Leef

Deurmekaar styl vir die buitelewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Net omdat 'n vrou avontuurlustig is en van kampeer en vierwielaangedrewe voertuie hou, beteken dit nie dat sy nie op haar beste kan lyk nie.

Nadia Prinsloo (39) sê sy bewonder altyd ander vroue se haarstyle en grimering en wil graag 'n "mooi kamp-tannie" wees. Daarom het sy by die Glam Guru-span aangeklop.

Prinsloo was gisteraand se deelnemer aan die voorkomstransformasie-program.

"As jy kampeer, het jy nie 'n eksieperfeksie haarstyl nodig nie," sê Hannon Bothma, aanbieder van Glam Guru.

"As dit in elk geval deurmekaar gaan lyk, het jy 'n deurmekaar styl nodig met 'n mooi vorm wat steeds jou gesigvorm gaan komplementeer."

Volgens Bothma is nie eens 'n afgeleë kampeerterrein sonder elektrisiteit met kalkwater 'n verskoning om vaal te lyk nie.

Nadia Prinsloo voor die oormaaksessie.
Nadia Prinsloo voor die oormaaksessie.

Daarom het hy Prinsloo se hare­ gekap, gekleur en aan haar gesê hoe om dit te stileer as sy nie toegang tot 'n haardroër het nie.

Christine Steynberg, eienaar van Sally Slimming Studio en medeborg van Glam Guru, het gereed gestaan om haar te wys hoe om haar vel te versorg.

Nadia Prinsloo ná die Glam Guru-span haar onder hande geneem het.
Nadia Prinsloo ná die Glam Guru-span haar onder hande geneem het.

Volgens Steynberg kan 'n velsorgroetine baie vereenvoudig word vir wanneer jy kampeer. Sy sê die belangrikste is reiniging, beskerming teen die son in die dag en behoorlike bevogtiging in die nag.

Lizel van der Westhuizen, Glam Guru se modestilis, se raad vir mooi kampeerklere is T-hemde met patrone uit die natuur (soos blomme, blare of luiperd-kolle), sandale met iets wat blink of helderkleurig is en broeke wat die enkels beklemtoon.

Prinsloo is ook touwys gemaak oor hoe om haar eie getinte vogroom te maak - deur bloot 'n roomonderlaag en sonbrandroom te meng.

Ná dese sal Prinsloo se voorkoms teen niemand s'n afsteek wanneer sy kamp opslaan of oor rowwe terrein bestuur nie.

  • Kyk Glam Guru op kykNET (DStv-kanaal 144) Donderdae om 17:30. Heruitsendings is Maandae om 11:30, Dinsdae om 16:30, Woensdae om 14:00 en Vrydae om 13:00.

Wen met Hannon en Beeld

Louise Gouws van Lynnwood in Pretoria is die week se wenner van Beeld se Glam Guru-kompetisie.

"Ek glo dit nie. Ek is so bly. Vreeslik dankie. Ek waardeer dit so baie," het 'n opgewonde Gouws gister gesê toe sy hoor sy wen.

Met elke episode van Glam Guru wen 'n gelukkige Beeld-leser Hannon-skoonheidsprodukte van R1 000.

'n Voorbeeld van 'n inskrywing is: Hannon, pienk lipstiffie, Jane Doe, Koster, JaneDoe@yahoo.com.

Die weeklikse wenner word in 'n gelukkige trekking gekies en word in Beeld bekend gemaak.

Vandeesweek se vraag is: Met watter produk kan jy jou roomonderlaag meng om getinte vogroom te maak?

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM