Kos + wyn

Moedersdag-wenresep: Maklike ertjie-frittata in die lugbraaier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 6 - eiers
  • ½ koppie - roomkaas
  • - sout en peper
  • 1 koppie - bevrore ertjies, ontdooi en drooggeklad
  • 1 eetlepel - gekapte sagte kruie (soos vinkel, pietersielie en kruisement)
  • 1 rolletjie (100 g) - sagte roomkaas of bokkaas, in skyfies gesny
  • ½ koppie - gerasperde kaas (ek verkies cheddar)

Lugbraaiertemperatuur 180 °C

1 Voer die mandjie van jou lugbraaier met ’n papiervoering van 20 cm uit (ek gebruik die Philips XXL-lugbraaier) en spuit dit met kleefwerende kossproei.

2 Klits die eiers en roomkaas saam tot glad en geur na smaak met sout en peper. Meng die ertjies en kruie by en giet die mengsel versigtig in die bakpapier binne-in die lugbraaier. Rangskik nou die skyfies sagte kaas eweredig bo-op en strooi die gerasperde kaas oor.

3 Lugbraai vir 15 minute teen 180 °C. Laat staan die lugbraaier toe vir nog sowat 5 minute. Ek hou nie van my eiers drooggebak nie, maar wil terselfdertyd steeds ’n mooi skyf uit die frittata kan sny. As jou frittata nog nie heeltemal gestol is nie, bak dit vir nog ’n paar minute.

4 Lig die frittata versigtig met bakpapier en al uit die lugbraaier tot op ’n skoon kapplank en sny in skywe. Dis heerlik saam met warm roosterbrood.

Geen lugbraaier nie?

Verhit ’n skeutjie olyfolie in 'n 22 cm- oondvaste pan (verkieslik kleefbestand). Giet die eierbeslag in die pan en braai dit oor ’n lae hitte.

Wikkel die eier af en toe met ’n spaan los van die pan se kante en bodem sodat die eier wat nog rou is, onder die gaar eier kan inloop.

Doen dit vir ’n paar minute, stip dan die sagte én gerasperde kaas oor, sit die deksel op en braai die frittata stadig vir nog 5 minute.

Verwyder die deksel en rooster die frittata onder jou oond se voorverhitte roosterelement totdat dit deurgaar en die bokant mooi opgepof en goudbruin is.

Johané Neilson | Foto: Ed O’Riley

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM