WIE WOON HIER? Lee en Hanko de Wet en hul Skotse terriër, Sibella; hul dogter, Manya, en haar man, Gerild van Rensburg, bly in 'n kothuis op die erf.
WAAR Aucklandpark-Noord, Johannesburg
GROOTTE Altesaam 350m²
GRONDTIPE Leiklipagtig
OUDERDOM VAN TUIN 12 jaar
Toe Lee de Wet begin verstaan waarvan sy hou, het die voorkoms van haar tuin in plek geval!
"Ek moes eers agterkom dat ek nie 'n puris is nie. Dit was vir my net onmoontlik om by 'n beperkte kleurskema te hou," vertel sy.

"Ek het van die idee gehou om groente en kruie te plant, maar wou ook nie net dit doen nie. Dis eers toe ek besef ek hou van geurige kruidagtige plante en daarvan begin plant, dat dit soos 'n goue draad deur my tuin begin loop het. My tuin het begin vorm aanneem," gesels Lee, 'n dosent in mode-ontwerp by die Universiteit van Johannesburg se kunsfakulteit.

Die De Wets het twaalf jaar gelede hier ingetrek en die werf onder hande geneem. Die tuin was gevestig maar redelik verwaarloos, met groot oorgroeide struike en kaal grond daaronder.
"Ek het die tuin met verloop van tyd ontwikkel met net 'n raamwerk in my kop, sonder om 'n formele plan te teken," vertel Lee.
Sy het die tuin in drie dele verdeel, naamlik die ingangstuin, die kombuis-tuin en die swembadtuin. Al drie areas gee die gevoel van 'n binnehof omraam deur óf geboude óf plantmure.
(45m2)
Ingangstuin
Om by die erf in te kom, loop jy met 'n gruispaadjie langs deur 'n ou plaashekkie wat hulle by 'n antiekwinkel opgespoor het.

In die voorste deel van die ingangstuin, wat feitlik heeldag son kry, groei onder meer inkalelies, koringblommetjies, engelvlerkies, 'n wit Petrea volubilis en 'n wit bougainvillea.

'n Paar treë verder gooi die huis se mure en die prag-van-Indië-bome heerlike koelte en stap jy tussen skaduplante soos boslelies, varings, orgideë, varkore en 'n verskeidenheid lugplante en dan onder 'n staalprieel deur na die kombuistuin.
(200m2)
Swembadtuin

Die tuin by die swembad het kopkrap gekos. Daar was 'n baie ou swembad wat nie in 'n goeie toestand was nie.
Lee-hulle het dit opgeknap en met donkergrys Marblite laat afwerk. Die grasperk is uitgehaal en plaveisel is gelê vir 'n harde loopoppervlak.
Rondom is beddings, afgerond met netjies gesnyde buksboomheinings (Buxus sempervirens) en plantbakke.

"Dit het my 'n tydjie gevat om by 'n plan vir dié deel van die tuin uit te kom," vertel Lee.
"Ons wou die gras in die hele tuin minder maak. Die erf is skuins, met terrasse vir gelyk oppervlakke - maar dit het grassny bemoeilik. Uiteindelik het ons net 'n stukkie gras in die kombuistuin behou vir Sibella.
"Ons is besig om die swembadtuin met 'n muur van plante te omring en laat dit steeds hoër groei sodat ons met verloop van tyd geen huise se dakke meer van ons stoep af sal sien nie. Die plantbakke wat ons hier gebou het, gee struktuur aan die ruimte."
Lee se gunstelinge

Die inkalelies (Alstroemeria aurea) in interessante en ongewone kleure wat sy by haar ma gekry het, lê Lee baie na aan die hart.
"My ma was 'n goeie tuinier en was baie lief vir tuinmaak. Sy het op ons plaas in Rustenburg tonnels vol inkalelies gehad en plante in ongelooflike kleure versamel."

Haar ander gunstelinge is:
Bome
• Granaat (Punica granatum)
• Olyfbome (Olea europaea)
• Prag-van-Indië (Lagerstroemia indica)
Plante in die kruiefamilie
• Basiliekruid (Ocimum basilicum)
• Dille (Anethum graveolens)
• Koljander (Coriandrum sativum)
• Koorskruid (Tanacetum parthenium)
• Kruisement (Mentha)
• Laventel (Lavandula)
• Nieskruid (Achillea filipendulina)
• Origanum (Origanum vulgare)
• Roosmaryn (Rosmarinus officinalis)
• Salies soos pynappelsalie (Salvia elegans)
• Sitroenverbena (Aloysia triphylla)
• Tiemie (Thymus vulgaris)
Ander blomplante

• Aronskelke (Zantedeschia aethiopica)
• Chinese jasmyn (Jasminum polyanthum)
• Daglelies in ongewone kleure (Hemerocallis-hibriede)
• Engelvlerkies (Oenothera lindheimeri)
• Geel boslelies (Clivia miniata)
• Heuningblommetjies (Lobularia maritima)
• Kliprose (Cistus-hibriede)
• Koringblommetjies (Scabiosa africana)
• 'n verskeidenheid orgideë
'n Tweede lewe
Benewens haar plantkeuse vorm interessante vondste uit antiekwinkels en sloopwerwe ook 'n deurlopende tema in die tuin.

"Dit is vir ons 'n stokperdjie om te gaan rondkrap na goeters wat ons kan hergebruik. Ons het die mooiste gekleurde glasvensters op 'n slopingsterrein gevind. Dit kom uit 'n baie ou kerkie en het nou 'n tweede lewe in ons tuin!
"Een van die beelde het Hanko ontdek toe hy tuinvullis gaan aflaai het. Dit het net daar gelê en hy het dit vir 'n paar rand by die opsiener gekoop," vertel Lee.

"Die beeld van die dogtertjie by die swembad kom uit die 1920's. Ons het haar raakgesien by 'n plek waar ons matte laat skoonmaak het. Die eienaar het ingestem dat ons dit koop; sy het gevoel dis tyd dat die dogtertjie 'n nuwe huis kry."
Lee se tuin vol kruieplante, beelde en potte is 'n plek wat haar gelukkig laat voel.

"Dit is vir my heerlik om met my hande in die tuin te grawe en kontak met die grond en plante te hê. Dis 'n plek waar ek myself kan uitleef, my ontvlugting van bekommernisse by die werk," sê sy.

"Hier hoef 'n mens met niemand mee te ding nie. Ek gee nie om wat ander mense daarvan dink nie - dit is vir ons mooi en 'n rustige omgewing om in te wees.
"Maar alleen sou ek nie die tuin so kon verander het nie. Hanko hou daarvan om te help met die beplanning van strukture, en Americo Macamo, 'n uitstekende nutsman en tuinier, is goed met die uitvoering van al ons planne.

"Hanko werk in die korporatiewe omgewing en om oor naweke projekte aan te pak, is vir hom ontspannend. Dit is werklik 'n spanpoging."
(105m2)
Kombuistuin

"Een ding wat ek van die begin af geweet het, is dat ek 'n kombuistuin met ses groot plantbakke wou hê waarin ek groente en kruie kon kweek," onthou Lee.

"Dit het ek eerste aangepak. Ek plant ook blomme tussenin vir kleur en saai gereeld 'n saadpak met 'n verskeidenheid eenjariges waarvan die blomme kom en gaan."

Sy sê sy en Hanko het die pergola saam ontwerp. "Hanko het die beplanning gedoen en dit saam met Americo aanmekaargesweis."



















