Rene Gonera van Kaapstad was 'n tuisblyma wat deeltyds skoene ontwerp het - kunswerke in die kleine - toe sy eendag in Desember 2021 nadink oor haar lewe en besef sy het vasgeval.
"Ek het gedink: Hou ek regtig van my lewe? Ek is mal oor skeppend wees, maar is dít ék? Ek het vermoed ander mense hou meer van die idee van my onderneming as ek self."
Rene was nog altyd kreatief. Sy het tekstielontwerp studeer, kostuums vir advertensies en flieks gemaak, konsultasiewerk vir haar (nou eks-)man se filmmaatskappy gedoen terwyl hul kinders nog klein was, agt wonderlike jare in Hollywood saam met haar gesin deurgebring, naaldwerkklasse gegee en skoolproduksiekostuums gemaak. Altyd aan die skep.

Maar toe lei die lewe haar daardie dag in 'n ander rigting.
Sy't 'n vraelys oor sterk punte ingevul.
"Myne was toe tipies van 'n berader: empaties, ek kan my in ander se situasie indink, ek wil mense help groei en dra graag kennis oor. Vriendinne het nog altyd na my vir raad gekom."
Toe gaan studeer sy berading en sielkunde - op 48.
Sy maak nou haar graad aan die South African College of Applied Psychology in Kaapstad klaar en geniet elke oomblik, al was sy eers skrikkerig.
"Ek het 'n eenjaarkursus begin, maar binne 'n maand besef: Ek is mal hieroor, ek wil die graad doen!"
Sy het net "die vonkies vreugde gevolg", en nie te veel na die groter prentjie gekyk of aan haar ouderdom gedink nie.
"Party mense gaan op 58 op vroeë aftrede, en hier is ek, besig met 'n nuwe beroep op 51. In die middel van die menopouse. Soms vergeet ek my woorde - mushy brain! Maar dis oukei, dit definieer my nie en ek kén my werk. Dit gaan uiteindelik oor persepsie.
"As jy dink dit gaan moeilik wees, gáán dit moeilik wees. Ek geniet my klasmaats. Die meeste is in hul vroeë twintigs, maar ouderdom maak nie saak nie."
Haar kinders (23 en 21) is baie trots op hul ma.
"Vir hulle is ek 'n voorbeeld van hoe jy jouself kan reinvent. Daar was ook swaarkry die afgelope twee jaar. My ouers is oorlede en ek is geskei. Om te studeer is my suurstof, iets om op te fokus.
"Dis nou mý oomblik . . . ek was baie lank 24/7 álles vir almal."
Sy het danksy haar studies ook meer oor haarself geleer.
"In die begin het ek myself heeltyd gediagnoseer met 'n spul goed. Maar dis normaal."
Rene doen nou haar prakties by die Design Academy of Fashion in Kaapstad - die perfekte pasmaat.
"Ek geniet individuele en groepswerk en om werksessies oor alle aspekte van geestesgesondheid aan te bied. Dis lekker om vir iemand die gereedskap te gee om homself beter te verstaan. Om saam op 'n ontdekkingsreis te gaan om vrede te vind, en te besef die lewe hoef nie perfek te wees nie.
"Ek weet vandag jy kan meer leer uit jou foute as uit jou suksesse."
Rene wil nooit ophou leer nie. In 2026 pak sy haar honneursgraad aan. Sy sal altyd skep, daarsonder kan sy nie. Haar jongste passie is pottebakkerswerk - sy hoop om eendag in haar praktyk kreatiwiteit met berading te integreer.
"Ek bring tans my eie praktyk op die been en vind my finansiële onafhanklikheid."



















