Kos + wyn

Enchiladas met kaas: Kampkos met Mexikaanse flair

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 2 - eetlepels olyfolie
  • 1kg - maalvleis
  • 1 - rooiui, gekap
  • 1 - knoffelhuisie, gekap
  • 1 - pakkie (50 g) tamatiepasta
  • 2 - blikke (400 g elk) rooi nierbone, gedreineer
  • 30g - Old El Paso-speserymengsel (of jou gunsteling- Mexikaanse speserymengsel)
  • 8 - middelslag-tortillas
  • 1 - koppie gerasperde mozzarella
  • - Vir die sous
  • 3 - eetlepels botter
  • 3 - eetlepels meel
  • 1 - koppie warm hoenderaftreksel
  • 1 - koppie warm melk
  • 1 - koppie suurroom

1 Verhit die olie in 'n swaarboompan en braai die maalvleis tot mooi bruin. Breek die klonte deurgaans met 'n roerspaan om die korrels klein te hou. Voeg die ui en knoffel by en braai vir nog 'n paar minute. Voeg die tamatiepasta, bone en speserye by en braai vir 10 minute terwyl jy intussen die sous maak.

2 Smelt die botter in 'n kastrolletjie en klits die meel daarby in. Braai die roux vir 'n paar minute tot skuimerig. Klits nou die melk en aftreksel in 'n dun straaltjie by - dit keer dat die sous klonte vorm. Verhit tot kookpunt en laat dit vir 'n paar minute prut. Hou aan met klits totdat die sous dik is. Verwyder van hitte en klits die suurroom by.

3 Voorverhit die oond se rooster-element. Smeer 'n groot oondvaste bak met 'n bietjie olie en skep 'n derde van die sous in 'n eweredige laag in. Verdeel die maalvleisvulsel tussen die tortillas, rol elkeen styf toe en rangskik hulle met die naatkante na onder in 'n enkellaag bo-op die sous.

4 Giet die res van die sous bo-oor die deegrolle en strooi die kaas oor. Bak onder die roosterelement totdat die kaas borrel. Sit voor met guacamole en tamatieslaai.

Johané Neilson | Foto: Shelley Christians