Leef

‘Eau de Space’: As die ruimte parfuum was . . .

Sagkens gestel, is ons sonnestelsel nie ’n welriekende plek nie.
Sagkens gestel, is ons sonnestelsel nie ’n welriekende plek nie. (FOTO: GETTY)

As iemand sê die ruimte het ’n reuk, sal jy waarskynlik ’n wenkbrou lig. Dis immers ’n vakuum – geen lug nie, geen reuk nie, reg?

Maar volgens ruimtevaarders wat ná ’n wandeling in die groot niks na die ruimteskip teruggekeer het, is dit bietjie soos om by ’n wetenskapsfiksie-braai ’n draai te gooi.

Nou ja, jy kan tegnies nie die ruimte “ruik” terwyl jy in jou Michelinmannetjie-pak rondsweef nie. Verwyder jy jou helm, is jou doppie geklink.

Maar ruimtevaarders vertel van ’n duidelike reuk nadat hulle terug in die ruimtetuig of ruimtestasie was. Toe hulle die lugsluis oopmaak en hul helms afhaal, het ’n eienaardige reuk aan hul toerusting gekleef, veral aan hul pakke en helms.

Hulle beskryf dit onder meer as ’n mengsel van “gebrande steak”, “sweisdampe”, “kruit”, “warm metaal” en selfs “gebrande amandelkoekies”.

Nie juis ’n vertroostende geur soos ’n sweempie laventel of koffie nie.

Dis “swaelagtig” en “osoonagtig”, volgens die ruimtevaarder Chris Hadfield. Nog ’n ruimtevaarder, Peggy Whitson (wat meer dae in die ruimte deurgebring het as enige ander Amerikaner of vrou), sê dit ruik soos “’n geskroeide steak of vuurwerk”.

Basies ruik die ruimte dus soos ’n braaivleis . . . met ’n chemie-laboratorium en dalk ’n skeut vuurpylbrandstof by.

Die maan

In teenstelling met die ruimte self, bestaan ons stowwerige buurman uit vaste grond. Die maan het nie lug of ’n reuk in die tradisionele sin nie. Maar ruimtevaarders kon die maanstof ruik wat hulle na die ruimtetuig teruggebring het.

Apollo 16 se Charlie Duke het dit as “uitgebrande buskruit” beskryf.

Ander ruimtemanne het iets soortgelyks ervaar. Dit was bietjie soos “nat as in ’n kaggel” of “verbrande houtskool”, was van die kommentaar.

Die reuk was afkomstig van die maanstof se fyn, gekartelde deeltjies wat aan hul stewels en pakke gekleef het. Interessant, die reuk het vinnig verdwyn nadat die stof aan lug blootgestel is, amper soos ’n toorkunsie.

Wetenskaplikes glo dit kan wees omdat die stof oksideer wanneer dit met aardagtige suurstof in aanraking kom, wat die chemiese struktuur verander.

Atoom-chaos

Om te verstaan waarom die ruimte en maan só ruik, moet jy begryp wat op ’n molekulêre vlak gebeur.

In die ruimte word alles met hoë-energie-deeltjies van die son en verre sterre gebombardeer: sonwind, kosmiese strale en ander energiestralings.

Wanneer dit die ruimtetuie of -pakke tref, kan die materiaal chemiese veranderinge ondergaan. Dis dié veranderinge, plus die verbinding met suurstofryke lug binne die stasie, wat die vreemde, metaalagtige reuke veroorsaak.

Dis asof die ruimte hulle met sy cologne geseën het.

Iets soortgelyks gebeur op die maan. Maanstof word gevorm deur miljoene jare se asteroïed-impak, sonstraling en gebrek aan atmosfeer.

Dis baie droog en reaktief. Sodra dit binne ’n maantuig met suurstof in aanraking kom, reageer dit onmiddellik – en stel die aroma van gebrande houtskool vry.

Dis dus nie die ruimte en maan wat jy ruik nie. Maar hoe jou neus die chemiese reaksies interpreteer wat ná kontak plaasvind.

’n Bierbrouery

Sagkens gestel, is ons sonnestelsel nie ’n welriekende plek nie. Die heelal is egter enorm met verskillende verbindings en elemente wat ander reuke tot gevolg kan hê. Hoewel geen mens dit waarskynlik ooit sal kan inadem om dit te bevestig nie.

Byvoorbeeld, die stofwolk in die middel van die Melkweg bevat ’n hoë konsentrasie etielformiaat, die verbinding verantwoordelik vir frambose se kenmerkende geur.

Wat meer is, etielformiaat self word geskep uit ’n reaksie tussen ’n suur en ’n alkohol, wat dit ’n reuk soortgelyk aan dié van rum gee.

As jy van ’n framboos-daiquiri hou, klink daardie hoekie van die ruimte skielik baie welkom.

Wát de Eau?

’n Paar jaar gelede het ’n groep wetenskaplikes en parfumeurs saamgewerk om die ruimte en maan se geur te herskep. Hulle het ruimtevaarders se beskrywings gebruik om ’n parfuum te ontwerp wat soos die kosmos ruik.

Die resultaat was ’n geur genaamd Eau de Space of Smell of the Moon. Dis nou nie juis iets wat jy vir ’n warm afspraak gaan aantik nie, tensy die objek van jou begeerte ’n ding oor verbrande metaal en lasers het.

Die idee was egter om mense – veral studente – op ’n interessante manier oor die ruimte te leer. As jy dit kan ruik, kan jy op ’n dieper vlak daarby aanklank vind.

Plus, wie wil nie ruik asof jy pas van ’n ruimteskip afgestap het nie?

Nie vir sissies

Die ruimte en maan se vreemde reuke vertel ons baie van die toestande wat ruimtevaarders moet trotseer.

Dit getuig van die intensiteit van kosmiese straling, die uniekheid van maanstowwe en die belangrikheid om dié ontdekkingsreisigers teen reaktiewe deeltjies te beskerm.

Dit beklemtoon ook hoe selfs die kleinste detail – soos ’n reuk – jou in die ruimte sielkundig kan beïnvloed.

Stel jou voor jy is op ’n lang tog na Mars toe. En in jou kajuit word jy daagliks deur die geur van buskruit en warm metaal omring. Jy gaan nóg meer huis toe verlang.

Raai-raai

Herkou hieraan. As ons dit ooit tot op Mars maak, hoe sal die rooi stof ruik? Dalk na roes en yster? Na swael, soos die reuk van ’n gebrande vuurhoutjie? Of dalk iets wat ons nog nie vantevore ervaar het nie?

En wat van die ander mane en planete? Ruik Europa, een van Jupiter se mane, na sy ysige vulkane se swael? Sal Saturnus se ringe ’n geur van oeroue stof en bevrore gas agterlaat?

Ons weet nie. Maar as die maan en ruimte ’n leidraad is, is die heelal nie net groot en geheimsinnig nie. Dit ruik oor die algemeen nogal sleg, op onverwagte maniere.

Volgende keer as jy na die naghemel opkyk, stel jou die reuk voor van gebrande steak wat in ’n metaalwerkswinkel sis. Want dis waarskynlik die naaste wat jy aan die ruimte se aroma sal kom.

En as jy ooit ’n ruimtevaarder ontmoet, moenie vra hoe nul-swaartekrag voel nie. Vra hoe die ruimte rúik.

CTA