- 8 - tomahawk-lamstjops
- 15ml - bruinasyn
- 10ml - koljandersaad, gestamp
- 2.5ml - witpeper
- - ’n ruim knypie Maldonsout
- - KRUIESALSA
- - ½ rooi ui
- 60ml - mentblaartjies
- 60ml - pietersielie
- 60ml - dille of vinkelblaartjies
- 1 - knoffelhuisie
- 15ml - rooiwynasyn
- 15ml - olyfolie
1. Sprinkel die asyn oor die vleis en vryf oraloor met die speserye en sout. Laat die vleis in die braaibak staan om te marineer terwyl jy die vuur aansteek en die kruiesalsa maak.
2. Kap die ui, kruie en knoffel baie fyn met 'n skerp mes en meng dan met die asyn en olyfolie, of gebruik jou staafmenger om alles saam fyn te maak as jy hou van 'n gladder kruiesous.
Proe, en geur na smaak met sout en peper. (Ek voeg 'n groot rooi jalapeño-rissie by die sousie vir 'n bietjie byt.)
Skep in 'n bakkie en hou eenkant.
My tuin is vol vinkel, pietersielie en ment, maar jy kan ook speel met vars koljander en basilie as jy verkies. Die ment se geur werk goed saam met al hierdie sagte kruie.
3. Braai nou die tjops oor warm kole tot so gaar soos jy daarvan hou en sit dit voor met die kruiesous.
Ek hou daarvan om die tjops eers regop langs mekaar te hou en die vet bietjie uit te braai voor ek die kante skroei. En, voor ek die vleis van die hitte af haal, hou ek die tjoppies weer bymekaar met die beenkant na die kole om seker te maak die vleis teen die been is heerlik bros gebraai.















