Kos + wyn

Bief-en-klapper-kerrie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Photo: ER Lombard
Photo: ER Lombard
  • 1kg - beenlose bief- dikrib (“chuck steak”), in 3 cm-blokke gesny
  • 30ml - olyfolie
  • 2 - middelslag-uie, gehalveer en dun gesny
  • 1 - knoffelhuisie, gesny
  • 2cm - vars gemmer, geskil en gerasper
  • 5ml - borrie
  • 2ml - rissiepoeier
  • 15ml - brijani-masala (of jou gunsteling)
  • 500ml - vleisaftreksel
  • 125ml - klapper
  • 80ml - rosyntjies
  • - ’n strooisel vars koljander

1. Verhit 'n dikboompot tot goed warm en braai die dikrib tot oraloor goudbruin. Werk in sarsies en gebruik die olie soos nodig. As die vleis genoeg vet aan het, is dit dalk nie nodig vir ekstra olie nie. Geur die vleis goed met sout en hou eenkant.

2. Verhit nog 'n skeutjie olie in dieselfde pan en braai die uie stadig tot sag, en dan bruin. Voeg 'n skeutjie water by en kook droog as dit lyk of die uie te vinnig verkleur. Dié stap neem tot 10 minute en is baie belangrik vir die geur.

3. Roer die knoffel, gemmer, borrie, rissiepoeier en ma-sala by en braai vir 'n minuut. Roer die bruingebraaide vleis, aftreksel, klapper en rosyntjies by en bring tot kookpunt. Draai die hitte laer sodra die sous kook en laat prut bedek vir 2 uur tot die vleis sag is. Proe en geur na smaak met sout en peper. Strooi die koljander oor (ook vars rooi brandrissie as jy wil) en bedien met jou guns-teling-bykosse. Geelrys (sien onder), tamatie-sambal, vars piesangskyfies, blatjang en roti's vir my, dankie.

WENK As jy hou van 'n baie dik sous, meng 15 ml meel met 'n bietjie van die kookvloeistof om 'n pasta te vorm; roer by die sous en kook dit deur net voor opdiening.

Geelrys

Ek het by die ontslape Fatima Sydow geleer om 'n klontjie botter en 'n lepeltjie bruinsuiker by my geelrys te roer en nou is dit vir my die lekkerste manier! Ek hou van klewerige jasmynrys en gebruik 'n raps minder water as die norm. Jy kan natuurlik jou oordeel of die aanwysings op die rys se verpakking volg vir die water/rys-verhouding met die onderstaande geurmiddels by.

Meng 250 ml jasmynrys, 3 ml sout, 5 ml borrie, 3 kardemompeule en 1 kaneelstokkie in 'n mikrogolfveilige mengbak. Giet 375 ml kookwater oor, roer deur, bedek en kook in die mikrogolf vir 15 minute. Roer 15 ml ligte bruinsuiker en 30 ml botter versigtig deur die ryskorrels. Bedek weer en laat staan vir 5 minute. Maak die korrels los met 'n vurk en proe of dit na wense gaar is. Stoom vir nog 'n paar minute indien nodig met 'n ekstra skeutjie kookwater by. Sit warm voor.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM