Teks en produksie: Mary Jane Harris
WAAR Johannesburg
GROOTTE 60 m²
Dié Johannesburgse egpaar dink soos baie professionele mense al aan hul aftreeplanne sedert hulle 30 jaar gelede hul eiendom van 1 807 m² gekoop het.
"Ons het altyd gedroom van nog 'n blyplek in die tuin wat 'n ekstra inkomste kan inbring wanneer ons die dag ophou werk," vertel hulle.
Hulle het oor die jare rondgespeel met allerhande planne, maar nooit sover gekom om te begin bou nie. Die projek het eers momentum gekry toe hulle hoor hul dogter, wat in Kaapstad studeer het, kom werk in Johannesburg.
"Ons het besef sy's net die mens om die kothuis vir ons uit te toets, dus het ons aan die werk gespring."
'n Lang, smal deel van die erf is opsygesit vir die voorgenome bouprojek en was die ideale plek vir 'n skuurtipe-struktuur, iets waartoe die vrou, 'n binne-ontwerper wat verantwoordelik was vir die konsep en ontwerp, altyd aangetrokke was.
BUITE
Die baksteenafwerking van die kothuis laat dit versmelt met die tuin. Die skoorsteen is van vlekvrye staal, dus is geen onderhoud nodig nie.
LEEFAREA

Aanvanklik wou die huiseienaars gepoleerde betonvloere gehad het, maar weens begrotingsbeperkings het hulle besluit op viniel wat soos hout lyk.
"Dit skep 'n warmer atmosfeer en dis meer gemaklik om op te loop."
Houtbalke is geverf om te pas by die plafon, aksentueer die lyne van die dak en gee karakter.
'n Lang storie

Nadat hulle die vloerplan 'n paar keer verander het, het die egpaar besluit op 'n leefarea met 'n mini-kombuis by die ingang en 'n slaapkamer aan die agterkant.
"Ons het die badkamer in die middel gesit om die areas te skei. Dit laat die gaste ook toe om die toilet te gebruik sonder om inwoners se privaatheid in gedrang te bring."
Wat die kothuis so treffend maak en groter as sy 60 m² laat lyk, is die hoogte van die plafon: 'n indrukwekkende 5 m.
Dit was so beplan, en die eienaars wou dié ruim gevoel nie bederf met horisontale balke nie. Daarom het hulle 'n dakmaatskappy versoek om die balke só te ontwerp dat dit die lyne van die skuins dak volg.
Vanweë die hoogte het hulle 'n ingenieur geraadpleeg toe dit kom by die gooi van die fondament.
"Terwyl die kothuis gebou is, het dit so groot gelyk dat ons dit ‘The Cathedral' genoem het. Maar toe dit klaar was, het dit naatloos met ons woonhuis en die tuin ingeskakel."
Tydens die bouwerk het hulle agtergekom die huis, wat hoofsaaklik oos front, is baie koud.
"Dis waarom ons besluit het om 'n smeulstoof in te sit. Ons het gedog ons kan dit self doen, maar toe ons besef hoe hoog die skoorsteen is, het ons die maatskappy gebel by wie ons dit gekoop het en hulle het dit daardie middag kom installeer.
"Dit maak die hele kothuis warm."
Om die hoogte van die plafon te aksentueer is ekstra lang staalraamdeure met veiligheidsglas laat maak.
BUITEKUIERKOL

Die oorspronklike verhoogde beddings teen die erf se grens is verklein om plek te maak vir ingeboude sitplek.
"Dis so 'n praktiese oplossing," sê die egpaar. Om die ruimte maksimaal te benut maak die deure plat teen die muur oop.
Bakstene buite

Om 'n buitekuierplek te skep het die huiseienaars sitplek laat inbou.
"Toe ons voor die bouery hier buite skoongemaak het, het ons die bome behou en ook al die plante wat ons uitgehaal het. Dit is teruggeplant nadat die projek klaar was."
Hulle het aanvanklik daaraan gedink om die buitemure te pleister en te verf, maar besef dit is 'n duur opsie. Dit het hulle laat besluit om die bakstene net so te hou.
"Ons was bekommerd dat dit dalk nie waterdig is nie, dus het ons ander geboue bekyk en gesien dit is gelukkig wel. Ons hou van die baksteenvoorkoms en het dit op ons patio en vir sommige van die tuinelemente gebruik.
"Ons het gemeen dis 'n goeie manier om die kothuis te verbind met ons tradisionele 80-jarige huis."
Hulle het 'n argiteksvriend, Dirk le Roux van Celtis, gevra om planne te teken en aan die munisipaliteit voor te lê.
"Hy het ook my elevasies gekorrigeer en praktiese voorstelle gemaak," sê die vrou. Sodra die planne goedgekeur was, het hulle begin bou.
"Ek het al tevore met die bouer Thabisani Siziba van Thabinto Projects saamgewerk en hy was dadelik aanboord. Ons het in April begin en was middel-Junie klaar."
MINI-KOMBUIS

Die kombuisarea is ontwerp met 'n wasbak, yskassie, gasplate en mikrogolf.
"Ons het kwarts gekies vir die werkoppervlakke. Dis bekostigbaar, maar duursaam."

Die kaste is aangevul met 'n sweefrak en 'n losstaande kas vir breekware en messegoed.
BADKAMER

Danksy 'n laer plafon in die badkamer kon die geiser daarbo versteek word.

SLAAPKAMER

Ligte wat hul dogter van Kaapstad gebring het, is weer opgehang en aksentueer hier die hoogte van die plafon.
AAN DIE WERK
1. Ligging

Die kothuis staan aan die ander kant van die oprit as die hoofhuis. Die personeelkwartier is sigbaar op die agtergrond.
2. Om te verf, of nie te verf nie

In 'n stadium sou die huis wit geverf word, maar uiteindelik het die eienaars besluit om die bakstene net so te hou.
3. Slaggereed

Die staalraamvensters is afgelewer met 'n rooi onderlaag - gereed vir installering en 'n vars verflaag.
4. Pakplek

Die badkamer se plafon is laer en versterk vir pakplek bo en wegsteekplek vir die geiser.
5. Kragpunte

Die plasing van die kragpunte is bepaal deur die toestelle in die kombuis en die posisie van muurligte.
6. Deure

Die spesiaal gemaakte deure is 2 380 mm hoog.
KENNERSRAAD
Om nog 'n woning op jou erf te bou

Die argitek Dirk le Roux en stadsbeplanner Elize Castelyn het raad vir eiendomme wat gesoneer word as Residensieel 1 (digtheid per erf vir 'n voorstedelike enkelwoonhuis):
Ken jou plaaslike sonering en munisipale regulasies
Elke munisipaliteit het verskillende reëls vir bykomende wonings. Die kothuis, byvoorbeeld, het voldoen aan Johannesburg se grondgebruikskema (huidige weergawe, 2018), maar sou bykomende goedkeuring in Pretoria moes kry.
Kyk wat is jou bestaande regte
Voordat jy begin ontwerp of bou, moet jy uitvind watter bykomende woning is reeds toegelaat op jou eiendom as 'n primêre reg. Jou titelakte en die munisipaliteit se grondgebruikskema sal hierop lig werp.
Vra 'n argitek of stadsbeplanner om jou sulke regulasies te help navigeer.
Bykomende goedkeuring
As jou planne die toelatings in die grondgebruikskema (as 'n primêre reg) oorskry, kan jy dalk steeds jou droomstruktuur bou, maar jy sal eers moet aansoek doen om die toepaslike goedkeurings.
'n Stadsbeplanner kan jou met die proses help en ook om hiervoor te begroot.
Verseker projeknakoming
Jy kan dit doen deur die regulasies te verstaan, jou regte na te gaan, en raad te vra by kenners. Behoorlike beplanning sal lei tot sukses!

KONTAKTE dirk@celtisdesign.co.za | ecstads@castelyn.com
VERSKAFFERS EN KONTAKTE
- Alida Gardens 082 330 3091
- Complete Flooring
- https://coricraft.co.za/
- Coricraft
- https://cosyheating.co.za/
- Cosy Heating
- https://www.celtisdesign.co.za/
- Celtis
- https://gotodoorandwindow.co.za/
- Go-To Door & Window
- The Lighting Warehouse
- Manny's Timber and Hardware 061 883 4180
- Mary Edwards Specialist Paint Techniques
- https://www.mrphome.com/home
- Mr Price Home
- R Designs 082 804 5913
- Thabinto Projects
- Weylandts


















