruik om te onderskei tussen wat nodig en onnodig is.
Ons het planne gemaak en ons wa se spesifikasies uiteengesit.
Hy moes 'n vaste uitleg hê, sonder afsonderlike dag- en nagverstellings en kussings wat afgeslaan moet word om te sit of slaap.
Ons wou ook 'n eilandbed of iets soortgelyks hê sodat ons nie oor mekaar hoef te klouter as ons gaan slaap of opstaan nie.
Verder het ons besluit op slegs 'n ingeboude toilet sonder 'n stort, want die plekke waar ons kamp, het altyd voldoende en skoon ablusiegeriewe.
Alles wat ons inpak en saamry, moet ook maklik in die hande gekry word, sonder dat ons hoef te kniel, kruip of buk.
Ons het besluit teen 'n gasinstallasie, en het 'n induksiestoof en 'n draagbare gasstofie gekies.
Die voertuigsoekery was effens moeiliker. Ek het amper 'n jaar lank op die internet gesoek na 'n goeie tweedehandse voertuig.
Ek het na 'n klompie Fiat Ducato's gaan kyk, maar hulle was nie in 'n goeie toestand nie.
In Februarie 2015 het ek besluit om maar te kyk of ek nie 'n Peugeot Boxer in die hande kan kry nie.
Dieselfde dag nog het ek 'n Boxer by 'n tweedehandse verkoopswerf in Gezina, Pretoria, gekry. Die vorige eienaar het hom gebruik om veteraanmotorfietse te skou.
Die Boxer het 48 000 km op die klok gehad en my R240 000 uit die sak gejaag.

Timmer en skaaf
Terug by die huis het ek die Boxer onder die afdak getrek en het ons dadelik aan die werk gespring.
Ek en Elsa het al ons kennis bymekaargegooi en alles self gedoen.
Ek kon die ervaring gebruik wat ek in my loopbaan as tegnikus opgedoen het en die houtwerk wat my pa, Lieb, my geleer het.
Elsa se ouers, Toy en Bettie Slabbert, het destyds meubels oorgetrek en sy is goed met stoffeerwerk, naaldwerk en verf.
Met alles wat ons in die wa wou hê, was die uitleg 'n taamlike uitdaging. Die oplossing was 'n binneruimafskorting sowat 250 mm van die agterkant af.
In die leefruimte is dit die bedkopstuk, en aan die ander kant, agter die Boxer se twee groot swaaideure, die hang- en pakplek.
Om genoeg ruimte te hê vir die bed - wat in die lengte van die wa afloop - het ons een sitplek by die tafeltjie opgeoffer.
Die voetenent van die bed dien as die tweede sitplek. Onder die bed het ons twee laaie ingebou wat na buite by die swaaideure uitskuif om die in- en uitlaaiery te vergemaklik.
Die 55 l-watertenk word in die laairuim agter volgemaak en daar is geen kans dat water in die leefruimte gaan stort nie.
Dit was ook nie nodig om 'n gat in die bakwerk te sny vir die vulprop nie. Dieselfde geld vir die kassettoilet, wat van die laairuim af leeggemaak word.

Daar gaat hy!
Die werk was binne drie weke klaar en ons is vir 11 dae Kaap Vidal toe.
Ons het lekker gekamp en daar was nie veel wat moes verander nie: Ek het net die wasbak 'n entjie geskuif omdat die afvoerpyp teen die borde in die eetgereikas gekap het, die houtwerk afgerond en ons het 'n paar ekstra liggies ingesit.
Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #86 (Maart 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.




















