Foto's Karl Rogers en Elsa Young/Frank Features Produksie Marian van Wyk
Weelde-patrollie
Camp Canoe op die Boschendal-wynlandgoed teen die hange van Simonsberg is enige glanskampeerder se droom! Die eienaar, Amy Kropman, het die binne-ontwerpers Rotem Shachar en Megan Bond van die ontwerpateljee MR. vrye teuels gegee met die versiering van hul luukse tente.
Toe vra hulle Bit by Bit Mosaic om 'n ruitpatroon wat aan 'n piekniekkombers herinner, teen die stortmuur te skep. Dis presies in pas met die Padvinder-geïnspireerde tema by Camp Canoe, en voer die muuroppervlakke in die tente tot nuwe hoogtes!Handdoek van The Cotton Co.

Jare vooruit!
Met die eerste oogopslag sal jy nooit glo dat dié trendy stort met sy kurwes en treffende oranje teëls in Susan Fourie se huis op Stilbaai reeds in 2005 gebou is nie. Sy was duidelik haar tyd vooruit, want die kit-kat-formaat en geronde vorm is nou hoogmode. "Ek het gesukkel om 'n argitek te kry wat my visie verstaan," vertel Susan.
"Maar David van Coller, 'n argitek en kranige surfer, het my opdrag vir 'n huis met eenvoudige lyne nie net blitsig begryp nie, maar ook daarop verbeter. Hy het die nodige detail bygevoeg, soos die geronde muur vir privaatheid. Ek hou toe al die tyd van kurwes! "Al is ek glad nie kunstig nie, het ek heelwat beeldhouwerke wat die vroulike vorm vier. En my badkamer dra dieselfde gevoel oor.
"Die klein, langwerpige teëls was die enigste ding wat my begroting vir die hele bouprojek laat ontspoor het, maar ek moes dit net hê."
Susan sê dit was destyds nie maklik om bypassende handdoeke vir haar unieke badkamer te kry nie, maar noudat dié kleurskema uit die middel van die vorige eeu so gewild is, kan sy kies en keur!

Bo tot onder
'n Klein binnehof buite die kombuis aan die agterkant van hierdie huis in Groenpunt, Kaapstad, bied toegang tot die waskamer, maar is ook die enigste privaat buiteruimte op die werf.
"Dit was dus belangrik om hier 'n buitekuierplek te skep," verduidelik die binneontwerper Etienne Hanekom. Sy oplossing? 'n Platform op verskillende vlakke, met 'n eethoekie heel bo en sitplek net buite die kombuis, wat dié ruimte naatloos met die huis laat skakel. Trappe van die boonste vlak na die platform ondertoe is nie net funksioneel nie, maar bied ook ekstra sitplek wanneer vriende oorkom vir drankies.
"Die beste manier om die onderskeie dele by mekaar te laat aansluit, was deur dieselfde oppervlakmateriaal reg deur te gebruik," sê Etienne. "Fretwork On One-teëls in die kleur Lagoon van Popham Design bied 'n weelderige grafiese kinkel wat mense buitentoe lok."

Ry die golf
Dis nie aldag dat ons 'n oorsese ruimte in Tuis wys nie, maar toe ons hierdie treffende blou-en-wit binnehof sien, kon ons dit nie weerstaan nie.
Want al is dié plek in Ibiza, Spanje, kon die vars wit strukture en kaktusse net sowel in die Karoo gestaan het.
"Die oomblik toe ek by hierdie yslike binnehof instap, het ek geweet ek wil die hele oppervlak met blou-en-wit teëls afrond en plante op dieselfde vlak plaas vir 'n byna naatlose geheel," sê die huiseienaar Deborah Brett.
"Die golfpatroon word geskep deur vier teëls (10655 D + G van Mosaic Factory se Spaanse tak) saam in 'n spieëlbeeld van mekaar te plaas. Die patroon, wat net hier en daar deur klein lemmetjiebome en 'n fontein onderbreek word, het groot trefkrag, veral wanneer 'n mens oor die binnehof na die huis kyk.
"Ons het 'n Spaanse teëlmaatskappy gevind wat hul teëls in Marokko laat maak. Elkeen is met 'n kwart van die volledige patroon bedruk, sodat die geheel 'n selfs groter golfontwerp vorm wanneer dit so van muur tot muur gelê word."
Die goeie nuus is dat jy binnekort iets soortgelyks kan skep met plaaslik vervaardigde teëls! Heather Moore, stigter van die huisware-maatskappy Skinny laMinx, het met Concrete Studio hande gevat om teëls te maak en die bekoring van eenvoudige motiewe wat tot komplekse patrone lei, verder te verken. Heather se ontwerpe word geïnspireer deur die vorms en kleure wat sy elke dag in Kaapstad en op haar reise teëkom.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE
Africology africologyspa.com
Bit by Bit Mosaic mosaiccapetown.co.za
Camp Canoe campcanoe.co.za
Canettevallei Lavender canettevalleilavender.co.za
Concrete Studio concretestudio.co.za
DH van Coller Architect dhvancollerarchitect.co.za
Etienne Hanekom instagram.com/etiennehanekominteriors
Fijn Botanicals fijnbotanicals.com
James Mudge Furniture Studio jamesmudge.com
Mosaic Factory mosaicfactory.com/en/ MR. bymr.co.za
Popham Design pophamdesign
Scent thescentuary.co.za Skin Creamery skincreamery.com
The Cotton Company thecottoncompany.co.za
Umbono instagram.com/purecare2021
Woolworths woolworths.co.za















