So twee weke voor Kersfees verlede jaar is ek ge-dump. Die kêrel het my die dag genooi vir koffie, en niksvermoedend het ek my hare mooi uitgeblaas, my grimering aangesit, en gegaan.
Daar gekom, het ons deur sy tuin gestap en hy het vir my blomme gepluk. Toe ons aansit vir koffie, het hy met my uitgemaak. Die rede? Dit sou beteken ons verhouding raak te ernstig as ons Kerstyd saam deurbring.
Die blomme het op pad huis toe by my motorvenster "uitgeval" en die volgende dag in die somerson langs die N1 verwelk. Dis harteloos om iemand dié tyd van die jaar te los, het ek gedink.
Maar dit blyk dis 'n algemene verskynsel en dié patroon herhaal homself elke jaar in baie verhoudings.
Britse data-joernaliste het Facebook in 2008 en 2009 gemonitor vir die woord "breakup" asook soortgelyke woorde in gebruikers se statusse. Waarop het die inligting gedui? Die meeste verhoudings word twee weke voor Kersfees beëindig. (Die ander groot opbreek-golf is in die begin van Maart, vermoedelik omdat dit net ná Valentynsdag is en omdat die lente, wanneer mense geneig is om nuwe liefde te soek, dan ook in die Noordelike Halfrond aanbreek.)
Een van die wêreld se grootste afspraak-webwerwe, Match.com, sê hul besigste seisoen begin op Kersdag - 'n teken dat baie mense dan pas opgebreek het en nuwe maats soek.
Nog 'n peiling onder 2 000 mense deur die motorverhuurder Holiday Autos het in 2016 gewys 40% van paartjies baklei elke dag tydens 'n vakansie.
Carol Nader, 'n verhoudingsberader van Johannesburg, sê ervaring het haar geleer meer verhoudings eindig in Januarie of Februarie, maar dat die verhouding dan gewoonlik reeds in die vakansietyd "verby" was of dat die probleme toe kop uitgesteek het.
"Gewoonlik wag mense dan tot ná die vakansie omdat hulle nie die kinders oor die feestyd wil ontstel nie, of eers baie familieverpligtinge en afsprake saam moes bywoon."
Hoekom nou?
Anerene Rossouw, 'n lewensafrigter van Kaapstad, sê daar is báie stressors oor die Kerstyd en tydens vakansies. Dis deels omdat jy verwag jy gaan ontspan en dus nie daarop voorbereid is nie. Enige struikelblokke voel dan groter en jy het ook min energie daarvoor ná die jaar se harde werk.
Boonop is daar baie uitgawes en familiekuiersessies wat jou stresvlakke opjaag.
Sy en Carol sê daar kan natuurlik verskeie redes wees hoekom paartjies baklei of opbreek, maar dié stremminge is van die grootste oor die Kers- en vakansietyd:
- Familie
Ja, jy is lief vir hulle, maar om jou eie familie én die skoonfamilie skielik baie meer te sien, kan uitputtend wees - en spanning veroorsaak as julle nie goed oor die weg kom nie.
Boonop het elke familie waarskynlik sy eie tradisies en verwagtinge oor dié tyd van die jaar en dis moeilik om 'n middeweg te vind.
- Geskenke
Jy wou nie ondankbaar lyk nie en moes op jou tande kners toe hy jou 'n stofsuier as Kersgeskenk gee, of sy jou nóg 'n das gee. Dit gaan nie oor die geskenk nie, maar oor die gevoel dat jou maat jou net glad nie ken nie, of nie moeite gedoen het nie, sê Anerene.
- Verantwoordelikhede
Dit was 'n láng jaar en jy wil vir 'n week of wat net sit en niks doen. Maar dan hou die werk nie op nie - daar moet steeds na die kinders omgesien word, die huis moet skoongemaak word, en jou wederhelf bring nie sy of haar kant nie.
- Vakansieplanne
Jy wil sit en boek lees, hy wil braai en by vriende kuier. Jy wil al die besienswaardighede besoek, hy wil langs die swembad uitspan.
As daar nie aan jou verwagtinge voldoen word nie, kan dit voel asof jou vakansie vermors is. Boonop behels enige reis of vakansie moeite en stres (weens druk om betyds te wees vir vlugte, lang ure in die kar, of al die beplanning), wat reeds die gemoedere hoog kan laat loop.
- Finansies
Vakansies, vieringe en geskenke kos geld, en dalk stem julle nie saam oor die begroting nie, of een van julle hou nie daarby nie.
- Druk
As julle nog nie lank 'n paartjie is nie, kan dit jou onder druk laat voel om jou nuwe geliefde se familie te ontmoet of om baie tyd saam deur te bring.
- Ruimte
Die res van die jaar werk julle albei voltyds en is net saans en oor naweke saam, maar skielik bring julle baie tyd in mekaar se geselskap deur. Jy voel dalk jy het meer eietyd en spasie nodig.
Blou Kersfees
Baie paartjies verwag dat vakansies of Kersfees hulle nader aan mekaar sal bring, nes baie mense verkeerdelik glo 'n kind sal hul verhoudingsprobleme regmaak, sê Anerene. "Maar dit het dikwels die teenoorgestelde uitwerking, en om meer tyd saam deur te bring, laat val net die kollig op jul probleme."
Dít was die geval vir Elsabé Coetsee*, 'n geleentheidsbestuurder van Johannesburg. Sy en haar kêrel het hul verhouding vroeg in Januarie 2017 beëindig ná 'n moeilike feestyd - hul derde een saam, maar die eerste waar sy familie by hul huis sou kom kuier.
"Dinge was eintlik lank voor dit nie meer lekker nie, maar ek dink daardie Kersdag was die doodsklok. Hy het my heeltyd gekritiseer terwyl ons reggemaak het - die skaapboud moet só gemaak word en nie só nie, dít neem te lank, daai moet só gedoen word. En toe sy ma daar aankom, het hulle saam grappies gemaak oor die kos waaraan ek ure lank gewerk het. Dit het gevoel of ek 'n buitestander is wat nie inpas in hul familie nie."
Voor dié dag, sê sy, het sy gedink hulle kan dalk nog aan hul probleme werk, en dat die feestyd hulle selfs nader aan mekaar sou bring, maar dit het duidelik geword dat dit reeds te laat was.
"Ek het die idee gekry hy het ons probleme vooraf met sy ouers bespreek en hulle het maar net gewag vir ons om uiteen te gaan; dat Kersdag die laaste ding is wat nog ‘verduur' moet word."
Dit was 'n baie moeilike tyd, sê sy. "Dis ekstra seer wanneer jy oor die Kerstyd besef jou verhouding gaan nie uitwerk nie. Dis veronderstel om hierdie gelukkige tyd wat jy wil koester te wees, en dan is dit presies die teenoorgestelde. Boonop kry jy baie meer met gelukkige families en paartjies te doen, en wonder jy waar jou eie verhouding so verkeerd geloop het."
Anerene beaam dit - verhoudingsprobleme oor die feestyd is ékstra moeilik. "Ek glo daar is oor die algemeen te min ondersteuning vir mense wie se verhoudings eindig - dit kan regtig soms so erg wees soos om iemand aan die dood af te staan. Maar dis veral die geval oor Desember, want almal verwag van jou om te glimlag en dié tyd saam met hulle te geniet. Dit kan jou baie alleen laat voel."
Hou só vakansie in vrede
Hoewel elke paartjie se uitdagings uniek is, kan dié wenke van Anerene en Carol help om jul verhouding oor die vakansietyd gesond te hou:
- Maak tyd vir mekaar
Jy dink dalk 'n vakansie beteken julle gaan meer tyd saam deurbring, maar dikwels is daar baie ander verpligtinge om na te kom. Maak dus 'n afspraak om minstens een maal per week 'n aand saam deur te bring - sonder familie en vriende. "Maak dit eintlik sommer 'n Nuwejaarsvoorneme om elke week 'n date night te hê. Dis belangrik om jul band te versterk," sê Anerene.
- Moenie mekaar blameer nie
Dis nie altyd jou maat se skuld as dinge skeefloop nie - hy is dalk net 'n maklike teiken vir jou woede. Wees ook bewus van jou gedagtes, al sê jy dit nie hardop nie. As jy aanhoudend jou maat stil-stil blameer en niks sê nie, kan wrokkigheid maklik ontstaan.
- Skep jul eie tradisies
Dis moeilik as jy weet jy gaan jou ouers teleurstel deur nie te doen wat jul familie al jare lank doen nie, maar jy is jou eie mens en het nou jou eie "nuwe" familie.
Gaan 'n kompromie aan deur sommige dinge nog saam met jul onderskeie families te doen, maar doen ook sommige dinge soos júlle wil.
- Maak albei opofferings
Die doel is om albei, saam, die vakansie te geniet. As hy nie met vreemdelinge wil gesels nie, ry eerder as om te vlieg. Wil sy geld spaar, gaan kampeer eerder as om in 'n lodge te bly. Maak 'n plan waar albei van julle die vakansie kan geniet.
- Moenie alles persoonlik opneem nie
Dis iets wat jy maklik doen as die irritasievlakke hoog loop. As hy sê die kinders is stout, bedoel hy nie jy's 'n slegte ma nie. As sy sê jy moenie vergeet om die hond te voer nie, bedoel sy nie jy's onverantwoordelik nie.
- Wees geduldig met familielede
Onthou dat jul ouers begin ouer word en dalk alleen voel - hulle sien waarskynlik uit na Kerstyd. Fokus op dít waarvoor jy dankbaar is: Die feit dat jy 'n uitgebreide familie het, genoeg geld het om die feestyd te vier, of dat jy nie nou op kantoor hoef te wees nie.
"Deur op die positiewe te fokus, sal jy dinge meer geniet as wat jy fokus op als wat pla," sê Carol.
- Kommunikeer
Dis die goue reël in verhoudings. Moenie net praat nie - kommunikasie beteken jy luister aandagtig na die ander persoon en gesels oor dít wat op jou hart druk.
Maak vooraf seker julle het dieselfde verwagtinge oor hoe en waar julle die vakansie gaan deurbring, wat jul begroting is, hoe die huishouding en ander verantwoordelikhede bestuur moet word, hoeveel tyd julle vir mekaar en ander mense gaan maak, hoeveel alleentyd jy nodig het, en selfs watter geskenk jy graag sal wil hê.
"Hoe beter julle mekaar se behoeftes verstaan, hoe minder kans is daar op misverstande," sê Anerene.
- Kry hulp
Vra soms jul ouers om die kinders op te pas, kry iemand om die huis skoon te maak, of bestel 'n wegneem-ete sodat julle meer tyd vir mekaar het.
Laastens, luister ook na jouself, sê Elsabé. "Ek het eintlik al vóór die vakansie geweet iets is fout, maar ek het die probleem bly vermy, want ek wou nie alweer baklei nie, en ek het gehoop dit kom vanself reg."
Anerene hoor gereeld soortgelyke stories in haar praktyk. "Moenie jul probleme tot Januarie los omdat jy nou eers net die vakansie wil geniet nie, want dit gaan net erger word. Luister na jouself - as iets fout is, weet jy dit gewoonlik, want jy of jou maat sal jul ongelukkigheid op allerlei klein maniere wys. Moenie misnoeë as 'n gekla afskryf nie, luister sonder om te oordeel, en doen iets daaraan voor dit te laat is."
* Skuilnaam gebruik.
KONTAK
Anerene Rossouw:www.ar-lifecoach.co.za
Carol Nader: www.carolnadercounselling.co.za

















